Varkbedryf hou ‘TEDx’

Die Suid-Afrikaanse varkvleisprodusente-organisasie is heel in sy skik met PigX1. (Foto Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie (SAVPO) het einde verlede week sy eerste PigX by Future Africa in Hatfield, Pretoria, aangebied.

Dié byeenkoms is geïnspireer deur en in dieselfde formaat as die bekende wêreldwye TED-gesprekke waartydens lede van die publiek bymekaarkom om na kenners te luister wat oor kontroversiële onderwerpe in hul vakgebiede praat.

Die geleentheid is deur meer as 320 belanghebbendes in die varkbedryf bygewoon en oor dié twee dae het 13 sprekers gedagtes geprikkel deur uiteenlopende perspektiewe op verskeie onderwerpe te bied.

Volgens Johann Kotzé, uitvoerende hoof van SAVPO, was die doel van PigX1 om konvensionele denke uit te daag sodat die bedryf sy huidige praktyke kan ondersoek om nuwe benaderings te vind wat tot positiewe veranderinge kan lei. Die einddoel is om ʼn meer volhoubare toekoms vir die varkvleissektor te skep.

In die besprekings is onder meer verbruikerspersepsies bevraagteken; besin oor ʼn gebalanseerde benadering tot volhoubare antibiotikagebruik in die bedryf; gesoek na strategieë om saam met Afrika-varkpes te bestaan en vernuwende produksiemetodes te ondersoek om produktiwiteit en winsgewendheid te verhoog.

“PigX1 was nie net nog ʼn konferensie nie,” sê Kotzé. “Die doel was om ʼn geleentheid aan te bied wat uitlokkend is, om botsende ingesteldhede bymekaar te bring en sodoende oop dialoog aan te moedig. Hierdie uiteenlopende idees waaraan ons blootgestel is, behoort nou bespreking in ons bedryf aan te wakker, almal te motiveer om anders te dink en transformerende gedrag aan te neem om ons sektor te verbeter.”

Hy het ook sy dankbaarheid vir die oorweldigende reaksie op PigX1 uitgespreek. “Ons is werklik verstom oor die entoesiastiese deelname en ondersteuning van borge, sprekers en

belanghebbendes in die bedryf wat PigX1 moontlik gemaak het. Dit was ʼn wonderlike geleentheid om by mekaar te leer en om saam ʼn beter toekoms vir die Suid-Afrikaanse varkvleisbedryf in die vooruitsig te stel.

“Vir die toekoms moedig SAVPO die bedryf aan om deurlopend die kwessies wat dit beïnvloed te ondersoek. Ons sien uit na toekomstige samewerking wat positiewe veranderinge sal meebring en die Suid-Afrikaanse varkvleisbedryf tot nuwe hoogtes sal voer,” sê Kotzé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.