Kwekery spog met jongboer-toekenning

Jimie Malan en sy vrou, Jolandie, by die Toyota Hilux wat hy gewen het. (Foto: Verskaf)

Die vierde afstammeling van die bekende Malanseuns-kwekery het vanjaar met Toyota Agri SA se jongboer van die jaar-toekenning weggestap.

Tydens die geleentheid is daar ook ʼn nuwe oes- en gemeenskapsboerevereniging-wenner aangewys.

Jimie Malan jr., hoofbestuurder van die JD Malan-groep, sê hy het by die familie-onderneming aangesluit die dag toe hy gebore is en sedert hy oorgeneem het, is hy ʼn voorstander van progressiewe praktyke.

“Ons strewe is om tuinmaak met ʼn omgewingsvriendelike en volhoubare inslag modieus te maak en ons wil Suid-Afrika graag as die mooiste land ter wêreld, met die voortreflikste tuine, sien.”

Die kwekery is in 1930 deur Danie Malan op die been gebring, wat sitrus- en vrugtebome gekweek het. Nadat sy seun, Jimie, by die onderneming aangesluit het, het hulle tuinplante in potte bygevoeg.

Onder Jimie se seun, Jacques, het Malanseuns een van die grootste kwekerye in Suid-Afrika geword. Vandag span Jimie jr. kweekhuise met skadunette en oopveldproduksie in.

“Wat goed genoeg is vir vandag, is nie goed genoeg vir môre nie,” sê Jimie jr.

Hy produseer ook sy eie groeimedium om seker te maak dat hulle meer beheer oor die plante se groeisukses kan uitoefen.

Die Malan-familie boer ook met sierplante en ankole-beeste en teel met stoetwild wat ook gejag word.

Vanjaar se “nuwe oes”-wenner, Naeem Jina, boer met makadamias, mango’s, Arabierperde en vleisbeeste in Mbombela (Nelspruit). Hy het sy eie makadamia-verwerkingsfasiliteit opgerig waarin neute ontdop en verpak word om plaaslik en in die buiteland verkoop te word.

 

Prof. Carlu van der Westhuizen, tegniese raadgewer van die kompetisie; Muneera Jina, Naeem Jina en Leon Theron, senior adjunkpresident van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

 

Jina is ook nie ʼn gebruiker van skadelike chemikalieë nie en hou sy eie bye vir die bestuiwing van bome aan.

Malan en Jina het elkeen in ʼn splinternuwe Toyota Hilux 2.4 GD-6-enkelkajuitbakkie weggery.

Die gemeenskapsboerderyvereniging van die jaar is die Eksteenskuil-landboukoöperasie. Dié groep is in 2006 gestig en bestaan ​​uit 107 lede. Hulle boer met druiwe vir rosyne, lusern, skape en bokke naby Keimoes in die Noord-Kaap. Die groep het ʼn prys van R150 000 ontvang om hul boerderybedrywighede te ondersteun.

 

Prof. Carlu van der Westhuizen, tegniese raadgewer van die kompetisie; Clinton Visagie en Llewellyn Adams van Eksteenskuil landboukoöperasie en Leon Theron, senior adjunkpresident van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

 

Jaco Minnaar, president van Agri SA, sê as die land rolmodelle soek wat as begeestering kan dien vir kandidate wat die bedryf wil betree, is jongboer-finaliste die ideale rolmodelle. “Elkeen van hulle het ’n spesiale visie waarna hulle streef en verloor nooit hul einddoel uit die oog nie. Dit is hoekom hulle so suksesvol is in wat hulle doen.”

Leon Theron, senior adjunkpresident van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika, sê hy is geweldig trots op sy maatskappy se verbintenis met die kompetisie. “Ons loof Agri SA vir hul onwrikbare toewyding aan die boerderysektor, asook die geleentheid om die boerderygemeenskap die afgelope 20 jaar te ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Voorwaar ‘n uitblinker onderneming – Malan en Seuns, baie geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.