Rekords spat op sybokhaarveiling

Rekords het links en regs gespat tydens die sybokhaarveiling wat op 2 Maart in Port Elizabeth plaasgevind het.

Die pas afgelope sybokhaarveiling in die Port Elizabethse sybokbeurs was ʼn groot hoogtepunt vir sybokboere. Dié boere is veral swaar getref deur die voortslepende droogte in die sentrale Oos-Kaap en dele van die Wes-Kaap. Sybokhaarkopers word egter duidelik nie deur die droogte afgeskrik nie.

Rekordboeke is herskryf op min of meer alle vlakke, met die uitsondering van somerkleinbokkies, hoewel boere ook vir dié tipes baie goeie pryse gekry het. Die uitblinkers was Weeber Truter van Oudtshoorn wat ʼn wȇreldrekordprys vir jong bokke opgestel het teen R712,10 per kg vir ʼn 23,9 mikron baal.

Die blinkste ster was egter Willem Wagener van Willowmore wat die wȇreldrekordprys vir grootbokhaar herskryf het teen R570,10 per kg vir ʼn 27,9 mikron baal. Wagener het boonop sy totale skeersel teen ʼn rekordgemiddeld van R535,96 per kg verkoop.

Die Wagener-gesin is gesoute sybokboere. Soretha, Danelle, Leon, Willem en Willem snr. het rede om trots te wees op die rekords wat hulle laat spat het.

Pierre van der Vyver, algemene bestuurder by The House of Fibre, sê dat die veiling die hoogste gemiddeld nóg behaal het met ʼn gemiddelde markaanwyser van R364,32 per kg. Dié internasionale beurs is in 1949 gestig en sy veilingsgeskiedenis strek oor 72 jaar. Die grootste aanvraag het uit Europa gekom, met Italië as die voorloper. Belangstelling uit die Ooste het grotendeels uit China gekom.

Suid-Afrikaanse sybokke se hare is baie gewild in Europa en die Ooste.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Baie geluk aan die “Bok mechanichs!” ‘n Ongelooflike prestasie behaal teen baie sterk winde wat van voor waai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.