Melkboer-oorlewing: Gebruik suiwel-app wat insette vergelyk

Foto ter illustrasie. (Foto: Lorene Farrugia, Unsplash)

In die negentigerjare is die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf se mark gedereguleer. Hoewel deregulering entrepreneurskap en innovasie stimuleer, het dit die melkbedryf oor die algemeen duur te staan gekom. Dalende produsentepryse as gevolg van die vryemarkkragte en stygende produksiekoste het veroorsaak dat baie melkboere die bedryf verlaat het.

Diegene wat besluit het om vas te byt was genoodsaak om hul insetkoste en uitsette doeltreffender te bestuur. Die neiging was in die rigting van minder, maar groter melkkuddes met ʼn toename in gemiddelde produksie per boer.

Melkboere gebruik vandag die gevorderdste tegniese en finansiële hulpmiddels om hul produktiwiteitsvlakke te verbeter en mededingend te bly.

In 2000 was daar ʼn totaal van 5 864 melkboere en vandag staan dié syfer op ʼn skamele 1 172. Ten spyte daarvan het die nasionale kudde tussen 500 000 en 600 000 koeie gebly en die aantal liter wat ʼn gemiddelde koei per jaar lewer het van ongeveer 4 000 tot 8 000 liter toegeneem.

“Beter doeltreffendheid is die gevolg van maatstawwe vir beste praktyk wat in ‘n aantal gebiede geïdentifiseer is,” verduidelik landbou-ekonoom Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking van landbou by Eerste Nasionale Bank. “Dit sluit kuddegesondheid en -produksie, voeding, ekonomiese en finansiële prestasie, kapasiteitsbenutting en die implementering van ʼn bio-sekuriteitsprogram in.”

“By die evaluering van ʼn melkboerdery moet al die maatstawwe op ʼn holistiese manier oorweeg word, aangesien dit onderling verband hou en nie individueel beoordeel kan word nie,” sê Maree. “Voeding het byvoorbeeld ʼn impak op produksie en reproduksie – en uiteindelik op finansiële prestasie.”

Hoewel die meeste plaaslike kommersiële melkboere hierdie beste praktyke toepas, is hulle steeds besig om te kompeteer met suiwelprodukte wat ingevoer word uit lande wat hulle melkboere subsidieer. “Om op die langtermyn volhoubaar te wees, moet melkboere hierdie maatstawwe nog beter vir hulle laat werk,” sê Ian van Niekerk, uitvoerende hoof van Oakland Dairies.

Die probleem, glo hy, is dat hoewel elke boer dink hy of sy werk doeltreffend, meet hulle nie hulself aan die bedryfsgemiddeld nie.

Gevolglik het Van Niekerk voorgestel dat die bedryf ʼn aanlyn-toepassing ontwikkel sodat boere hul insetkoste onder bepaalde kategorieë kan lys om dit sodoende as ʼn persentasie van hulle totale melkverkope uit te druk. “Die app moet boere in staat stel om die persentasies, soos die koste van kragvoer, ruvoer, kalfvoer, medisyne, arbeid, ensovoorts, in verhouding tot hul omset te vergelyk.”

“Hierdie syfers moet dan deur ʼn instansie soos die Melkprodusente-organisasie (MPO) aan die bedryf beskikbaar gestel word en maandeliks gepubliseer word sodat elke boer hom- of haarself akkuraat teen die prestasie van die bedryf kan meet.”

Van Niekerk glo dat so ʼn app boere ook in staat sal stel om hul persentasies met ander boere in hul omgewing, wat in soortgelyke omstandighede boer, te vergelyk om sodoende makliker probleme te identifiseer. “As ʼn boer se syfer hoër is vir ʼn spesifieke insetkoste, hoër as die gemiddeld of die van die buurman, sal hulle die spesifieke probleemarea kan identifiseer en die probleem vinnig kan hanteer.”

Van Niekerk voer ook aan dat melkboere deel moet word van die verwerking- en verspreidingsketting om volhoubaar te bly.

“Die werklikheid is dat elke keer wanneer groot melkkopers en -verwerkers die prys van melk verlaag, word dit moeiliker vir kleiner melkboere om volhoubaar te bly,” sê hy. “Wat ons nodig het, is ʼn oop dialoog tussen supermarkte en boere, sodat eersgenoemde die invloed van byvoorbeeld voerprysstygings op produksiekoste kan verstaan.”

Hy sê ook dat die mededingingskommissie betrokke moet raak om te verseker dat kleiner spelers nie deur die groter spelers uitgedruk word nie. “Die suiwelbedryf speel ʼn belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie, en dit is noodsaaklik dat groot en klein spelers toegelaat moet word om ʼn gesonde en volhoubare suiwelbedryf in die toekoms te verseker.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.