Entstof vir snotsiekte binnekort ‘n werklikheid

ʼn Entstof teen snotsiekte sal die lewens van veeboere wat tussen wildplase boer, baie vergemaklik.

Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het ’n lisensie-ooreenkoms met die Moredun-navorsingsinstituut in Skotland onderteken om tegnologie aan te skaf wat die finale ontwikkeling, registrasie en produksie van ʼn entstof teen snotsiekte moontlik sal maak. Hierdie dodelike siekte het oor die afgelope dekades ernstige verliese vir veeboere beteken.

Snotsiekte is ’n aanmeldbare virussiekte wat onder beeste voorkom en waarvoor daar tans geen behandeling is nie. Dit word hoofsaaklik deur swart- en blouwildebeeste oorgedra. Dr. Peter Oberem, veearts en wildboer, sê: “Gesonde wildebeeste is die gasheerdier van die snotsiektevirus en word deur die lugweë vrygelaat as die dier onder spanning verkeer. Wanneer die dier se immuniteit onderdruk word, byvoorbeeld tydens kalwing of wanneer kalwers gespeen word, kan beeste binne ʼn kilometer daarvan aangesteek word. Simptome begin na ʼn maand of langer wys.”

Aangetaste diere ontwikkel ernstige longontsteking, wat asemhalingsprobleme tot gevolg het. Die dier versmoor uiteindelik in sy eie slym. Diere met gevorderde gevalle van snotsiekte word dikwels van kant gemaak om verdere lyding te voorkom.

“Hoewel beeste tydens hoërisiko-periodes van wildebeeste weggeskuif word, kan ʼn entstof bykomende beskerming vir beeskuddes bied, veral waar die skuif van diere nie moontlik is nie,” sê dr. Sello Maboe, veearts en tegniese bestuurder by OBP. “Die beskikbaarheid van ’n doeltreffende entstof sal dus ’n groot mylpaal wees in die bestryding van hierdie verwoestende siekte wat ’n ernstige probleem vir die veebedryf in Suid-Afrika geword het. Dit sal ook help om ’n gesonde verhouding tussen bees- en wildboere te bevorder en die spanning tussen die twee sektore te verlig. Voedselsekerheid sal hierby baat vind.”

Dr. George Russell, hoofwetenskaplike by die Moredun-navorsingsinstituut, sê: “Ons werk al meer as vyftien jaar aan ʼn entstof teen snotsiekte. Na afloop van suksesvolle eksperimentele en veldproewe in die Verenigde Koninkryk, Kenia en Suid Afrika, is Moredun verheug om hierdie vennootskap met OBP te sluit om dit verder vir gebruik in Afrika te ontwikkel.”

“Ons is daartoe verbind om nuutskeppende entstowwe vir algemene endemiese siektes onder vee te voorsien, waar dit ook al voorkom,” sê professor Julie Fitzpatrick, wetenskaplike direkteur van Moredun-navorsingsinstituut. “Hierdie entstof teen snotsiekte is ʼn eerste ter wêreld en daar word gehoop dat dit uitbrekings onder beeste sal verminder en boere in dié betrokke dele van Afrika se lewens sal verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.