Groot planne met nuwe Argo-perseel

Argo-Trekkers se bestuur wat die sooispit-geleentheid by sy nuwe perseel in Kempton Park bygewoon het. (Foto: Du Preez de Villiers)

Argo Trekkers, die Italiaanse familie-onderneming, het die stap gewaag om ernstig in Suid-Afrika en meer spesifiek die landbou te belê. Die maatskappy is tans besig om ʼn groot, nuwerwetse gebou op sy nuwe perseel in Kempton Park, teen die R21, digby OR Tambo-lughawe te bou.

“Ons huur ons huidige perseel in Boksburg se nywerheidsgebied, maar het besluit om op te gradeer en ʼn nuwe, groter perseel wat meer sentraal is te koop,” sê Godfried Heydenrych, besturende direkteur van Argo Suider-Afrika.

Hierdie R100 miljoen belegging, wat op ʼn 16 000 m2-perseel gebou word, gaan uit 650 m2 se kantore, ʼn 100 m2-opleidingslokaal, ʼn 2 300 m2-monteringsaanleg, ʼn 2 000 m2-onderdeleskuur, ʼn 700 m2-vertoonlokaal en 650 m2-uitstalruimte vir besoekers bestaan.

Godfried Heydenrych is die besturende direkteur van Argo in Afrika. (Foto: Verskaf)

Vir kliënte gaan daar ook ʼn vermaak- en ontspanningsruimte op die dak gebou word en om te wys wat in hul trekkers steek, het die groep ʼn demonstrasieveld 15 minute ver van hul perseel en buite die stad tussen ʼn paar plase bekom.

Die monteringsaanleg sal met nege stasies spog waar die trekkeronderdele, wat uit Italië verskeep word, aanmekaar gesit word. Dit sal verskepingskoste aansienlik verminder. Die versterkte vloere sal die swaar masjinerie met gemak kan hanteer. Verder sal daar ’n toegesegde wasruimte en stoorplek wees.

Argo Trekkers is in 1980 deur Valerio Morra gestig en is vandag die eienaar van Landini- en McCormick-trekkers en Morra- en Fella-hooimaakwerktuie. In Suid-Afrika versprei hulle ook Sigma 4-laai- en -skepaanhangsels vir trekkers.

Die Landini Rex 80F en 90F weet hoe om wingerde en vrugteboorde te respekteer terwyl hulle tussen-in werk. (Foto: Verskaf)

Behalwe vir die bewerking van rygewasse is Landini, wat ook sy ontstaan in Italië het, veral bekend vir sy gespesialiseerde en nommerpas trekkers vir wingerde-, boorde- en groentelande.

McCormick, wat in Engeland tot stand gekom het, is meer gefokus op tegnologies gevorderde, groter trekkers met ʼn hoë kraglewering.

Die nuutste McCormick X7.624 is ‘n kragreus wat sy man kan staan, selfs onder die taai toestande in Afrika. (Foto: Verskaf)

Tydens die sooispit-geleentheid het Simeone Morra, Argo se direkteur van korporatiewe sake in Italië, gesê “die besluit om in hierdie fasiliteit te investeer spruit uit hul wêreldwye visie, wat beteken dat hulle uitstekende kliëntediens aan al hul strategiese markte, insluitend Suid-Afrika, wil lewer.”

Op ʼn vraag van Maroela Media het Heydenrych gesê daar is ʼn tekort aan moderne trekker-tegnici in Suid-Afrika en dat Argo in sy opleidingsentrum sy deel gaan bydra om dit te verander. “Hierdie nuwe aanleg sal ook die tuiste wees van ons gevorderde opleidingsentrum wat ons plaaslike handelaars in Suid-Afrika gaan ondersteun en vanwaar ons ook spesiale geleenthede vir ons kliënte sal aanbied. “Hierdie vooraanstaande operasionele fasiliteit is ontwerp om ons hoëwerkverrigtingprodukte die beste tot hul reg te laat kom,” sê hy.

Simeone Morra is Argo se direkteur van korporatiewe sake in Italië en het spesiaal Suid-Afrika toe gekom om die sooispit-geleentheid by te woon. Hy is ook lid van die Morra-familie wat Argo begin het. (Foto: Verskaf)

Vir die skoon energie- bewustes het Heydenrych ook goeie nuus. “Die gebou is so ontwerp dat dit maksimum lig kan benut en die lugdruk binne die gebou sal stof bekamp. Beide hierdie eienskappe sal uiteindelik bydra tot verminderde energieverbruik,” sê hy.

Die boukontrakteurs het op 1 Junie begin en sal na verwagting die projek in Maart 2022 afteken. Argo beplan om in April 2022 die nuwe 6 400 m2-gebou, wat ook die nuwe hoofkantoor sal wees, te betrek. Vandaar sal hulle ook hulle mark in Angola, Botswana, die DRK, Malawi, Mosambiek, Tanzanië, Zambië en Zimbabwe diens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Suzette ·

Maak seker dat julle veiligheidstelsel in plek is…………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.