Besoekers uitgehonger vir Nampo Kaap

Die tekort aan en opberging van water was een van die hoofbesprekingspunte tydens Nampo Kaap. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Overberg was verlede week ʼn miernes van bedrywighede toe Nampo Kaap ná twee jaar se afwesigheid weer op Bredasdorp aangebied is. Dit is die derde landbouskou wat op Bredasdorp-park onder die Nampo-vaandel aangebied is.

Ondanks die reën wat die graanprodusente in die gebied so nodig het, het die sonskynweer oor die vier dae en die bekende geel kanola-landskappe saamgewerk om ʼn besondere ervaring te skep wat in ʼn uiters suksesvolle skou geëindig het.

Graan SA, met sy Nampo-handelsmerk, het saam met Bredasdorp-park 32 640 besoekers en meer as 500 uitstallers bymekaargebring. Dit is sy beste nog.

In vergelyking met Nampo Oesdag in Bothaville, wat in Mei vanjaar 73 000 besoekers en 800 uitstallers bymekaar kon kry en reeds 54 keer gehou is, is dit ʼn besondere prestasie.

 

Nampo Kaap was veilig in die hande van dié twee direkteure van Bredasdorp-park, Henk Aggenbach en Crystal van Wyk. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Henk Aggenbach, direksievoorsitter van Bredasdorp Park, het aan Maroela Media gesê die vier hoofgewasse in dié streek is koring, gars, hawer en kanola. Verder is daar ook wolskape, ʼn bietjie bees en dan ʼn redelike groot blombedryf, maar die wingerd-, vrugte- en rooibosteebedryf stel ook baie belang om hul teenwoordigheid daar uit te brei.

“Boere in die suide van Suid-Afrika se produksietye en werktuie verskil van die noorde en daarom is hierdie skou vir Graan SA so belangrik,” sê hy.

Daarbenewens is die ekonomiese inspuiting in die gebied elke jaar uiters waardevol. Tydens die skou is daar tussen R7 miljoen en R10 miljoen in dié streek aan verblyf, kos en brandstof bestee. Alles vir die skou is sover moontlik plaaslik aangekoop en ʼn hele paar ton vleis het hier deurbeweeg.

“Ons sluit die skou om 17:00 sodat besoekers agterna eerder die plaaslike ondernemings kan ondersteun,” sê Aggenbach.

Crystal van Wyk, direksielid en mede-skoukoördineerder, sê die vraag na verblyf was hoog, maar sy kon gelukkig met die toerismekantoor op Bredasdorp saamwerk wat ʼn databasis van al die gastehuise het. “Hulle het die stormloop baie goed hanteer en die hele dorp was vol, ons sal dit graag weer deur hulle wil doen.

“Die invloed van so ʼn skou op die platteland is ongelooflik. Iemand uit Struisbaai het vir my gesê jy sal nie weet wat dit alles vir hulle beteken nie. Vir die eerste keer was al 30 haar eenhede vol bespreek,” sê sy.

 

Altesame 32 000 mense het die skou oor die vier dae bygewoon. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Beurtkrag was ʼn groot beplanningsfaktor en Aggenbach sê hulle het ʼn 500 kVa-kragopwekker geïnstalleer wat inskop as die krag afgaan. “Maar daar was pyne; die park se infrastruktuur is 15 jaar oud en dit was moeilik om die masjien met die bestaande kragnetwerk te sinkroniseer. Vir volgende jaar sal ons ʼn elektriese ingenieur kry om die park se elektriese stelsel oor te doen, sodat ons volgende jaar kommerloos kan skou hou.

“Die hoeveelheid water wat op só ʼn skou verbruik word, het die dorp se waterdruk heeltemal laat val, maar ʼn plaaslike boer, Jan-Hendrik Human, het ʼn tenkwa gereël en hou ons tenks vol.”

Toit Wessels, Graan SA se assistentbestuurder van Nampo, was ook heel in sy skik met die skou.

“Dit was wonderlik om ná ʼn afwesigheid van twee jaar weer ʼn Nampo Kaap te kon aanbied,” sê hy.

“Die positiewe terugvoer van die uitstallers wat saketransaksies betref, bly egter steeds een van die belangrikste en mees akkurate maatstawwe vir sukses en die uitstallers het vir seker baat gevind by dié hoogtepunt op die Kaapse landboukalender.”

Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, sê besoekers aan Nampo Kaap was uitgehonger vir graanpraatjies en saamkuier en het behoorlik uitgesien om dit wat landbou bied, te kom beleef.

“Graan SA het positiewe en waardevolle gesprekke met Allan Winde, Wes-Kaapse premier, en dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, gehad.

