Soorte resepte:

Waterblommetjiepot vir ‘Arendsvlei’ se Sherman Pharo

Martelize Brink se resep vir ‘n Afrikaanse waterblommetjiepot. (Foto: Verskaf)

Martelize Brink gesels met sepiester Sherman Pharo oor sy Khoikhoi-herkoms. Hulle kuier in die kombuis en langs die vuur, en maak ’n waterblommetjiepot en braai snoek.

Hier is Martelize se resep (genoeg vir 4 tot 6 mense) vir ’n heerlike waterblommetjiepot. Meer Afrikaans kan ’n mens nie kry nie.

Bestanddele

  • 2 kg lamskenkel
  • 500 g lamsribbetjie, opgesny
  • sout
  • 2 uie, opgesny
  • 4 knoffelhuisies, opgesny
  • 1 e fyn komyn
  • 1 e witpeper
  • 2 k lam- of hoenderaftreksel
  • 6 mediumgroot aartappels, in blokkies gesny
  • 250 g witkool
  • 1 kg waterblommetjies
  • 1 hand vol pietersielie, gekap
  • 1 suurlemoen

Metode

  1. Sprinkel sout oor die lamsvleis.
  2. Braai die lamsvleis tot goudbruin in die pot. Doen dit in sarsies, anders gaan jy sukkel om kleur te kry.
  3. Verwyder die lamsvleis en hou eenkant.
  4. Braai die uie en knoffelhuisies tot goudbruin.
  5. Plaas die lamsvleis terug in die pot.
  6. Sprinkel die komyn en witpeper bo-oor en roer mooi deur.
  7. Giet die aftreksel oor die vleis en prut vir 1 uur.
  8. Voeg die aartappels, kool en helfte van die waterblommetjies by die pot en prut vir 40 minute.
  9. Voeg die res van die waterblommetjies en pietersielie by en prut tot al die waterblommetjies gaar is.
  10. Sprinkel suurlemoensap bo-oor. Bedien op rys.

(Foto: Verskaf)

Het jy geweet

Die van “Pharo” kom uit die Bybel, en verwys na Moses se onderhandelings met die Egiptiese farao om die Israeliete te bevry. Sherman se oupagrootjie, Klaas Pharo, was ’n San wat verlief geraak het op die dogter van ’n wit boer naby Dassenberg, met die gevolg dat die paartjie Kaap toe moes vlug en hulself in Elsiesrivier gevestig het.

  • Martelize se stamtafel is Woensdag om 17:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Evelyn ·

Hoendertande is so kaars soos waterblommetjies hier in Pretoria! Hoe lus ek tog vir hierdie bredie.

Lakemalawi ·

Ek ook. Ek kwyl nou sommer bo-oor my keyboard. Ai, so jammer dit word nie meer geblik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.