Wes-Kaap se Jongboerkandidate beïndruk

Argieffoto

Sewe kandidate vir die Wes-Kaap/Santam Jongboer van die jaar-kompetisie het vroeër die week hul aanbiedings voor ʼn span beoordelaars gelewer. Met hierdie geleentheid, wat by Santam Versekering in Bellville plaasgevind het, kon kandidate hul bestuursfilosofie en tegniese vaardighede met ʼn paneel van beoordelaars deel. Die paneel het bestaan uit deskundiges vanuit verskeie vakgebiede en sal vanaf 29 Mei tot 1 Junie elke kandidaat op sy plaas besoek.

Die beoordelaars is Inus Oosthuisen, ʼn vrugteprodusent van die Koue Bokkeveld; Sas Oosthuizen, ʼn vee-en-pluimveeprodusent van Wellington; André Bloem, arbeidskenner; Pieter Plaatjies van Santam; Arno Cloete en Andries van Zyl, twee ekonome by FNB-landbou; en Jannie Strydom, landbou-ekonoom en uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

So lyk vanjaar se kandidate:

Christi van den Heever boer op die plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld met appels, pere, kersies, wingerd en beeste. Hierdie 38-jarige boer streef daarna om winsgewend te bly en mededingend te wees; om markgunstige vrugte van die regte gehalte optimaal en volhoubaar te produseer en om sy boerdery voortdurend te verbeter en aan te pas.

 

Christi van den Heever. (Foto: Verskaf)

 

Eben Schellink is 30 jaar oud en besit ʼn gemengde boerdery op Driefontein naby Malmesbury. Hy boer hoofsaaklik met koring, kanola en merino’s. Eben glo ʼn jong boer moet ʼn goeie sakepersoon wees wat die volhoubaarheid van hul ondernemings kan verstaan en ook die nodige deursettingsvermoë het om tot die beste van hul vermoë te werk en sodoende maksimum uitset te verkry.

 

Eben Schellink. (Foto: Verskaf)

 

Johannes Erasmus boer in die Robertson-omgewing met wyndruiwe, sitrus, perskes en groente. Hierdie 33-jarige boer glo ook in deursettingsvermoë, harde werk, nuutskeppendheid en goeie beplanning. Hy streef daarna om ʼn onderneming te bedryf waarop sy voorgeslagte trots sou gewees het en wil die plaas so ontwikkel dat die verskeie vertakkings mekaar kan aanvul.

 

Johannes Erasmus. (Foto: Verskaf)

 

Die 30-jarige Johan Swart boer in die Overberg-distrik naby Riviersonderend met kleingrane wat uit gars, koring, hawer en kanola bestaan, asook wolskape. Die belangrikste les wat Johan geleer het, is om aanpasbaar en nuutskeppend tydens uitdagende tye te wees. Sy toekomsvisie is om vertakkings op sy plaas uit te brei en optimaal te ontwikkel. Hy wil ook sy werksmag voortdurend bemagtig.

 

Johan Swart. (Foto: Verskaf)

 

Pieter Janse Gildenhuys besit ʼn gemengde boerdery in die Heidelberg-distrik wat bestaan uit kleingraan, koring, gars, kanola en lusernweiding, asook ʼn merinokudde. Pieter is 35 jaar oud en glo dat Suid-Afrikaanse boere van die beste in die wêreld is en dat ʼn goeie boer gedrewe en tog nederig is, iemand wat goed kan beplan, aanpasbaar is, en steeds hoop en glo selfs in moeilike tye.

 

Pieter Gildenhuys. (Foto: Verskaf)

 

Ricard Myburgh is 31 jaar oud en boer met appels en pere naby Vyeboom in die Overberg-distrik. Ricard se toekomsvisie is om een van die top-vrugteboere in die land te wees. Hy meen goeie tydsberekening is kritiek en dat ʼn boer sy plaas goed moet ken. Hy is insetgedrewe en wil graag meer tegnologie in sy boerdery gebruik om sodoende volhoubaar te kan boer.

 

Ricard Myburgh. (Foto: Verskaf)

 

Wimpie van Niekerk is 32 jaar oud en bedryf hoofsaaklik ʼn saaiboerdery op Caledon. Hy boer ook met melkbeeste, skape, appels en pere. Wimpie glo dat daar altyd iets is om te leer en sal nie huiwer om kundiges in die bedryf te nader om sy kennis te verbreed nie. Hy glo dat produsente in Suid-Afrika vasbyters is, wat deurlopend planne moet beraam om vooruit te boer.

 

Wimpie van Niekerk. (Foto: Verskaf)

 

Die drie topkandidate en die wenner sal tydens ʼn gala-aand op 14 Junie in die Paarl aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.