Sitrusbedryf waarsku boere oor ‘gevaarlike siekte’

sitrus, siekte, HLB

Asiatiese sitrusvergroening, ook bekend as Huanglongbing (HLB) word veroorsaak deur ʼn patogeen wat deur die Asiatiese citrus psyllid-insek oorgedra word. (Foto: Facebook)

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) rig ‘n waarskuwing aan sitrusboere om uiters bedag op die Asiatiese sitrusvergroening-siekte te wees. Dié siekte is ook bekend as Huanglongbing (HLB) en word veroorsaak deur ʼn patogeen, wat deur ʼn halfvleuelige, sapsuigende insek oorgedra word. Dit hou ʼn groot bedreiging vir die sitrusbedryf wêreldwyd in en is die skadelikste sitrussiekte aan die mensdom bekend. Dit kan reuse verliese teweegbring en toegang tot markte verhoed. Dit is die eerste keer in China aangeteken en het oor die afgelope paar jaar groot skade in Suid- en Noord-Amerika aangerig.

Op die Afrika-kontinent is hierdie spesifieke stam reeds in Ethiopië en Kenia, asook die insekvektor in Kenia en Tanzanië aangetref. Alhoewel dit tans nie in Suid-Afrika voorkom nie, hou Asiatiese sitrusvergroening ‘n ernstige bedreiging vir die produksie van sitrus in Suid-Afrika, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die hele vasteland in.

Die siekte, tesame met sy primêre vektor, is ‘n groot bron van kommer vir die kontinent omdat besmette sitrusbome nie eetbare vrugte kan produseer nie en verwelk en sterf.

Simptome sluit in geelkleurige lote, asimmetriese, gevlekte, en klein regop, chlorotiese blare, ontydige botbloei en takke wat skielik doodgaan. Die blomme blom buite seisoen en oormatig op die aangesteekte takke. Klein, skewe vrugte met ʼn bitter smaak wat oneweredig verkleur as dit volwasse is, word ook gevorm. Baie vrugte val ook af en klein, bruin, geaborteerde sade kom voor. Roetagtige muf wat begin groei weens oormatige heuningdouproduksie kan ook die plante se vermoë om te fotosinteer beïnvloed, wat die plant se algehele gesondheid benadeel.

HLB, sitrus, siekte

HLB laat ryp vrugte oneweredig na groen verkleur (Foto: Facebook)

Dit is noodsaaklik dat alle belanghebbendes soos boere, kwekerye, internasionale reisigers, invoerders, navorsers en lede van die publiek die land se fitosanitêre en die toepaslike wetlike regulasies moet nakom. Invoerders van plante en plantprodukte moet al die regte invoerprosedures volg ingevolge die Wet op Landbouplae, 1983 (wet no. 36 van 1983). Dit sal die uitbreking en verspreiding van hierdie siekte in Suid-Afrika en die SAOG-streek tot die minimum beperk. Boere kan nie ʼn uitbreking bekostig nie, omdat hulle reeds onder geweldige druk verkeer te midde van ander ekonomies belangrike plae en siektes, soos swartvlek (CBS), vals kodlingmot (KVM) en vrugtevlieë (VF), wat boere tans moet trotseer.

Die departement het in samewerking met die sitrusbedryf ‘n HLB-bestuurskomitee aangestel wat ‘n paraatheids- en reaksie-aksieplan opgestel en beheermaatreëls in plek gestel het om die risiko’s van ʼn moontlike HLB en ASV(Asiatiese sitrusbladvlooi, die draer van die HCB vektor) te beperk.

Die minister het die betrokke beheermaatreëls goedgekeur en in die Staatskoerant nr. 44188 R. 121 van 12 Februarie 2021 gepubliseer, ooreenkomstig die bepalings van die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet No.36 van 1983).

ʼn  Nasionale opname om die kans op vroeë opsporing van die siekte sowel as die vektor te verhoog, vorm deel van die DALRRD, se strategiese plan. Verder het departementele amptenare met hul eweknieë in Kenia gaan vergader om ‘n weg vorentoe te vind oor hoe om met HLB en ASV in Kenia te bekamp en te verhoed dat dit verder en spesifiek na Suid-Afrika versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.