Soorte resepte:

Resep: Stokvis-croustades

Stokvis-croustades. (Foto: Lapa Uitgewers)

Geniet hierdie visgereg saam met ʼn heerlike, vars slaai.

Lewer 6 porsies.

Bestanddele

  • 6 stywe wit- of bruinbroodrolletjies

Vulsel

  • 60 ml botter
  • 6 sprietuie, gekap
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 1 geel soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
  • 100 g knopiesampioene, in skyfies gesny
  • 400 g stokvisfilette, ontvel en in blokkies gesny
  • 1 lourierblaar
  • 30 ml koekmeel
  • 250 ml room of melk
  • 15 ml gekapte vars pietersielie (opsioneel)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • takkies pietersielie vir garnering

Metode

  1. Sny ʼn dun snytjie van die bokant van elke broodrolletjie af en hol die broodrolletjie uit.

Vulsel

  1. Verhit 30 ml van die botter in ʼn braaipan en soteer die sprietuie en soetrissies vir ongeveer 8 minute.
  2. Voeg die sampioene, vis en lourierblaar by en soteer 6 minute of tot die vis gaar is. Hou dit warm.
  3. Smelt die res van die botter in ʼn kastrol en roer die koekmeel by. Roer aanhoudend vir ongeveer 2 minute om ʼn pasta te maak. Roer die melk geleidelik by en laat prut tot dit verdik het.
  4. Voeg die pietersielie en geurmiddels by.
  5. Meng die sous met die vismengsel en skep dit in die broodjies (croustades).
  6. Garneer met pietersielietakkies en sit met ʼn gemengde slaai voor.

Bron: Sakpasgeregte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.