Gesoute akademikus neem RPO-leisels oor

Prof Frikkie Maré is as die uitvoerende hoof van die RPO aangewys. (Foto: LinkedIn)

Prof. Frikkie Maré is as die nuwe uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) aangewys. Die aankondiging is vandag by die RPO se nasionale kongres gedoen.

Hy volg Gerhard Schutte op, wat in Junie vanjaar sy aftrede aangekondig het. Schutte het dié pos die afgelope 35 jaar beklee. Schutte word gereken as ʼn man wat die uitdagings en geleenthede binne die rooivleisbedryf met vaardigheid hanteer het. Hy was ʼn kampvegter vir die regte en belange van rooivleisprodusente en het gestreef na regverdige handelspraktyke, volhoubare boerderymetodes en verbeterde bedryfstandaarde.

Maré, ʼn landbou-ekonoom, is die afgelope 15 jaar betrokke by die Universiteit van die Vrystaat en dien tans as akademiese departementshoof: Landbou-ekonomie aan die fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe.

Hy het al telkemale getoon dat hy sy plek in die bedryf volstaan en beskik oor uitgebreide kennis oor die rooivleisbedryf, die waardeketting en die toepaslike strukture, en het ook die afgelope jare in sy rol by die universiteit as mentor vir menige student en kollega gedien.

Hy is ook al etlike jare by Plaas Media op konsultasiebasis betrokke en is die redakteur van Veeplaas.

Maré meen hy is gerat om die talle uitdagings in die rooivleisbedryf met unieke benaderings en strategieë aan te pak. Hy sal met ingang van Februarie volgende jaar in die pos dien.

Hy was merkbaar gelukkig maar ook ernstig toe hy sy intreerede gelewer het. “Ek dink ons weet wat die uitdagings in die bedryf is, maar ek sien ook ongelooflik baie potensiaal vir die rooivleisprodusente in die land,” sê hy. “Ek glo die RPO is ʼn organisasie wat ons regtig kan uitbou: deur rooivleisprodusente vir rooivleisprodusente.

“Ek sien ongelooflik baie uit hierna en dink die hoofrede is omdat ek vertroud is met die akademie en baie op my gemak met alles is, omdat ek ongelooflik lief is vir die bedryf, sy mense, sy ondernemings en sy organisasies. Dit is ʼn bedryf waarin ek my loopbaan kan aanwend en probeer om ʼn verskil te maak. So ek glo ons sal die verskil ook verder kan voer en saam sal ons regtig ʼn blink toekoms vir die rooivleisprodusente in Suid-Afrika skep.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.