WLO verwelkom tweede SA landbou-organisasie

Francois Rossouw, uitvoerende hoof en dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, is vol ywer om Suid-Afrikaanse boere se belange by die WLO te bevorder. (Foto: Verskaf)

Die familieboerenetwerk Saai se aansoek om by die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) aan te sluit is goedgekeur.

“Ons is baie opgewonde hieroor en wil die kommersiële boere van Suid-Afrika daar verteenwoordig en hulle stem laat hoor,” sê Francois Rossouw, die uitvoerende hoof van Saai.

Die African Farmers’ Association of South Africa (AFASA), wat daarop fokus om opkomende boere te help om kommersiële status te bereik, was tot op hede die enigste Suid-Afrikaanse landbou-organisasies wat by die WLO verteenwoordig was.

Die WLO bestaan uit 86 nasionale landbou-unies op ses kontinente en neem deel aan beraadslagings van die Verenigde Nasies en sy agentskappe, die Wêreld Ekonomiese Forum en tydens ander internasionale geleenthede.

Die WLO het agt beleidskomitees wat standpunte ontwikkel rakende handel, koöperasies, opleiding en jeug, vroue, klimaat en biodiversiteit, tegnologie en digitalisering, veeteelt en dieregesondheid, asook intellektuele eiendomsreg en planttelersregte. Dit word dan wêreldwyd onder boere bespreek om aan instansies reg oor die wêreld voor te lê.

“Dié organisasie bied ook ʼn platform waar Suid-Afrikaanse kwessies soos plaasaanvalle en onteiening sonder vergoeding onder die aandag van die wêreld gebring word. Dit verseker ook dat ons boere ʼn plek om die tafel het en ʼn onafhanklike stem in die wêreldwye arena het, sodat die regering nie die enigste een is nie,” sê Rossouw.

Die WLO het ook ’n wetenskaplike raad waarop twee Suid-Afrikaners dien, naamlik prof. James Blignaut van die Universiteit Stellenbosch en die ekonoom Dawie Roodt.

“Saai is ’n landboubelangenetwerk wat net op familieboere fokus. Dit is die wêreld se eerste ‘oopekonomie’-landboustruktuur wat al sy aktiwiteite wat verder as beleidsbeïnvloeding gaan, in netwerkvennootskappe implementeer.

“So is Saai verbind tot aksiegerigte netwerkvennootskappe met eendersdenkende organisasies wat handel oor onder andere arbeidsaangeleenthede, landbou-ontwikkeling, veiligheid, burgerregte, opleiding en die landboujeug,” sê hy.

“Saai het lank reeds goeie netwerkverhoudinge met landbou-unies elders in die wêreld soos die CFU in Zimbabwe, NAK in Hongarye en AKKOR in Rusland, en administreer ’n aantal beurse vir verdienstelike landboustudente aan buitelandse universiteite.”

Die voorsitter van Saai se direksie, dr. Theo de Jager, is sedert 2017 die president van die WLO, maar verteenwoordig die Zimbabwiese boere aldaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.