Oplossings vir platteland moontlik danksy gewone SA’ners

Die regte helde van Suid-Afrika is die gewone landsburgers wat ʼn verskil in hul gemeenskappe maak. (Argieffoto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

“Die regte helde van Suid-Afrika is die gewone landsburgers wat ʼn verskil in hul gemeenskappe maak.”

Só het Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, in sy openingsrede by Senwes en Landbouweekblad se Oplossings vir Suid-Afrika se platteland-konferensie gesê.

Die konferensie, wat oor twee dae by Nampo Park in Bothaville gehou is, bring planmakers met ʼn daadwerklike doel om ʼn verskil in hul gemeenskappe te maak van oor Suid-Afrika byeen om hul stories van hoop, asook lesse en uitdagings, te deel. Só wil hulle ook ander inspireer en motiveer om ʼn verskil te maak.

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, sê almal is bewus van die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar. Dit sluit in alles van infrastrukturele en munisipale verval tot ekonomiese stagnering en werkloosheid. Hierdie uitdagings is self meer tasbaar op die platteland waar hulpbronne skaars is.

“Wat egter tekenend van die platteland is, is dat gemeenskappe hier mekaar ken, saamwerk en net doodeenvoudig weier om te gaan lê. Dit is ʼn nasionale bate,” het Burgess gesê.

Volgens Strydom volg die konferensie ses jaar nadat die Bela-Bela-grondberaad met groot sukses in 2018 aangebied is. Deesdae is daar egter weer ʼn wesenlike kwessie op hande wat bloot net te belangrik is om aan die regering en politici oor te laat.

“Suid-Afrikaners is uniek omdat unieke omstandighede hulle in die gesig staar. Dit is egter juis hierdie eienskap wat in die smeltkroes van die huidige omstandighede gevorm is, wat ons in staat stel om met planne vorendag te kom om ʼn toekoms vir ons en ons kinders te skep ondanks die menige uitdagings,” het Strydom gesê.

Altesame 77 kenners uit talle velde gesels by die beraad oor die oplossings wat hulle self in werking gestel het om daar waar hulle leef, ʼn verskil te maak.

Die planne en stories sal mettertyd op ʼn toegewyde webwerf geplaas word sodat nog planmakers en oplossingsgedrewe gemeenskappe self ook ʼn verskil op die platteland kan maak, sê Senwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die boere word eensaam met dorpenaars wat so verstedelik. Maar wie wil nou krepeer sonder krag en water.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.