Bokboere het rede om fees te vier

Foto ter illustrasie. (Foto: Couleur, Pixabay)

Die kollig het onlangs op bokboere geval toe Saai ʼn Bokboerdag gereël het, juis om dié bedryf te vier en te bevorder. Tydens die geleentheid is twee inheemse veldbokke op die spit gesit en gaste is op bokmelkkaas en -roomys getrakteer.

Saai het vroeër met hul #GaanJagDag en Volstruisdag ʼn hand na dié twee bedrywe uitgesteek wat deur moeilike tye weens die inperking gegaan het. Saai het besluit om voor die einde van die jaar weer so ʼn dag te reël, maar die keer om grotendeels fees te vier.

“Ons wil graag begin om na verskeie landboubedrywe, veral dié wat nie so hoofstroom en bekend is nie, uit te reik om hulle bekend te stel,” het Francois Rossouw, hoof‑ uitvoerende beampte van Saai aan Maroela Media gesê. “Ons sal hierdie tipe dae dus volgende jaar meer gereeld aanbied.”

Die geleentheid is by die Buffelsfontein Beesboerdery-restaurant in Pretoria-Oos gehou.

CW Dreyer (SA Kalahari Red-klub), Alida Dreyer (SA Kalahari Red-klub), Jaco van der Merwe (SA Kalahari Red-klub), Stephanie Rolfe (Soutpansberg Veterinary Services), Douw Dry (SA Kalahari Red-klub), Antoinette Dry (SA Kalahari Red-klub), Ivan van Heerden (SA Kalahari Red-klub), dr. Theo de Jager (Saai), Nickey Small (Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging), Sanmarie Vermaak (Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging), Iné Bester (Saai), Gerhard Lourens (Inheemse Veldbok-telersgenootskap) en Andy Terblanche (RBT Med) het die Bokboerdag bygewoon. (Foto: Verskaf)

Gerhard Lourens, van die Inheemse Veldboktelersgenootskap, is vreeslik opgewonde oor wat die toekoms vir bokboere inhou en het die nuutste markneigings en syfers van dié bedryf met die gaste gedeel.

“Die vraag na kleinvee het tydens Covid-19 in die geheel gegroei en met dit bygesê, is daar steeds nie genoeg bokke vir die mark nie.

“Baie mense in die stad het ’n vooropgestelde idee oor bokvleis en hier staan ons vandag en mense kan nie glo dat dit nie ’n skaap op die spit is nie. Onder sekere mense heers daar ’n wanpersepsie dat bokvleis (chevon) glad nie gewild is nie, omdat ’n mens dit nêrens op winkelrakke aantref nie. Inteendeel, dit is juis die gewildheid van bokke wat veroorsaak dat daar nooit ’n surplus is om in die kommersiële vleismark in te stoot nie,” sê hy.

Maroela Media het vroeër berig dat boerbokvleis amper ʼn derde duurder as skaapvleis is.

Lourens en sy pa, Louis, boer met inheemse veldbokke net noord van Pretoria by Waterval en hulle het aan Maroela Media verduidelik waarom verbruikers nie vinnig bokvleis op winkelrakke te siene gaan kry nie.

“Die meeste van ons bokke gaan na KwaZulu-Natal toe waar die Zoeloes spesifiek 92% van die mark uitmaak. Hulle slag ʼn bok vir begrafnisse, tydens rituele en inisiasies, wanneer hulle goed wil doen in ʼn eksamen of wanneer hulle sleg gedoen het,” sê Gerhard.

Die ander 8% van die mark bestaan uit buitelanders, soos Malawiërs, Soedannese en Nigeriërs wat die land instroom.

Moslems maak ook ʼn gedeelte van die mark uit. Tydens hul Eid Mubarak-fees moet elke jong man wat volwassenheid bereik, ʼn tweetand‑ of ouer bokram slag wat geen gebrekke het nie. Dit verwys na Abraham in die Bybel wat sy beste kleinvee gekies het om vir God te slag.

“Ons is wel besig met ʼn projek om bokvleis te kommersialiseer en wil mense opvoed om die regte slag- en voorbereidingsmetodes te gebruik. Daar is ʼn persepsie dat bokvleis stink, maar dit kom van die gebruik van die Zoeloes af, wat die bok, pens en pootjies, in ʼn pot sit en kook. Dan kan die ware geure en karakter van die vleis nie tot sy reg kom nie,” sê Gerhard.

“Ons werk tans saam met die Landbounavorsingsraad en Ekim Wildlife en doen toetse op bokvleis om die wetenskap daaragter uiteen te sit; bewustheid oor die gesondheidseienskappe, soos die lae cholesterol en vette, van bokvleis neem toe, veral in Amerika.”

Gerhard Lourens boer met inheemse veldbokke by Waterval, net noord van Pretoria. (Foto: Du Preez de Villiers)

Bokboere in Suid-Afrika ervaar egter ook uitdagings, of dit nou die droogte in die Oos-Kaap is wat die sybokhaarboere knou, bek-en-klouseer wat inheemse bokke en uitvoer kniehalter of People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) wat bokboere gereeld in geheel teiken oor volhoubare en verantwoordelike boerderypraktyke. Die grootste “lekker” uitdaging is egter die tekort aan bokke vir hierdie groeiende mark.

“Baie mense dink sybokhaar kom van skape af. Dit is waarom ons elke geleentheid aangryp om bewusmaking en blootstelling van sybokhaar te bevorder. Daar is nog baie groeipotensiaal vir hierdie bedryf,” sê Sanmarie Vermaak van die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging.

“Daar is steeds baie uitdagings wat toekomstige boere verhoed om die bokmark te betree, maar ons werk daaraan om ons handelsmark uit te bou en om meer mense in te trek om hulle aan die ongelooflike ras bekend te stel,” beaam Alida Dreyer van SA Kalahari Red-klub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

donsie ·

daar is iks lekkerder as ‘n vet bokrib met sout , peper, asyn en koljander stadig gebraai op die kole nie, yum yum hoe kwyl ek nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.