Intacta beïndruk sojaboere

Deon Scheepers, besturende direkteur van Southern Hemisphere Seeds wys hoe geil staan die Intacta sojaboonplante. (Du Preez de Villiers)

Groot opgewondenheid heers in die sojaboonbedryf oor die bekendstelling van Bayer se Intacta® Roundup® Ready2 Pro. Deon Scheepers, besturende direkteur van Southern Hemisphere Seeds (SHS), wat die proewe geplant het, sê in die nabye toekoms gaan die oorgrote meerderheid van alle sojabone in Suid-Afrika Intacta-genetika bevat.

Dit is die eerste keer in 20 jaar dat ʼn geneties gemodifiseerde sojaboon-eienskap in Suid-Afrika goedgekeur is en hierdie keer bevat dit ʼn stapelgeen wat glifosaatverdraagsaam is en beskerming teen Afrika-bolwurm bied.

SHS se proef- en saadvermeerderingsplaas is 120 ha groot en net noord van Pretoria in Pyramid geleë. Hier spits dié internasionale maatskappy hom op botterskorsies en sojabone toe.

As ʼn Bayer-medewerker het SHS ook einde verlede jaar dié gesogte sojaboonsaad ontvang en op droëland- en besproeiingsblokke geplant. Die weer oor die afgelope seisoen het mooi saamgespeel en daar het reeds groot en gesonde peule gevorm.

SHS het onlangs ʼn boereweek gehou om die resultate aan boere, agente, verspreiders, chemiese maatskappye, akademici, aandeelhouers, die georganiseerde saadbedryf, die media, staat en ander belangstellendes te wys. “Altesaam 200 mense het die geleentheid oor die vyf dae bygewoon,” sê Candy Da Cal, bemarkingsbestuurder van SHS.

Daar is ook lesings oor alles rakende Intacta aangebied.

Maroela Media het die laaste dag bygewoon om die volgende geslag sojabone te gaan bewonder, wat die bedryf na verwagting tot ʼn volgende vlak gaan neem.

Die peule op die droëlandblokke het baie potensiaal getoon. (Foto: Du Preez de Villiers)

Volgens Bayer kan Brasilië reeds ʼn suksesstorie vertel. “Voordat Intacta in 2015 vrygestel is, het Brasiliaanse boere ʼn gemiddelde opbrengs van 2,9 t/ha gekry. Vyf jaar later kon hulle oeste van tot 3,5 t/ha afhaal,” sê Caio Tosta, Bayer CropScience Afrika se bemarkingshoof wat voorheen in Brasilië werksaam was.

“Die voordele en uitwerking van Intacta in Suid-Afrika gaan enorm wees as ons net na die proteïenmoontlikhede daarvan kyk,” sê Scheepers.

Verwerkte sojabone kan regstreeks deur mense in ʼn wye verskeidenheid van produkte gebruik of as sojameel vir varke en pluimvee gevoer word, wat net ʼn volgende stap in proteïenverbruik is.

In die vergelykende proewe troon die Intacta-sojaplante (agter) bo die ander uit. (Foto: Du Preez de Villiers)

“In Afrika het ons nie ʼn energietekort nie en dit is goedkoop. Mense plant maklik styselgewasse soos mielies, kassawe, aartappels en patats aan om in dié behoefte te voldoen,” sê Scheepers.

“Proteïen is egter ʼn reuseprobleem. Dit is die duurste komponent van jou dieet, wat ook vir vee geld. Boonop word dit tans ten duurste uit ander lande ingevoer in valuta wat ons nie kan bekostig nie. Ten spyte daarvan het ons al die hulpbronne om ons eie proteïen te produseer.

“Suid-Afrika het tans ʼn oesgrootte van 1,45 miljoen ton sojabone per jaar. As jy in ag neem dat die nasionale sojaboonoes maar 15 jaar gelede slegs 100 000 ton was, is daar ʼn blink toekoms. Daar is nie maklik nog sulke subsektore in landbou wat so sterk gegroei het nie.”

Hy sê jy moet ook in ag neem dat ʼn boer tans ʼn gemiddeld van R3 500 vir ʼn ton mielies ontvang en R9 500 vir ʼn ton sojabone.

“Ons gaan nog verdere, opwindende ontwikkelinge in sojaboon-genetika sien, soos droogtebestandheid en bykomende weerstand teen onkruiddoders. Dit is reeds elders beskikbaar en op ons horison as ons net die probleme rakende wettige aspekte soos registrasieprosesse vinniger kan oplos.

Onder besproeiing is die Intacta-proewe ook ʼn lus vir die oog. (Foto: Du Preez de Villiers)

Scheepers is hoogs tevrede met die boereweek.

“Die afgelope week was vir ons ʼn groot geleentheid om bewusmaking te skep en ons het reeds  heelwat aanvraag van boere wat dit wil beproef. Ek glo volgende jaar sal ʼn derde van my portefeulje uit Intacta-sojabone bestaan, wat ons kommersieel beskikbaar sal hê.

“As ons na Suid-Amerika kyk, sal al die sojaboonsaad wat ons binne vyf tot ses jaar verkoop 90% tot 100% Intacta-tegnologie bevat,” sê hy.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.