Soorte resepte:

Wagyu sorg vir smaaklike, gesonde vleis

Wagyu-vleis (Foto: Pixabay)

In ʼn onlangse Suid-Afrikaanse studie deur prof. Anton Hugo, ʼn vleiswetenskaplike aan die Universiteit van die Vrystaat, het Wagyu-vleis talle gesondheidsvoordele. Dit stem ooreen met internasionale studies wat al oor die vleis gedoen is.

Die volgende is bevind:

  • Wagyu-vleis bevat meer “marmering” as enige ander vleis in Suid-Afrika. “Marmering” dui op die klein spikkels vet wat tussenin die spierweefsel voorkom. Dit laat toe dat die vet in die vleis in smelt, en skep ʼn botteragtige tekstuur wat ryk en sappig is.
  • Wagyu het sewe keer meer mono-onversadigde vette per 100 g as gewone beesvleis wat in Suid-Afrika verkoop word. Die prominentste vetsuur wat in Wagyu-vleis voorkom, is oleï Dit is ook die hoofvetsuur in avokado’s en is daarom geskik vir ʼn gesonde dieet.
  • Wagyu-vleis is buitengewoon sag in vergelyking met ander vleis.

Prof. Stephan Smith, ʼn vleisnavorser van Texas in die VSA, het gesê die rede hoekom Wagyu so besonders is, is omdat dit die geur en sappigheid verskaf waarna vleisliefhebbers smag, hoewel dit ook die gesondheidsvoordele inhou wat ʼn gesonde dieet vereis.

Wat is Wagyu-vleis?

Wagyu is die generiese naam vir Japannese beesvleis. Hierdie diere was eens trekdiere wat gebruik is in Japannese landbou en die vleis is heel waarskynlik slegs deur die keiser, sy familie en Samurai-vegters geëet. Wagyu word deur baie mense beskou as die beste vleis ter wêreld.

Hoeveel kos Wagyu-vleis?

Die beste vleis in die wêreld kom teen ʼn stewige prys. Dié vleis kan jou maklik sowat R3 000 per kilogram uit die sak jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mauritz ·

Dit lyk baie lekker maar is ongelukkig te duur vir my. Ek sal egter graag wil weet wie was die “Samaria-vegters” wat so bevooreg was om dit te kon eet.

Megan Swart ·

Dagsê Michael 1
Dis inderdaad Samurai. Ons vra om verskoning vir die tikfout. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Scalla ·

n Vetgevoerde jersey os gee dieselfde resultate teen n fraksie van die opgeblaaste prys, lyk ook of die geelvet ingeweef is en die beste biltong wat jy kan kry.

Danie ·

Hierdie is een dié belaglikste produkte van ons tyd. Jy moet sien hoe lekker “marmereer” ons beesvleis! Ons maal dit met net genoeg vet om nie droog te wees nie….dan maak ons frikadelle of “hamburger patties” daarmee! Weet julle hoe sag, sappig en geurig is dit? En so gesond, want ons eet ‘n bietjie vars avokado, olywe, groente en slaai …drink ons visolie pille en op die ou end het ons +- R2900 van die R3000/kg gespaar! Wat nog meer belaglik en eintlik skandelik is, is dat dit geadverteer woord asof dit heel bekostigbaar is vir ‘n spesiale bederfie so nou en dan….en dit in ‘n tyd waar baie mense met minder as R3000 se kruideniersware moet klaarkom vir ‘n hele maand! Nee, wat gewone bees, wild, skaap, vark, vis en hoender is meer as genoeg vir ons behoeftes.

Vriendelike Frikkie ·

MM, die ” genetiese naam” moet dalk “generiese naam” lees?

Megan Swart ·

Dagsê Bramaputa
Dankie vir jou boodskap. Dit moet inderdaad “generiese naam” wees. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis.
Megan
nms Maroela Media

Cherokee ·

Die ‘klein spikkels vet’ laat my dink aan die maalvleis met wit spikkels vet tussenin en verkoop word as ‘maer vleis’.

koos10 ·

Teen daai prys hou ek totaal en al verby.
‘n Mens sal sweer dat daai beeste in ‘n privaat hospitaal dood is!

James ·

Hallo al julle goeie mense
Ek is self n WAGYU boer. Wil net duidelik maak dat die vleis op SuidAfrikaanse winkel rakke beskibaar is @ tussen R100 tot R500 per kg afhangende van watter snitte jy kies.
Dit is ook die enigste beesvet (marmering) wat @ 37 grade smelt ander rasse se vet begin eers smelt teen 44 grade.
Dis hoekom die smaak so ongelooflik goed vrygestel word.
Dit vat ons 18 maande na speen om die diere stadig op n hormoonvrye, anti-biotika vry en op die veld op natuurlike manier groot te maak. Ander vleis word binne 4 maande geproduseer en dis al rede hoekom die vleis duur moet wees. Verskil is jy eet ELKE keer n lekker steak wat boonop nog wetenskaplik bewys gesond is vir jou en jou familie.
Hoop jy kan n lekker stukkie in die hande kry en geniet dit terdee. #beyondbeef wagyu groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.