Soorte resepte:

Resep: Hoender-tagliatelle

Hierdie heerlike pasta sal die winterkoue ʼn bietjie laat wyk.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 250 g (½ pak) tagliatelle
  • bietjie olie
  • 250 g (1 pak) sampioene, in skyfies gesny
  • 6 hoenderborsies, ontvel, ontbeen en in blokkies gesny
  • 2,5 ml droë Italiaanse kruie
  • knippie droë salie
  • knippie sout en varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml whiskey
  • 250 ml gerasperde Cheddarkaas
  • 30 ml fyngerasperde Parmesaankaas
  • 30 ml blatjang
  • 250 ml room

Metode

  1. Kook die tagliatelle in borrelende soutwater waarby ʼn bietjie olie gevoeg is tot net gaar. Dreineer en roer nog ʼn bietjie olie by sodat die pasta nie aanmekaar kleef nie. Bedek en hou eenkant.
  2. Verhit olie in pan en soteer die sampioene daarin vir 3 minute. Voeg die hoender by en soteer tot gaar.
  3. Voeg die kruie, salie, sout en peper by en soteer nog ʼn bietjie.
  4. Voeg die whiskey by en laat kook sodat die alkohol kan verdamp.
  5. Roer die kase, blatjang en room by.
  6. Voeg die pasta by die sous. Roer deur en laat prut met die deksel op tot warm.
  7. Sit dadelik voor.

Bron: Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3 deur Marlo Carstens

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.