Forensiese eenheid beskerm SA landbou teen smokkelaars

Joe Hanekom het dit sy lewenstaak gemaak om landbou in Suid-Afrika teen smokkelaars te beskerm. (Foto: Verskaf)

Dit is nie net diamante, dwelms en gewere wat ongure karakters inspireer om dit oor ons grense te bring en onder die Suid-Afrikaanse polisie se neuse te verkwansel nie.

Om Suid-Afrikaanse boere en die groter landboubedryf te beskerm, plaas die regering soms hoë heffings op sekere landbouprodukte wat ingevoer word. Dit bied uiteraard ʼn uitnodiging vir opportuniste om produkte wan te verklaar, op onwettige wyse die land in te bring en dit dan teen reuse winste te verkoop.

Maroela Media het by Joe Hanekom, wat feitlik sy hele loopbaan toegewy het aan die teensmokkelary van landbouprodukte, gaan vasstel hoe hy een van die mees omvattende teensmokkelarynetwerke in Suid-Afrika ontwikkel het.

Gesmokkelde landbouprodukte kom baiemaal uit eerstewêreldlande, waar die boere subsidies van die staat ontvang sodat hulle deurlopend ‘winsgewend’ kan bly. Daar kan dan goedkoop van hierdie produkte ‘ontslae’ geraak word. Opportuniste koop hierdie produkte en gaan verkoop dit vir groot winste in lande wie se regerings nie sulke uitspattighede soos subsidies kan bekostig nie en wat nie gespesialiseerde oorgrensbeheer toepas nie.

“Ek wil dit net duidelik stel dat ek ʼn internasionale vryemarkstelsel ondersteun, maar waar ons boere se voortbestaan in gedrang is, moet onreëlmatighede stopgesit word,” sê Hanekom. “Vir my is dit baie belangrik dat die internasionale speelveld gelyk moet wees sodat ons boere kan oorleef.”

 

Landbou is kwesbaar

Vroeër jare het die Suid-Afrikaanse regering verskeie landbourade ingestel om plaaslike boere te beskerm deur onder meer hul produkte se mark te beheer. Met die oopstelling van die land se ekonomie in die vroeë 90’s, is die rade ontbind en die verskillende bedrywe moes hul eie privaat organisasies stig om hul belange te beskerm, terwyl hulle geen statutêre magte gehad nie.

Hanekom het as adjunkhoofbestuurder in die destydse Suiwelraad gedien. “Ek het agtergekom dat die mark vir plaaslik geproduseerde suiwelprodukte, veral melkpoeier, nie ooreenstem met wat die verwagting in die binnelandse mark is nie. Ek het die saak begin ondersoek, maar dit was baie moeilik om die betrokke rolspelers te oortuig dat landbouprodukte ook gesmokkel kan word en te oorreed om iets daaromtrent te doen. Dit was een van ons eerste take om groot staatsinstellings soos die SAID en die SAP Grenspolisie te oorreed om landbouprodukte as ‘n prioriteitshandelsmisdaad te erken.”

Omdat melkpoeier ʼn suiwelproduk is wat ʼn lang raklewe het, was dit veral gewild onder smokkelaars wat bereid was om die gebrekkige grensbeheerstelsels in Suider-Afrika te toets.  ʼn Verdere aanloklikheid was die deurlaatbare grense van Suidelike Afrika.

Nadat die Suiwelraad ontbind is, het Hanekom in 1993 ʼn artikel 21-maatskappy, Agri Inspec, gestig met die bystand van die suiwelbedryf, om onwettige praktyke in die melkbedryf die hoof te bied. Hierdie nie-winsgewende organisasie het as ʼn maatskappy onder die vaandel van die Melkprodusente-organisasie gefunksioneer.

“Met al my kennisse in die staatsektor, het ek begin om die basiese voetwerk te doen en om ʼn infrastruktuur op grondvlak te skep. Ek het ʼn kaart gevat en na al die moontlike toegangsroetes en grensposte gekyk. Toe het ons op motorfietse geklim en belangrike grensposte met buurlande en buitelandse hawens soos Maputo, Beira, Dar es Salaam en Walvisbaai gaan besoek en met kontakte gesels, tyd afgestaan en dopgehou watter soort vragte van elders af na Suid-Afrika gekanaliseer word,” vertel Hanekom.

“Mettertyd het ons goeie vriende gemaak met die beamptes op die grense en hulle het vir ons inligting begin deurgee oor vragte wat onder verdenking was. Ons kon toe met redelike gemak die vragte volg tot waar dit deur ons grense beweeg.

