Cannabis-maatskappy op JSE, benodig boere

Cilo Cybin is gereed om die Suid-Afrikaanse cannabisbedryf op ‘n volgende vlak te plaas. (Foto: Verskaf)

Cilo Cybin Holdings het die groen lig gekry om Afrika se eerste spesiale doelverkrygingsmaatskappy (SPAC) in die cannabis-bedryf te word om op die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) genoteer te word.

Vir hierdie maatskappy is dit die eerste stap in ʼn reusepoging om die onderontwikkelde plaaslike cannabis-bedryf in ʼn hoogs gespesialiseerde sektor te omskep en om dit te bereik is ʼn groot aantal plaaslike boere nodig.

ʼn SPAC is nie betrokke in enige kommersiële bedrywighede nie en word gestig om kapitaal te in deur ʼn eerste openbare aanbod (IPO) vir potensiële aandeelhouers uit te reik, met die doel om ʼn bestaande maatskappy te verkry of met een saam te smelt.

Gabriel Theron, stigter en uitvoerende hoof van Cilo Cybin, sê dié onderneming is as ʼn ontwrigtende, internasionale gesondheidsmaatskappy gevestig en het ten doel om ondernemings in die biotegnologiese en farmaseutiese sektore te verkry, of daarin te belê.

Dit fokus op die welstand, prestasie en langlewendheidsdoelwitte van mense wat deur ʼn kunsmatige intelligensie- (KI-)stelsel gelei en ondersteun word, wat data uit ʼn “ekostelsel” sal versamel, ontleed en interpreteer om diagnose- en behandelingsvoorstelle te maak.

Theron sê hy is verheug dat die JSE sy maatskappy se notering goedgekeur het en is vol vertroue dat die vereiste kapitaal verkry sal word om sy onmiddellike en langtermyndoelwitte te bereik.

“Ons beoog ook om nuwe tegnologieë te identifiseer en die ontwikkelaars van sulke tegnologieë te help om dit markgereed te kry.”

In Mei 2020 het die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktereguleerder (SAHPRA) ʼn GACP-lisensie aan Cilo Cybin toegeken, wat hom magtig om dagga te kweek.

Die tweede lisensie, wat hom in staat stel om cannabis tot ʼn finale produk te verwerk en te bemark, is in die derde kwartaal van verlede jaar toegeken, wat hom ook die eerste maatskappy in Suid-Afrika maak wat cannabis deur die hele waardeketting mag neem.

Theron het aan Maroela Media verduidelik dat cannabis inderwaarheid ʼn skedule-ses-medisyne is en derhalwe maak die wetlike implikasies dit baie moeilik vir boere en verwerkers om die bedryf te vestig.

“Cilo Cybin wil nou ʼn stabiele mark skep deur die proses meer vaartbelyn te maak tot waar die medisyne by die apteek afgelaai word en in die verbruiker se hand eindig,” sê hy.

Boere het ʼn rol

Koos Nel, uitvoerende hoof van Agri X, het vir Maroela Media gesê hierdie verwikkeling bied ook ʼn geleentheid vir die landbousektor. Agri X is ʼn sake-ontwikkelingsplatform in landbou en is besig om verskeie rolspelers bymekaar te bring.

“Ons kyk deurlopend na nuwe tegnologieë wat boere en die sekondêre landboubedryf kan baat en hier het ons ʼn geleentheid gesien,” sê Nel. “Ons help dus graag om die geleentheid bloot te stel.

“Die waarde wat Cilo Cybin vir die landbouwaardeketting het, is tweeledig. Eerstens besit hy ʼn lisensie om beter cannabis-kultivars te kweek en tweedens om verwerking te doen, wat beteken hulle kan ook produkontwikkeling doen en die finale produk bemark. So skep hy ʼn trekkrag vir boere om hoëwaarde-cannabis te verbou deur ʼn stabiele mark te skep.”

Volgens Nel is daar tans ʼn bottelnek in die plaaslike cannabis-bedryf. “Produsente kweek dagga en moet dit dan oorsee verkoop. Die volgende stap in die waardeketting vind dus nie in Suid-Afrika plaas nie, maar nou skep Cilo Cybin die kapasiteit om dit hier te doen.”

Theron sê daar is tans 80 produsente wat lisensies het om dagga te verbou en drie verwerkingsmaatskappye wat die olies mag onttrek.

“Ons wil nou eerder vir boere ʼn premie betaal voordat hulle hul rou produkte uitvoer. Ons kan ook boere se produkte, soos byvoorbeeld die blom self, verpak om sodoende vir hulle ʼn handelsmerk te vestig.”

Hy wil ook sy fasiliteit uitbrei met ʼn moderne teelstasie om plante te kweek wat geskik vir Suid-Afrika se klimaat is en dan die klone aan boere lewer.

“Daar is nog nie ʼn kultivar wat heeltemal geskik is vir ons toestande nie,” sê hy.

Theron verkies ook om eerder die klone van die moederplant te lewer as die sade, omdat daar baie variasies in saad kan voorkom, terwyl ʼn kloon identiese eienskappe as die plant van oorsprong het.

ʼn Blink toekoms

Theron sê daar word beraam dat die wêreldwye wettige daggamark, selfs met die wetlike beperkings, teen 2025 R980 miljard ($51 miljard) sterk sal wees.

“Medisinale cannabis word toenemend vir die behandeling van verskeie chroniese toestande, soos parkinsons, alzheimers, artritis, kanker, depressie, angs, epilepsie en ander neurologiese toestande aangewend,” sê hy.

Dit lei noodwendig tot ʼn groter vraag na grondstowwe en boere moet dit met mag en mening omarm, selfs aan die bemarkingskant.

“As ons na die toekoms kyk en die rol wat dagga in die mediese en ontspanningsektore speel, sal die maatskappye wat hierdie ongelooflik ingewikkelde en gereguleerde dog winsgewende mark sal oorleef, diegene wees wat sterk handelsmerke vroeg in die wedloop gevestig het.

“Cilo Cybin beoog om die grootste cannabisverwerkingsfasiliteit op die Afrika-kontinent te vestig om die mediese bedryf te ondersteun vir verdere benutting van die rou materiaal, ten einde die produksie van mediesegraad-cannabisprodukte vir plaaslike en internasionale markte moontlik te maak.

“Die mark vir psigedeliese dwelms ontwikkel vinnig weens die toenemende voorkoms van depressie en ander geestesversteurings wêreldwyd,” sê Theron.

Sy visie is dat die wêreld ʼn nuwe tydperk van persoonlike gesondheidsorg binnegaan, “ʼn wêreld waarin elke persoon se gesondheid en welstand pasgemaakte, geïndividualiseerde en intelligent geteikende ingrypings sal vereis”.

“Ons bou onsself en ons dienste op drie pilare – gesondheid, prestasie en langlewendheid.”

Cilo Cybin se IPO het Maandag 12 September geopen en sluit op Vrydag 4 November. Om van die IPO gebruik te maak, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nici ·

Ek sou begin het om te verduidelik wat die doel van ‘n Cannabis bedryf is in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.