Transformasie bring fiskale soewereiniteit in gedrang

Foto ter illustrasie. (Foto: Steve Buissinne, Pixabay)

“Die ANC-regering se beleid van radikale ekonomiese transformasie, inklusiewe ekonomiese groei en ekonomiese hervorming, wat niks anders as suiwer politieke slagspreuke is nie, het die ekonomie bykans finaal oor die afgrond gestoot,” sê Fanie Brink, ʼn onafhanklike landbou-ekonoom.

Ten spyte daarvan sê die minister van finansies, Enoch Godongwana, nogtans die “ekonomie kort transformasie”, terwyl hy erken dat “Suid-Afrika se ekonomie in sy huidige vorm nie volhoubaar is nie”.

Brink het verwys na die artikel, “Ekonome kort transformasie”, wat Sondag in Rapport verskyn het.

Die minister het ook erken “dié syfers toon dat die land se nywerheidsbasis in werklikheid vernietig is en dit is waar die werkverliese, inkomste-ongelykheid en armoede vandaan kom”.

Volgens Brink het die vervaardigingsbedryf van ʼn hoogtepunt van omtrent 22% in die 1980’s tot die huidige 12% van die bruto binnelandse produk (BBP) afgeneem. “Die kapitaalbasis van dié bedryf het boonop in reële terme van R677,7 miljard in 2008 tot R545,9 miljard gekrimp.

“Ten spyte daarvan moet die ekonomie nou nog verder transformeer, hervorm en vernietig word. Ongelooflik!”

Die enigste gevolgtrekking wat dus gemaak kan word, is dat die ANC se ekonomies ongeletterde en onbevoegde politici net eenvoudig nooit sal verstaan hoe ekonomiese groei geskep word nie.

Hieroor moet daar geen twyfel bestaan nie en ook nie oor die sekerheid dat die ANC-regering met sy sosialistiese ekonomiese beleid die ekonomie binne die volgende twee tot drie jaar finaal sal vernietig nie.

Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

“Terwyl die kans vir nog erger onluste en plundering daagliks ál groter word, het die minister nou duidelik bewys dat die ANC-regering in werklikheid nog nooit ʼn ekonomiese groeiplan gehad het wat die ernstige fiskale en maatskaplike probleme in die land kon oplos nie.”

Die voormalige premier van Brittanje, Winston Churchill, het nie verniet gesê nie:  “Socialism is a philosophy of failure, the creed of ignorance, and the gospel of envy, its only inherent virtue is the equal sharing of misery.”

Dié ekonomiese vernietiging sal veroorsaak dat Suid-Afrika sy fiskale soewereiniteit verloor, asook sy status as ontwikkelende land. Die land sal derhalwe in ʼn onderontwikkelde land met baie groter armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid verval, wat selfs die voortbestaan van die demokrasie in gedrang sal bring.

“Die ANC-regering sal nooit verstaan dat dit in die eerste plek nie gaan oor die skepping van groter werksgeleenthede deur die transformasie van die ekonomie nie, maar oor ʼn politieke en ekonomiese omgewing wat die regering tot stand moet bring om dit vir die privaat sektor moontlik te maak om wins en ekonomiese groei te skep,” sê Brink.

Wins is die enigste skepper van ekonomiese groei wat deur produsente, vervaardigers, verskaffers van persoonlike dienste en andere aan die aanbodkant en verbruikers aan die aanvraagkant van die ekonomie volhoubaar geskep kan word.

“Die ANC-regering sal gestuit moet word met sy voortgesette ekonomies vernietigende transformasiebeleid, terwyl die vooruitsigte vir die ekonomie en die land baie dringend aangepak sal moet word omdat dit baie slegter lyk as ooit vantevore,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

melaney ·

Daar is net een manier…. stem anc uit. CR erken hulle het gefaal maar belowe (alweer) dat daar ‘n blink toekoms op ‘our people’ wag. En dit is die probleem: hulle sal WEER anc stem. Die dag dat hulle grond eet, sal ‘our people’ (dalk) vir hulself begin dink. Soos dinge vandag daar uitsien, was Siener tog reg. MM sal seker nie hierdie kommentaar goedkeur nie, maar die waarheid is die waarheid.

Boerkind ·

Dit lyk al meer duidelik dat die vernietiging ‘n doelgerigte ANC agenda is. Alles waaraan hulle raak eindig in ‘n totale gemors op… bewys my verkeerd!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.