Soorte resepte:

Resep: Romerige hoendersop

Romerige hoendersop (Foto: Lapa-uitgewers)

“Niks is so bevredigend en koesterend soos goeie hoendersop nie. Dit is basies ’n drukkie-van-jou-ma in ’n bakkie! Hierdie sop is natuurlik baie meer voedsaam danksy die hoender en hoër proteïengehalte. Dit is wonderlik, romerig, ryk en geurig – nes jou ma!” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 2 e botter
  • 1 kg hoenderstukke (met vel en been)
  • 1 bruinui, gekap
  • 1 selderystingel
  • 3 groot wortels, in halwe skywe gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyn gekap
  • 1 k droë witwyn
  • 1,5 liter goeie gehalte hoenderaftreksel
  • 2 lourierblare
  • 1 k ertjies
  • 250 g bruinsampioene, in kwarte gekap
  • 250 ml room
  • varsgemaalde sout en peper
  • vars koljanderblare of ’n knippie rooipeper

Metode

  1. Smelt die botter in ’n groot soppot en braai die hoenderstukke tot goed bruin oor matige hitte.
  2. Voeg die gekapte ui, seldery, wortels en knoffel by en braai vir nog so 5 minute.
  3. Voeg die witwyn by en laat weer, sonder ’n deksel, verder braai tot die wyn half afgekook het.
  4. Voeg die hoenderaftreksel en lourierblare by en laat die sop vir 20 minute oor ’n lae hitte prut sodat die hoender gaar kan word.
  5. Haal die hoender uit die pot en laat dit effe afkoel sodat jy die vel en bene kan verwyder.
  6. Plaas die hoendervleis terug in die sop. Voeg die ertjies, sampioene en room by en laat vir nog 10 minute prut. Gebruik ’n vurk om die hoendervleis liggies uit mekaar te roer. Geur met varsgemaalde sout en peper.
  7. Dien op met vars koljanderblare of ’n knippie rooipeper vir ’n skop.

Wenke:

  • Moenie die bene in die pot probeer verwyder nie omdat dit verskriklik moeilik sal wees om die fyn beentjies uit te haal. Plaas eerder die hoenderstukke op ’n snybord en gebruik ’n skerp mes en vurk om die hoendervleis van die bene te verwyder.
  • Omdat hierdie sop langer neem as die ander, maak ek gewoonlik sowat 5 liter en vries dit dan.

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.