Soorte resepte:

Resep: Bobotie-muffins

Bobotie-muffins. (Foto: Lapa Uitgewers)

Hier is nou vir jou ʼn absolute staatmaker om in die vrieskas gereed te hê. Die vleis vries uitstekend sonder die eiermengsel en binne ʼn paar minute kan jy boonop die heerlikste bobotie-muffins voorsit.

Lewer 12 porsies

Bestanddele:

  • 1 ui, grofgekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 15 ml gemmer, fyngerasper
  • 500 g beesmaalvleis
  • 25 ml kerrie
  • 5 ml borrie
  • 20 ml appelkooskonfyt
  • 100 ml pitlose rosyne
  • 125 ml beesvleisaftreksel
  • 5 ml souspoeier (Bisto)
  • 30 ml blatjang
  • 1 sny brood, gekrummel
  • lourierblare in stukkies gebreek

Metode:

  1. EIERMENGSEL: Klits 2 eiers en ongeveer 100 ml melk tot goed gemeng.
  2. Verhit botter of kookolie en soteer die ui, knoffel en gemmer.
  3. Voeg kerrie, borrie en appelkooskonfyt by. Roer en braai liggies.
  4. Voeg res van die bestanddele by en prut oor lae hitte tot maalvleis net gaar is.
  5. Skep in muffinpannetjies en druk ʼn klein stukkie lourierblaar in mengsel.
  6. Bedek met foelie en bak vir ongeveer 15 minute in voorverhitte oond van 180 °C. Haal uit oond, giet eiermengsel oor en bak verder totdat eiermengsel gestol en ligbruin bo-op is.
  7. Bedien met geelrys en rosyne, skywe piesang en blatjang of gebakte aartappel en groente.

WENK: Skep in gesmeerde oondskottel en volg res van die metode. Vries goed sonder eiermengsel. Ontdooi en skep in skottel, giet dan eiermengsel oor en bak.

Bron: Marilyn kuier en kook
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.