Soorte resepte:

Resep: ‘Tiaan proe’ se vinnige piekelvis, hoendergereg en Paasbolletjies

Vinnige piekelvis (foto: verskaf)

Hierdie resepte uit Tiaan proe is pasgemaak vir ʼn Paasfeesmaal.

Vinnige piekelvis

Bestanddele

  • 1 kg stokvis
  • sout en peper na smaak
  • koekmeel vir braai
  • 1 groot ui in skywe gesny
  • 3 wortels in baie dun skyfies gesny, dink koperpennieslaai
  • 1 e borrie
  • 2 e kerriepoeier
  • ʼn paar peperkorrels, heel
  • 2 kruienaeltjies, heel
  • 2 lourierblare
  • 250 ml wit wynasyn
  • 125 ml suiker
  • 2 e mielieblom

Metode

  1. Plaas vis op bakplaat, geur met sout en peper. Sprinkel met meel en rol sodat die filette goed bedek is.
  2. Braai nou die filette in ʼn bietjie olie tot effens bruin maar nie oorgaar nie. Verwyder uit die pan.
  3. Voeg die uie en wortels in die pan en braai effens. Voeg nou die kerrie en borrie by asook die heel speserye, en braai ʼn bietjie.
  4. Voeg die suiker en asyn by.
  5. Laat alles lekker kook. Verdik die mengsel met ʼn klein bietjie mielieblom wat met water aangemaak is. Pas op vir té veel.
  6. Plaas die stukke vis terug in die pan en bedek met die sous en uie. Verwyder van die hitte en laat afkoel.
  7. Plaas in die yskas en eet sodra koud.

Kleinhoendergereg (Foto: verskaf)

Kleinhoendergereg

Bestanddele

  • 1 klein hoender per persoon
  • 2 blokke botter van 500 g elk vir die posjering
  • 2 takkies roosmaryn
  • 2 takkies tiemie
  • 2 e paprika
  • sout en peper na smaak
  • 1 t fennelpoeier
  • 1 ℓ dik volroomjogurt vir die labne
  • olyfolie en sout en peper om die labne te geur
  • 1 potjie groen vye
  • 1 klein pers kool, gekerf
  • 100 ml wit wynasyn
  • 50 ml olyfolie
  • sout en peper na smaak
  • gekapte pietersielie
  • 1 koppie koeskoes geweek in 1 koppie groenteaftreksel

Metode

  1. Sny die rûe van die hoenders om sodoende spithoenders te vorm.
  2. Verhit die botter by ʼn lae hitte met die kruie. Die botter moenie kook nie.
  3. Plaas nou die hoender daarin vir so 20 minute totdat die hoender gaar is. Laat in die botter om effe af te koel.
  4. Verwyder die hoender van die botter en plaas op ʼn bakplaat.
  5. Meng die paprika, sout, peper en fennelpoeier saam en smeer op die hoender.
  6. Verhit ʼn hibachi of maak ʼn vuur en plaas die hoender daarop net om ʼn bietjie kleur en tekstuur te kry.
  7. Maak ʼn vars slaai deur die kool, asyn en olie saam te meng. Geur met sout en peper. Laat effe staan.
  8. Maak die labne deur die dik volroomjogurt met die sout te meng en in ʼn doek vir om en by ʼn dag te hang. Wanneer die jogurt ʼn tekstuur soortgelyk aan dié van maaskaas ontwikkel het, kan die jogurt verwyder en verder gegeur word met olyfolie en peper.
  9. Bedien die hoender met lepels vol labne wat gegeur is met olyfolie, sout en peper en gekapte pietersielie. Sit stukkies groen vye op en bedien saam met die slaai en gewone koeskoes.

Paasbolletjies (Foto: verskaf)

“Brioche”-Paasbolletjies

Bestanddele

  • 2 koppies louwarm melk
  • 1 koppie suiker
  • 1 sakkie kitsgis
  • 6 groot eiers
  • 1 t vanielje-ekstrak
  • 6 koppies meel, plus ekstra
  • 1 t “Five-spice”-mengsel
  • 1 t kaneel
  • ½ k gemengde vrugtekoekmengsel
  • 200 g koue botter in blokkies
  • heuning vir bo-op
  • ʼn bietjie meel en water vir die kruis, in ʼn pasta gemeng

Metode

  1. Kombineer die melk, suiker, gis, eiers en vanielje saam in ʼn beker.
  2. Plaas die meel, speserye en vrugtekoekmengsel in die mengbak van ʼn menger.
  3. Voeg ¾ van die nat mengsel by die meel en verwerk met die deeghaak, voeg die res bietjie vir bietjie by totdat mooi elastiese deeg vorm.
  4. Verwerk in die menger tot die deeg mooi glad raak. Voeg die botter bietjie vir bietjie by tot alles in die deeg ingewerk is.
  5. Plaas die deeg in ʼn bak om te rys tot dubbel in volume.
  6. Keer uit op meelbestrooide oppervlak en verdeel in balletjies.
  7. Plaas op bakplaat met spasies tussenin om plek te laat vir rys.
  8. Laat sowat 20 minute rys of tot die balletjies weer in grootte verdubbel het.
  9. Spuit die kruise op die balletjies en bak in voorverhitte oond by 160 ˚C tot ligbruin en gaar.
  10. Verf die warm balletjies met heuning en laat effens afkoel.
  • Tiaan proe is elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.