Sojabone gereed vir bolwurm en glifosaat

Intacta Roundup Ready 2 Pro is geformuleer om Afrikabolwurm te bekamp. (Foto: Verskaf)

Vir die eerste keer in 20 jaar is daar weer ʼn sojaboontegnologie bekendgestel wat weerstandig teen die gevreesde Afrikabolwurm is en terselfdertyd glifosaatbestand is.

Die Intacta Roundup Ready 2 Pro-eienskap is verlede week amptelik deur Bayer CropScience in Fourways, Johannesburg, bekendgestel. Maroela Media het die geleentheid bygewoon om die feestelikheid mee te maak.

Hierdie nuwe tegnologie gee boere oor die hele wêreld ʼn kans om op ʼn meer volhoubare manier die sekerheid van voedsel en voer te help verseker.

Maroela Media het berig dat die Suid-Afrikaanse regulatoriese owerheid die aansoek vir die verbouing van sojabone wat oor die Intacta RR2 Pro-eienskap beskik op 29 Julie verlede jaar goedgekeur het.

Dr. Klaus Eckstein, hoof van Bayer CropScience Suider-Afrika en groephoof van Afrika, het verduidelik waarom hierdie tegnologie so belangrik is.

Hy sê sojaboonproduksie in Suid-Afrika het sedert die vroeë 1990’s aansienlik gegroei, van 67 700 ton in die 1993/94-seisoen tot 1,6 miljoen ton in die 2017/18-seisoen. “Die rekordgemiddeld van 2,32 t/ha in 2021 wys wat in meer ideale klimaatstoestande bereik kan word, selfs met ouer tegnologie.

Links is peule wat deur Afrikabolwurm aangeval is. (Foto: Verskaf)

“Gedurende die afgelope dekade of wat het die oppervlakte wat aangeplant is meer as verdubbel, terwyl produksie byna verdriedubbel het. Groot beleggings in verwerkingsfasiliteite het die algehele persvermoë tot 2,2 miljoen ton opgestoot. Om egter genoeg sojabone aan hierdie verwerkingsaanlegte te lewer en aan die groeiende vraag vir voedsel en voer te voorsien, moet doeltreffender tegnologie ingespan en hoër opbrengste per hektaar gelewer word.”

Volgens Eckstein sal hierdie eienskap na verwagting die hoeksteen vorm vir die platform waarop Bayer sy volgende generasie sojabone in Suid-Afrika ontwikkel.

“Dít is ʼn groot gebeurtenis vir plaaslike boere wat met internasionale opbrengste wil meeding en winsgewend wil bly,” sê Eckstein.

Sojaboonsaad wat die Intacta RR2 Pro®-eienskap bevat, sal drie duidelike voordele aan boere bied:

  • verhoogde opbrengspotensiaal,
  • beskerming teen ekonomies belangrike plae soos Afrikabolwurm en
  • beter verdraagsaamheid teenoor glifosaat.

Caio Tosta, die nuwe bemarkingshoof van Bayer CropScience in Afrika, was voorheen in Brasilië werksaam en het sy ervarings met Intacta gedeel en hoe dit die sojaboonbedryf in Brasilië bevoordeel het.

Sojaboonblare wat deur Afrikabolwurm gevreet is. (Foto: Verskaf)

“Voordat Intacta in 2015 vrygestel is, het Brasiliaanse boere ʼn gemiddelde opbrengs van 2,9 t/ha gekry. Vyf jaar later kon hulle oeste van tot 3,5 t/ha afhaal. Nou is ons hier om dieselfde suksesverhaal in Suid-Afrika moontlik te maak.

“Wat belangrik is, is dat die bekendstelling van Intacta RR2 Pro® ʼn nuwe keuse in doelgerigte insekplaagbeheer bied, wat meer gerief vir Suid-Afrikaanse boere beteken. Vir die bedryf sal dit die geleentheid bied om vinniger en makliker nuutskeppings in hierdie belangrike gewas te ontwikkel,” sê hy.

Verskeie Suid-Afrikaanse saadmaatskappye sal na verwagting Intacta RR2 Pro® in hul portefeuljes in 2022 bekendstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gatgogga ·

Is die Afrikabolwurm ‘n lid van die ANC? Hoekom verwoes hy dan so?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.