Agri SA help Moladora-Trust in appèl

Grondbesetters se weidingsregte het ‘n tameletjie geword ná die Moladora Trust v Mereki en ander se uitspraak. (Foto: Du Preez de Villiers)

ʼn Omstrede uitspraak ten gunste van grondbesetters wat vee sonder toestemming op ʼn plaas aangehou het, het Agri SA laat besluit om die grondeienaar in sy appèlsaak by te staan.

In die saak, Moladora Trust v Mereki en ander, het regter Jane Cowen in November verlede jaar beslis dat die Mereki-kinders nie hul vee van die plaas Wildebeeslaagte in Noordwes hoef te verwyder nie. Haar rede was dat die tydsverloop voor die saak aangemeld is, wel toestemming van die eienaar impliseer.

ʼn Lid van die trust, Marius Nel, het aangevoer dat hy toestemming aan die ma, Meriam Mereki, ʼn sogenaamde ESTA-grondbesetter, gegee het om vyf beeste aan te hou. Dit was egter nie aan haar kinders oordraagbaar nie. Die beeste het intussen tot nege vermeerder.

In 2018 het Nel ʼn kennisgewing aan die Mereki-kinders beteken om hul vee binne 30 dae te verwyder en terselfdertyd die kennisgewing aan die hof gelewer, maar daar het 19 maande verloop voor daar enige reaksie was.

Die saak was onbestrede omdat die respondente nie opgedaag het nie.

Volgens regskenners is die uitspraak uiters problematies en strook dit nie met die bepalings van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, wet nr. 62 van 1997 (“ESTA”), nie. Hulle is ook van mening dat dit ʼn presedent sal skep wat ernstige probleme vir boere en private eiendomsreg in Suid-Afrika inhou. Die uitspraak het ook gewys dat dit baie moeiliker is as wat die proses voorheen was om van vee ontslae te raak wat sonder toestemming aangehou word.

Intussen het die raad van direkteure van Agri SA besluit om die applikant finansieel in sy appèlaansoek te ondersteun.

Die applikante in die appèl is van mening dat regter Cowen in die Moladora-saak versuim het om die presedente van die hoogste hof van appèl, wat reeds in die Adendorffs-boerderye en Loskop-landgoedboerdery gestel is, behoorlik toe te pas. In die Moladora-uitspraak bevind regter Cowen dat hierdie uitsprake bindend is op die grondeisehof, maar omskep nietemin die reg om vee op die eiendom, wat ʼn persoonlike reg is wat met toestemming verkry word, volgens ʼn reg ingevolge ESTA, te laat wei.

In ʼn nuwe saak voor die grondeisehof, die Elma Mostert Trust v Tebele Isaac Mofokeng en een ander (“Elma Mostert Trust-saak”), maak die grondbesetter staat op die uitspraak in die Moladora-saak om dit verder uit te brei. In die Elma Mostert Trust-saak word aangevoer dat die verwydering van enige vee gedoen moet word ingevolge ESTA. Deur te steun op die uitspraak in die Moladora-saak, kan dit verreikende gevolge hê indien dit onbetwis toegelaat word en as ʼn presedent in toekomstige sake gebruik word.

Agri SA sê dié eskalasie beklemtoon die noodsaaklikheid om die uitspraak van regter Cowen in Moladora om te keer. “Dit is noodsaaklik dat die Moladora-uitspraak nie ʼn presedent word nie,” sê Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid: Grond.

“Agri SA het ʼn onafhanklike regsmening ingewin oor die Moladora-saak en op grond van hierdie kundige leiding het Agri SA besluit om finansiële ondersteuning aan die appellant te bied. Die volhoubaarheid van boerdery in Suid-Afrika en die beskerming van die land se voedselsekerheid is van uiterste belang vir Agri SA en ons sal ondersteuning bied – hetsy wetlik of andersins – waar nodig om die belange van die landbousektor te beskerm,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

My opinie is laat niemand op jou grond toe sonder toestemming, meganiseer en doen jou eie werk,en hou die sambok naby vir die kansvatter wat jou perseel betree vir watter rede ook al.

SjN ·

Vroeer jare is toestemming verleen aan permanente plaaswerker wat daar woon beperk tot n sekere getal en het ontaard in n onding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.