 

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR van landbou, en Henk Aggenbach, direksievoorsitter van Bredasdorp-park, deel ʼn ligte oomblik tydens ʼn skaapkop-ete. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Die waarde vir produsente om nuwe tegnologie op een platform te sien en maklik te vergelyk, kan nie onderskat word nie. Nuwe idees vir aanpassings en nuwe ontwerpe is oral te vind en die netwerkgeleenthede met bestaande en nuwe lede en landbourolspelers se bestuurspanne is legio,” sê hy.

Maroela Media het tydens die skou meer gaan uitvind oor al die uitstallings, demonstrasies en gesprekke wat aan die voorpunt van landbou is.

Kenners het tydens die gewilde Nasie in gesprek-platform oor verskeie aktuele onderwerpe, soos  infrastruktuur, plattelandse herlewing, nuwe energie, ekonomiese struikelblokke, wintergrane en die uitdagings in die gars-tot-bier-bedryf, landelike veiligheid, die landboujeug, tegnologie en strategieë vir die toekoms, gesels en gedebatteer.

 

Tydens ʼn Nasie in gesprek-aflewering kyk rolspelers in die garswaardeketting mekaar in die oë oor die probleme wat in hierdie uitdagende bedryf ervaar word en oplossings word bespreek. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Elim-veldblomuitstalling was ʼn gesig om te aanskou. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Carrotech se eienaar, Arend Langer, sê hy is steeds hoogs in sy skik met sy Monosem-planters wat uit Frankryk kom.

“Monosem het die eerste lugdrukplanter gebou en die eerste een was in 1973 in Parys op skou. In die vroeë tagtigs het Monosem 800 planters per jaar in Suid-Afrika verkoop — dit was die enigste lugdrukplanter in daardie tyd en was goedkoop, want die rand was sterk. Vandag is daar baie ander mededingers wat dié ontwerp gebruik omdat dit die saad so akkuraat plaas.

Kyk:

“Ons moes wel die planter se raam versterk om dit teen die rowwe Suid-Afrikaanse toestande bestand te maak en omdat sommige boere nie so mooi na hul planters kyk nie …” spot hy.

“Ek het niks nuuts om te verkoop nie. Die demonstrasie-eenheid wat jy hier sien, is Monosem se tweedegenerasie-plantereenheid en is al 33 jaar oud, maar steeds ʼn markleier.”

Die BKB Merino Classic 2022 het sy belofte nagekom en die beste merino’s in Suid-Afrika onder een dak gehuisves. Dié nasionale skou wat Merino SA, die telergenootskap van die merinoras, aanbied, het 20 telers met 300 skape uitgenooi om in die 46 verskillende klasse geklas te word. Faktore soos ouderdom, gewig en lang of kort wol word in ag geneem.

 

Ten spyte van die bek-en-klouseer-epidemie is daar steeds 300 skape vir die BKB Merino Classic ingeskryf (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Daar is veronderstel dat skape van oor die land gebring word, maar die bek-en-klouseer-epidemie het die boere teruggehou. Twee boere uit Hanover en een uit De Aar het wel hul skape kom inskryf,” sê Willie van Heerden, bestuurder van Merino SA

Hy sê die Merino Classic het uit drie verskillende skoue ontwikkel. Twee daarvan is gestaak namate die bedryf by moderner tye aangepas het. Die versorgde skou is gestaak omdat die fokus van versorgde skape na produksieskape verskuif moes word. Die gemete skou het ook sy toepaslikheid verloor toe die bedryf die moderner Best Linear Unbiased Prediction- (BLUP-)waardes begin gebruik het, in plaas van om hul skape se eienskappe fisiek te meet.

Almaz is bekend vir sy saadskoonmaaktoerusting uit Oekraïne en Rusland. Hierdie masjien kan 250 ton saad, slegs met behulp van ʼn windblaser van klippies, stokkies, beskadigde pitte en kaf skei. Hier wys Allen McKay, bemarkingsdirekteur van Almaz, hoe dié eenvoudige aksie soveel geld en tyd kan spaar.

Kyk:

 

Nampo Kaap 2023 word vir 13 tot 16 September 2023 beplan en sal weer op Bredasdorp-park gehou word. Die bestuur sê met die moontlike toekomstige betrokkenheid van ander georganiseerde landbou-instansies, beloof die Nampo Kaap-platform om aan ieder en elk se behoeftes te voorsien – voorwaar dié landboutentoonstelling in die suide.

Aansoeke vir uitstallers wat wil deelneem aan Nampo Kaap 2023 open op 1 Februarie.

Graan SA sê hy spits nou met opgewondenheid sy aandag op die eerste Nampo Alfa, vee-, jag- en buitelewe-ekspo, toe wat van 29 September tot 1 Oktober 2023 by Nampo Park op Bothaville aangebied word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.