“My strategie was om soveel moontlik blootstelling in die media te kry om smokkelaars te ontmoedig. Die destydse Radio Pretoria (vandag Pretoria FM) het weekliks onderhoude met my gevoer. Aanvanklik was dit harde werk om die smokkelnetwerke se aktiwiteite in die kiem te smoor, maar mettertyd het ons meer suksesvol geword. Die belangrikste taak was destyds om ons inligtingsnetwerk in stand te hou.”

Die stelsel het groot suksesse behaal soos byvoorbeeld in 2001, toe  ʼn boete van R16 miljoen, die grootste nog, vir ʼn suiwelsmokkelaar opgelê is. In ‘n ander geval is ‘n suikersmokkelnetwerk gestop wat suiker in tenkwaens deur Swaziland se grense ingebring het, wat spesifiek omgebou is om suiker te smokkel.

 

Smokkelaars word informante

Hy vertel dat hy heelwat smokkelaars kon oorreed om informante te word. “In een geval het een van my personeellede toevallig verby ʼn fabriek gery en gesien daar staan ʼn vragmotor wat die kenmerkende bruin papiersakke aflaai waarin melkpoeier verpak word. Met sy geoefende oog kon hy dadelik sien dat daar geen etikette, wat al die inligting oor die produk bevat, op was nie. Dit is ʼn weggeeleidraad dat dit gesmokkelde produkte is.

“Hy het by die fabriek ingery en die eienaar gekonfronteer. Dié het hom boeglam geskrik en sonder veel oortuiging ingestem om ʼn informant te word. Dit het nie lank geneem om ʼn baie gevaarlike en uitgebreide smokkelnetwerk aan die kaak te stel nie.”

Hanekom het vroeg in sy loopbaan die waarde van intelligensie besef en vir Lukas Ras, ʼn kolonel in die SAP Intelligensiediens, aangestel om met dié aspek te help. “Lukas kan inligting uit jou trek sonder dat jy dit besef en het oral mense geken wat waardevolle hulp verleen het.”

 

Nuttige inligting van die SAID

Buiten die hulp op grondvlak, het Hanekom ook by die SAID gaan aanklop en op hul invoerdatabasis gaan registreer, om toegang tot al die elektroniese inligting van elke vrag wat die land binnekom, te kry.

“Ons het ʼn program geskryf waarmee jy een kommoditeit kan kies en dan al die data onttrek om dit in bruikbare bestuursinligting te omskep. Met ons agtergrondkennis kon ons dadelik sien of daar produkte vanaf lande inkom waar die invoere bevraagteken kon word. Ons kon ook uitwerk of die invoere, saam met die binnelandse produksie, ooreenstem met die binnelandse verbruik”.

Hierdie stelsel word deurlopend onderhou en word in verslae omskep wat afwykings in invoerpatrone uitwys.

Hanekom het ook vreemde aktiwiteite in die tekstielbedryf opgemerk en sy dienste aangebied, maar hulle het dit van die hand gewys. Onwettige handel het dramaties toegeneem, dermate dat dit hierdie bedryf, wat ongeveer R6 miljard sterk was, feitlik vernietig het.

In ʼn ander hofsaak moes Hanekom en sy span dringend die uitvoerdokumente vir kaas uit Kanada in die hande kry om ʼn plaaslike smokkelaar aan die pen te laat ry. Hulle is inderhaas met Interpol se hulp Kanada toe en kon ʼn groot en gevaarlike internasionale netwerk blootlê.

“Ons het ʼn mooi stelsel op die been gebring, met ʼn uitgebreide netwerk van informante, met goeie inligting wat inkom, verskeie staatsinstellings wat saamwerk en kundige personeel wat enige plek ontplooi kan word waar  ʼn voertuig kan ry en ʼn vliegtuig kan land.”

Uit erkenning vir hul diens aan die landboubedryf van Suid-Afrika het Hanekom en sy span in 2000  die Landbouskrywers se toekenning vir nuusmaker van die jaar gekry.

In 2008 het Hanekom ‘n geïntegreerde markbeskermingsmaatskappy, Afri Compliance, gestig en sy dienste ook aan ander bedrywe beskikbaar gestel, wat sedertdien groot baat daarby gevind het.

Kyk uit vir die volgende artikels waarin die welslae en uitdagings verbonde aan onwettige praktyke in onder meer die vleis-, pluimvee-, suiker-, olyfolie-, heuning- en knoffelbedryf onder die loep geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.