NWK na verwagting alleeneienaar van sonneblomaanleg

Epko gaan na verwagting binnekort ten volle aan NWK behoort. (Foto: Google maps)

NWK het ʼn kontrak met Louis Dreyfus Company (LDC) aangegaan waarin NWK die alleeneienaar van Epko – sy sonneblomolieverwerkingsaanleg in Lichtenburg – sal word. NWK, wat tans 50% aandele besit, sal nou ook LDC se 50% aandele koop in ʼn transaksie wat op 30 April volgende jaar gefinaliseer sal word. Dié 6 700 aandele van die totale 13 400 aandele sal na raming vir R166 miljoen van hande verwissel.

Aandeelhouers van NWK Beherend is vroeër die week in kennis gestel dat die aankoop van die aandele oor vyf maande sal plaasvind, maar dit is onderhewig aan opskortende voorwaardes wat vervul moet word.

Epko se kernbesigheid is die verwerking van sonneblomsaad in sonneblomruolie, sonneblomoliekoek en sonneblomdoppe. Daar word elke jaar sowat 220 000 ton sonneblomsaad by dié aanleg verwerk, waarna dit aan verskeie klante in Suid-Afrika verkoop word. Epko se operasie is hoofsaaklik in Suid-Afrika.

NWK sal die transaksie finansier deur ’n gedeelte van die NWK-groep se beskikbare kontantbronne te gebruik, tesame met eksterne befondsing wat van derdeparty-befondsers verkry word.

Een van die voorwaardes van die transaksie is dat Epko die nodige in plek het om toegang tot internasionale sonneblomruoliemarkte te verseker.

Volgens ʼn verslag wat NWK uitgereik het, sal dié transaksie vir hierdie landboudiensverskaffer en -handelaar die geleentheid gee om sy aandeel in die nasionale sonneblomoliemark te verhoog.

NWK se direksie en bestuur het aangedui dat hulle positief oor die groep se toekomsvooruitsigte is, grootliks danksy langtermynweervoorspellings wat weereens baie positief is vir die somergraan- en oliesadeproduksiegebiede.

Daarbenewens lyk NWK se geldsake ook baie positief.

Voortgesette gunstige landboutoestande, tesame met ʼn gedrewe groeistrategie, het rekordresultate vir die groep tot gevolg gehad. Vir die ses maande wat op 31 Oktober vanjaar geëindig het, het die groep ʼn inkomste van sowat R2 miljard en ʼn wins van R179 miljoen gerealiseer, vergeleke met ʼn inkomste van R1,64 miljard en ʼn wins van R154 miljoen in die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.

Die direksie het voorts ʼn dividend van 31c per aandeel – R35 miljoen in totaal – vir uitkering aan aandeelhouers verklaar.

Op kort termyn is daar egter heelwat uitdagings in NWK se wêreld wat oorkom moet word.

Bonormale reënval is van April tot Julie vanjaar gemeet, wat boere se oesproses met minstens 30 dae vertraag het. Die gehalte van graan en oliesade is negatief deur die uiters nat seisoen geraak.

Die leweringsproses van graan by NWK se silo’s is gekompliseer en gradering- en aflaaipermutasies is beduidend geraak as gevolg van ʼn toename in laer grade wat gelewer is.

ʼn Lig in die tonnel is dat graanopbrengste beduidend hoër as die langtermyngemiddelde is, met hoër graan- en oliesaadpryse wat die laer as normale graangehalte wat geproduseer is, effens geneutraliseer het.

Hoewel die laat oes en laer graangehalte ʼn negatiewe uitwerking op NWK se sake sal hê, behoort dit deur groter volumes graan en beter sakevertroue onder graanprodusente geneutraliseer te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.