TLU SA-jongboere wen landboukursusse

Hendrik Prinsloo, Michael Otto en Chantelle Visser het elk ‘n landboukursus by Agricolleges International gewen. (Foto’s: Verskaf)

Drie gelukkige boere het elk ʼn Agricolleges-kursus in ʼn kompetisie gewen wat in samewerking met TLU SA aangebied is. Die beoordelaars was Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, en Laurika de Bois, bemarkingsbestuurder van Agricolleges.

Hierdie aanlyn opleidingsinstansie het reeds meer as 1 700 alumni vanuit 40 verskillende lande.

“Hierdie kursusse is ideaal vir nuwe boere, onlangse skoolverlaters of selfs gevestigde boere wat hul kennis van landboupraktyke wil verfris en verbeter,” sê Du Bois. “Boonop kry ons jongmense nie meer toelating tot landboukolleges nie en hulle is in ʼn vreeslike toestand. Universiteite neem weer beperkte getalle in en die kursusse is baie meer wetenskaplik.”

 

Laurika du Bois is bemarkingsbestuurder van Agricolleges International. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die drie wenners was Michael Otto uit Limpopo, Hendrik Prinsloo uit die Limpopo/Mpumalanga-streek en Chantelle Visser uit Garies.

Otto se kursus is inleiding tot diereproduksie, Prinsloo gaan inleiding tot plantproduksie loop en Visser se kursus van haar keuse was inleiding tot landbousake.

Die kursusse begin volgende jaar op 7 Februarie en duur sewe weke. Die waarde van die kursusse, wat in Afrikaans aangebied sal word, is R4 400 elk.

“TLU SA streef daarna om boere veilig en volhoubaar op hul plase te hou,” sê Van Zyl. “Met dié kompetisie help ons dié boere om nog meer bekwaam in hul roeping te wees.”

 

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Agricolleges het ʼn ruim bedrag by die Dagbreek-trust ontvang om in die nabye toekoms al sy kursusse in Afrikaans te vertaal, om so ook die studente wat graag in hul moedertaal wil studeer die geleentheid te bied om hul kennis en opleiding te verbeter.

Dié kollege het ʼn e-leer-platform ontwikkel wat studente deur rekenaars en mobiele toestelle akkommodeer. Hierdie leergeleenthede is wêreldwyd beskikbaar, na gelang van die student se toeganklikheid tot die internet.

Agricolleges International is ook as AgriSETA geakkrediteer en bied daarvolgens een jaar geakkrediteerde nasionale sertifikate aan in algemene landbou, plantproduksie, diereproduksie, plantproduksie (cannabis & hennep), asook verskeie toepaslike kort kursusse en vaardigheidsontwikkelingskursusse in landbou. Die boerderyspesifieke kursusse sluit byvoorbeeld makadamia- en avokadoboerdery in.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Goeie werk en baie geluk ,hoe kan die Jong boere wat Amerika toe gaan gehelp word om in sa kan bly kan ‘n plan gemaak word om vir hulle plase te koop met ledegeld op ‘n lenings ooreenkoms waarby albei partye kan baat vind nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.