Boere kan baat by wysiging van noodbelastingvoordele

Foto ter illustrasie (Foto: Marcin Lewicki, Pixabay)

Die regering het aangekondig dat hy bykomende hulp vir die heropbou van ondernemings en die herstel van die ekonomie wil verleen. Dit sluit boere in wat weens die pandemie skade gely het.

Daarom het die nasionale tesourie dit goedgedink om die kriteria vir die aansporing vir indiensnemingsbelasting (ETI) vir die komende vier maande te wysig. Dié wysigings is vir kommentaar gepubliseer en kommentaar moet teen 28 Augustus ingedien word.

Verskeie ondernemings en werknemers word steeds negatief deur die Covid-19-pandemie beïnvloed, ondanks die onlangse verslapping van die nasionale inperkingsmaatreëls. Hierdie negatiewe gevolge word verder vererger deur die onlangse onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng, wat gelei het tot die vernietiging van heelwat ondernemings en infrastruktuur.

Maroela Media het vroeër berig dat heelwat plase in KwaZulu-Natal ook deurgeloop het.

Hierdie ondersteuningsmaatreëls is ook gemik op die kwesbaarste groep mense in die arbeidsmark.

Volgens Hortgro kan boere en pakhuise moontlik vir belastingvoordele kwalifiseer indien die nodige stawende dokumente ingedien word. Dit sluit in bewyse van die negatiewe impak wat Covid-19 op die onderneming gehad het.

Die tydelike veranderinge aan die ETI sluit in –

  • die verhoging van die bedrag van R1 000 tot R1 750 wat geëis kan word vir kwalifiserende werknemers in die eerste 12 maande van indiensneming;
  • die toelating van ʼn maandelikse eis oor die volgende vier maande van R750 vir kwalifiserende werknemers (18 tot 29 jaar oud) wat al langer as 12 maande in diens is;
  • Die toelating van ’n maandelikse eis van R750 oor die volgende vier maande vir werknemers tussen die ouderdom van 30 en 65; en
  • die toelating van ’n beperkte eis vir diegene wat weens die inperkings of onrus nie meer as 160 uur per maand kon werk nie.

Hierdie maatreëls sal vanaf 1 Augustus tot 30 November vanjaar geld.

Die belastingvoordele wat verleng word, vorm deel van die ramphulp-wet en is van toepassing op enige onderneming wat beperk was en/of bykomende koste tydens die inperking aangegaan het.

Die ETI was voorheen slegs van toepassing op jong mense in die ouderdomsgroep van 18 tot 29, maar dit is nou uitgebrei na die ouderdomsgroep van 30 tot 65.

Voorheen kon slegs twee keer per jaar hiervoor geëis word, maar met die moontlike wysigings kan dit kan nou oor die volgende vier maande (1 Augustus tot 30 November) maandeliks geëis word.

Daar is ook wysigings aan die

, 2020 en die Wet op Administrasie van Rampbestuurbelastingverligting, 2020 gemaak:

Die betaling van 35% van PAYE vir klein en mediumgrootte ondernemings (met ʼn omset van minder as R100 miljoen) kan ook nou vir drie bykomende maande uitgestel word sonder om enige boetes te betaal.

Dit kan oor ses maande in gelyke paaiemente aan SARS betaal word, beginnende 1 September. Die eerste betaling moet op 7 Oktober vanjaar gemaak word.

Dit beteken wel slegs ʼn korttermynkontantvloeivoordeel vir ondernemings en dus nie ʼn besparing op PAYE nie.

Om hiervoor te kwalifiseer, moet ʼn werkgewer vir belasting geregistreer wees.

Meer inligting kan hier bekom word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.