Nog ʼn beroep vir prioritisering van landbou met inentings

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Boere en plaaswerkers is uiters kwesbaar vir Covid-19, speel boonop ʼn kardinale rol om die virus se impak te versag en gaan ook ʼn baie belangrike rol speel om die ekonomie hierna weer op die been te kry.

Dit is die mening van dr. Kobus Laubscher, ʼn onafhanklike konsultant vir Agility Agri, en volgens hom is dit dus noodsaaklik dat die regering die landboubedryf ook prioritiseer in die nasionale inentingsprogram.

Agility Agri bied werknemersvoordele en gesondheidsorg vir die landboubedryf op alle inkomstevlakke en op alle terreine.

Dit is nie net Laubscher wat die standpunt huldig nie. Maroela Media het onlangs berig dat Agri SA dieselfde mening het.

“Boere en plaaswerkers is noodsaaklike bydraers tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en die welstand van die land se burgers,” sê Laubscher. “Derhalwe moet hulle ook geprioritiseer word in die verspreiding van die Covid-19-entstof. Indien dit nie gebeur nie, kan dit die bydrae wat die landboubedryf in die skepping van werkgeleenthede lewer, die versekering van voedselsekuriteit en die potensiaal om buitelandse valuta in te bring, lamlê.

“Tydens die harde inperking van verlede jaar het die sektor ʼn belangrike rol gespeel in die versagting van die pandemie se slagting van die Suid-Afrikaanse ekonomie, maar die bedryf word egter deur enorme uitdagings in die gesig gestaar in die heropbou van die post-Covid-ekonomie.

“Bufferoeste word verwag in die komende oesseisoen wat sal lei tot ʼn voorspelde groei van 7,5% in die bedryf. Dit sal nie net binnelandse voedselsekerheid en volhoubare indiensneming in die sektor verseker nie, maar ook ʼn groei in die uitvoer van produkte, ten spyte van hoër ru-oliepryse, ʼn tekort aan verkoelde vragskepe en ʼn onvriendelike wisselkoers tussen die rand en dollar, beteken.

“Maar dit is belangrik dat die welstand van boere én hul werknemers, sowel as ander in die voedselvoorsieningsketting, geprioritiseer word,” sê Laubscher.

“Die nasionale regering, wat die inenting bestuur, het voorkeur gegee aan gesondheidswerkers en diegene ouer as 60 jaar, en meer onlangs onderwyspersoneel, om ingeënt te word. Kritieke noodsaaklike werkers, soos dié in die landboubedryf, geniet egter nie voorrang nie.

“Hierdie belangrike rolspelers woon egter hoofsaaklik in landelike gebiede waar hulle die kwesbaarste is vir die SARS-CoV-2-virus en nie naby spesialisbehandelingsfasiliteite is nie. Voorkoming sal altyd beter wees as gesondheidsorg maar behoorlike kommunikasie oor die virus is nodig en boere moet streng wees in die toepassing van basiese voorkomingsmaatreëls.”

Laubscher sê ook dat daar aandag gegee moet word aan die beperkte infrastruktuur in landelike gebiede wat die doeltreffende aanbieding van die inenting kan beperk. Die skaarsheid van gesondheidsbronne in yl bevolkte landelike gebiede mag nie verhoed dat landboupersoneel toegang tot gesondheid- en welstandsdienste kry wat noodsaaklik is vir produktiwiteit nie.

Volgens hom sal die pandemie waarskynlik ʼn onbepaalde impak op landelike gesondheidsorg hê.

“ʼn Suksesvolle inentingsprogram kan die begin van herstel wees, maar die vordering sal waarskynlik stadig wees. Doeltreffende en bekostigbare gesondheidsorg sal net belangriker word.

“’Die regering kan nie daardie sorg bied nie – daar is eenvoudig nie geld daarvoor nie, maar ek twyfel of die landboubedryf sal wag vir die regering om leiding neem. Die bedryf het nog altyd die bereidwilligheid en vermoë getoon om te doen wat nodig is.

“Intussen kan die prioriteit van landbou in die inentingsprogram nie uitgestel word nie. Suid-Afrika kan dit eenvoudig nie bekostig om te wag nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.