Beskuldigings van gronddiefstal is laster – TLU SA

Henry Geldenhuys, president van TLU SA. (Argieffoto)

TLU SA sê hy is keelvol daarvoor dat hedendaagse boere steeds daarvan beskuldig word dat hulle die grond waarop hulle boer van ander afgerokkel het. Met die aanloop tot 14 September, wanneer die Onteieningswet van 2020 aan die Nasionale Vergadering voorgelê word, moet hierdie narratief in die kiem gesmoor word.

“Suid-Afrika staan weer voor ʼn groot keerpunt in sy geskiedenis met die besluit om die Onteieningswet aan die Nasionale Vergadering voor te lê, wat beteken dit kan in November reeds gepromulgeer wees,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

“Indien dié wetsontwerp deurgevoer word, gaan dit ʼn geweldige invloed op ons land se ekonomie hê soos al telkemale deur TLU SA uitgewys is.”

Die Grondwet bepaal dat “eiendom” nie tot grond alleen beperk word nie en hoewel die wet tans voorsiening maak dat onteiening sonder vergoeding tot grond beperk is, kan die beginsel verbreek word en dié bepaling later op alle ander eiendom van toepassing gemaak word.

“Dié stuk wetgewing is uiters kortsigtig. Wie sal enigsins belê in ʼn land waar die staat sodanige magte aan homself toe-eien? Met ʼn werkloosheidsyfer wat juis weens die ANC se transformasiebeleid weghardloop, is dit ʼn ope vraag hoe die regering die pad vorentoe sien ten opsigte van beleggingsvertroue. Dit is immer die beginpunt van ekonomiese groei. Ekonomiese groei is terloops die enigste wyse hoe die sosio-maatskaplike werklikheid wat elke dag vererger mettertyd opgelos kan word.”

Geldenhuys sê die beginsel van privaatbesitreg vorm die grondslag van welvaartskepping en moet tot elke prys beskerm word. Die weg wat die regering inslaan, het wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak.

“Elke inwoner van Suid-Afrika wat dit erns het oor die toekoms van hul kinders sal hierdie drakoniese voorstel van die ANC, wat sy ontstaan te danke het aan ʼn emosionele geveg in ANC-geledere tydens sy vorige beleidskonferensie, met alle moontlike middele beveg.

“Dit is nou tyd om met groter verantwoordelikheid aan die toekoms te bou,” voeg hy by.

TLU SA stel die volgende twee aksies voor in die lig van die uitwerking van die Onteieningswet.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die tyd het aangebreek dat die hulp van die reg ingeroep moet word om die stukrag agter onteiening die nek in te slaan. “Die beskuldigings dat ons die grond gesteel het, is nou al so baie keer gebesig dat dit as die waarheid aanvaar word. Dit is egter naamskending om betrokke partye valslik te beskuldig.

“Ons moedig ons ondersteuners aan om wanneer iemand sodanige aantyging maak, ʼn formele klag by die SAPD te gaan lê vir crimen injuria en versoek dat dit ondersoek moet word. Iets moet gedoen word om die leuen wat ongehinderd wyd verkondig word, nek om te draai.”

TLU SA wil hê mense moet saam gesels oor die invloed wat die Onteieningswet sal hê en om dit met die regering te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

james ·

crimen injuria!!!!!!! waar is jou verstand, wat dink jy gaan dit beteken dra ‘n vonnis van R30-00 of 30 dae gevangenis straf, as jy nie iets wat van waarde is om te sê nie, bly dan eerder stil

Braam ·

Die ANC is nou reeds meer as 40 jaar besig om die konsep van “onteiening” the propageer. Dis is dan veral gefokus op die boer se grond omdat hulle die meerderheid produktiewe plase besit. Wat die klomp, en veral hule onderstueners nie besef nie, is dat onteiening hul self op die ou einde in die “voet sal skiet”. Want ja, die ANC se hanteerders is nie gepla oor die grond nie, maar die uiteindelike doel is om die middelklas uit te haal ….. almal ongeag, taal, ras, kluer of skoen grootte. Die landbou organisasie moet wakker skrik, dit help nie om die ANC te dreig met voedsel tekorte nie, dit dan wat hulle ‘ultimately” wil he. Huh, hoe dan nou, en waarheen nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.