Landbank, TLU SA soek oplossings vir boereskuld

Daar word na maniere gesoek om boere te help wat deur die Landbank se optrede geraak is. (Foto: Du Preez de Villiers)

Georganiseerde landbou het met mening opgetree teen die omstrede manier waarop Landbank die boere behandel het wat lenings by dié bank het.

Sterk getuies het aangedui hoe Landbank onwettig en ongenaakbaar optree in die manier waarop hy boere hanteer wat agtergeraak het met terugbetalings.

TLU SA het intussen besluit om met Landbank samesprekings te voer om oplossings tot voordeel van alle betrokke partye te vind.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê hulle het ʼn handvol punte met Landbank bespreek en grootliks bevredigende antwoorde ontvang.

“Ons het dit duidelik gestel dat landboufinansiering vir boere van groot belang is om in produksie te bly en dat ons juis daarom ʼn gesonde en doeltreffende Landbank, wat die eiesoortige omstandighede van landbou verstaan, benodig. Toenemende en uiteenlopende uitdagings lei tot die vermindering in die aantal boere, wat werksverliese meebring en tot nadeel van plattelandse gemeenskappe strek, daarom moet alles moontlik gedoen word om boere in produksie daar te hou,” sê hy.

“Die feit dat Landbank ons teenstaan om as vriend van die hof toegelaat te word in ʼn saak wat hulle tans beveg, is aangeraak. Dié saak handel oor sakeredding waarvan slegs maatskappye tans gebruik kan maak, maar trusts en individue nie die voorreg het nie. Dit is na ons mening ongrondwetlik en derhalwe is daar toegetree ten einde alle ondernemings dieselfde geleentheid te kan bied om wel van sakeredding gebruik te maak.”

Die optrede van Landbank-invorderaars is ook aangeraak.

TLU SA sê boeliegedrag om skuld in te vorder is onaanvaarbaar. “Boere wat gebuk gaan onder boelietaktiek moet dadelik kontak maak met ons. Landbank het onderneem om na die gevalle wat ons aanmeld te kyk.”

Landbank het ook onderneem om die name van die prokureurs wat betrokke is by sake wat reeds na die regsafdeling verwys is, beskikbaar te maak. Dit is ook bevestig dat boere wat reeds oorgegee is aan die regsafdeling, steeds met ʼn plan na vore kan kom en indien dit aanvaarbaar is, sal die saak teruggetrek word.

Van Zyl sê Suid-Afrikaanse landbou het ʼn betroubare finansiële instelling nodig wat landbou verstaan en veral die veranderlikes kan help bestuur soos byvoorbeeld die afgelope agt jaar se droogtes in sekere dele van die land. “Ons moet boere se krisis saam beredder en daarvoor is ʼn klimaat van vertroue en bereidwilligheid nodig. Om dié rede volg ons ʼn benadering wat na oplossings soek.

“Landbank het aan TLU SA die onderneming gegee dat hy bereid is om aan elke boer se afsonderlike probleem aandag te gee, solank dit binne redelike terme is.”

TLU SA sê boere kan hom kontak wanneer hulle voorleggings aan Landbank wil maak, want die proses moet gemonitor word om uitkomsgebaseerde resultate te bevorder.

Van Zyl voeg by dat Landbank hom nou tot ʼn bepaalde optrede verbind, en sy integriteit is op die spel as dit nie nagekom word nie. “So is die integriteit van boere ook op die spel ten einde die proses van agterstallige skuld deursigtig te hanteer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Die oplossing begin by die besef dat die ANC, wat in beheer is van elke staats- en verwante instelling, ‘n geslepe en plunderende bende is. Nie-rassigheid is slegs ‘n vrome front. Sterkte vir almal wat met die ANC onderhandel.

Hans ·

Ek begryp nie hoe boere in soveel skuld is nie.
Verder, oordryf media in SA die invoere vanuit Oekraïene, wat maklik met invoere uit die Russiese Federasie vervang kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.