Landbou soek daadwerklike optrede ná begrotingsrede

Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens die mediumtermynbegrotingsrede. (Foto: GCIS)

Groot afwagting heers in landboukringe oor die 2023-begrotingsrede wat more deur minister Enoch Godongwana gelewer sal word.

Die begrotingsrede volg op die hakke van die staatsrede deur president Ramaphosa, waarin ʼn aantal ingrypings aangekondig is om die elektrisiteitskrisis te help verlig.

Volgens Agri SA is dit van die uiterste belang dat die minister maatreëls aankondig om die land se voedselsekerheid te beskerm. “Met beurtkrag as die dringendste bedreiging vir die land se boere, moet die regering bereid wees om hulpbronne toe te wys om boere teen die ergste gevolge daarvan te beskerm,” sê Kulani Siweya, landbou-ekonoom by Agri SA. “Dit sal volhoubare voedselproduksie wat in belang van alle Suid-Afrikaners is, verseker.”

Op sy beurt sê Agri Wes-Kaap dat sterk klem op die uitdagings wat die land se kragkrisis skep, gelê moet word. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê hy hoop dat Godongwana tydens sy begrotingsrede ook die nodige maatreëls en begroting om dié krisis te hanteer, sal aankondig.

“Dit verg meer as net om ʼn minister van elektrisiteit aan te stel of om ʼn ramptoestand af te kondig. Die land se boere het werklike en praktiese begroting- en fiskale maatreëls nodig om in hul nood gehelp te word,” sê Siweya.

Hy sê Godongwana moet veral fokus op –

  • die verskaffing van hoër kortings op diesel en petrol wat vir elektrisiteitsopwekking gebruik word;
  • die implementering en aansporings om opleidingsfasiliteite aan die netwerk te koppel en die herkoppeling van buite-netwerkstelsels; en
  • die verlaging of verwydering van omslagtige belasting op sukkelende landboubedrywe soos die aksynsbelasting op tabak, wyn en bier asook die gesondheidsbevorderingsheffing.

“Aangesien die president ʼn belastingaansporing vir ondernemings aangekondig het om sonkrag op hul dakke te installeer, moet Godongwana besonderhede verskaf oor hierdie ingryping en enige spesiale bepalings vir die landbousektor.

Hy sê die begrotingsrede moet ook voorsiening maak vir die toewysing van hulpbronne vir die bou van nuwe infrastruktuur en die herstel van bestaande infrastruktuur (veral verbrokkelende pad- en spoornetwerke).

Siweya sê verder dat hierdie ingryping nou veral dringend is aangesien meer as die helfte van die land se provinsies deur vloede geteister word, met ʼn verwoestende uitwerking op boere. “Op hierdie punt moet die ramptoestand weens die vloede dringend gepaard gaan met voldoende befondsing om betekenisvolle verligting aan die geraakte gemeenskappe en boere te bied.”

Strydom is van mening dat die oorname van ʼn gedeelte van Eskom se skuldlas, die bykomende aansporings vir belegging in hernubare energiebronne, asook die regering se plan vir ʼn permanente basiese inkomstetoelae uit ʼn reeds beperkte begroting gefinansier sal word. Dit word verwag dat die fiskale tekort in die begroting tot 5,5% sal styg.

“Agri Wes-Kaap hoop dat die befondsing hiervan nie deur uitermatige verhogings in belastingkoerse, wat die landbousektor regstreeks sal beïnvloed, befonds sal word, of deur die besnoeiing van staatsbelegging in kritieke infrastruktuur nie.”

Agri Wes-Kaap hoop ook dat daar geen verhoging in die brandstofheffing sal wees nie, want boere kan dit nie bekostig nie. Hy doen inteendeel daarom ʼn beroep op die minister om die huidige dieselrabat vir die gebruik in kragopwekkers te verhoog.

Strydom sê aksynsbelasting op alkohol kan ook nie verhoog word nie. “Die wynbedryf is tans onder geweldige druk. Amptelike statistieke wys dat slegs 9% van wyndruifprodusente ʼn volhoubare netto boerderyinkomste (NBI) behaal, terwyl 53% ʼn onvolhoubare lae NBI behaal, 3% ʼn gelykbreekpunt behaal en 38% ʼn verlies toon.

“Tydens president Ramaphosa se staatsrede was daar sprake van ingrypings om infrastruktuuraangeleenthede in Suid-Afrika te hanteer. Agri Wes-Kaap hoop dat die begrotingsrede aandag sal gee aan die nodige finansiering vir die herstel, instandhouding en uitbreiding van onder andere elektrisiteitsvoorsiening, spoorweë, die Kaapstadse hawe, die padnetwerk en waterhulpbronne,” voeg Strydom by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Ja paaie lyk sleg en amper geen meer spoorvervoer maar my opinie is krag en water die belangrikste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.