Kenner waarsku: Loop lig vir antibiotika-gebruik by vee

Daar word aanbeveel om antibiotika slegs vir ʼn bepaalde toestand toe te dien. (Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse beesbedryf worstel tans met profilaktiese antibiotikagebruik, oftewel die gebruik van antibiotika om siektes te voorkom, pleks daarvan om siektes daarmee te behandel. Thapelo Kgosi Ramokala, dieregesondheidspesialis by die Beefmaster-groep, sê dit maak nie net die deur oop vir moontlike misbruik nie, maar vergroot ook die risiko van antibiotika-weerstandigheid.

Hy sê die verantwoordelike gebruik van antibiotika is van kritieke belang om kuddegesondheid te handhaaf, maar die gevare rondom onverantwoordelike antibiotikagebruik moet te berde gebring word. Hy beklemtoon hoe belangrik ingeligte besluitneming rondom die kwessie is, asook opvoeding en samewerking binne die bedryf.

“Daar is verskeie ernstige toestande onder vee wat nie antibiotika vir behandeling benodig nie, maar steeds behandel moet word,” sê Ramokala. “Antibiotika moet slegs gereserveer word vir gevalle waar daar ʼn sekondêre bakteriële infeksie is.

“ʼn Geteikende benadering is van kardinale belang. As ʼn dier siek word, word daar aanbeveel om ʼn antibiotika vir ʼn bepaalde toestand toe te dien en as daar geen verbetering is nie, moet die behandelingsplan hersien word. Die gebruik van breëspektrum-antibiotika sonder ʼn duidelike diagnose kan die kudde benadeel en antibiotiese weerstandigheid bevorder.”

Waarom onnodige gebruik?

“Paniek is ʼn beduidende faktor,” verduidelik Ramokala. “Wanneer ʼn dier siektetekens toon, word produsente bang dat hulle verliese gaan ly en kan dan haastig wees om antibiotika toe te dien. Hierdie benadering kan egter die probleem vererger.”

Hy sê boere het toegang tot akkurate inligting nodig. Staatsveeartse, tydskrifte, seminare en gemeenskaplike boerenetwerke kan ʼn deurslaggewende rol speel in die verspreiding van kennis oor verskeie siektes en behoorlike antibiotikagebruik.

Hy vra ook vir groter samewerking tussen farmaseutiese maatskappye en boere. “Voordat antibiotika verkoop word, moet farmaseutiese maatskappye in gesprek met boere tree en die simptome en plaastoestande verstaan voordat toepaslike medikasie aanbeveel word.”

Ramokala sê die Beefmaster-groep is ʼn kampvegter vir antibiotika-rentmeesterskap. “Die maatskappy het ʼn streng beleid om nie beeste van boere te aanvaar wat profilaktiese antibiotikagebruik op kalwers en speenkalwers toepas nie. Ons voerkraal in Christiana handhaaf ʼn verantwoordelike antibiotikagebruikbeleid en werk nou saam met dieregesondheidskenners om optimale medikasiepraktyke te verseker.”

Ramokala se vyf wenke vir verantwoordelike antibiotikagebruik:

  • Akkurate diagnose: Voordat antibiotika toegedien word, maak ʼn behoorlike diagnose. Raadpleeg ʼn veearts om die onderliggende oorsaak van die siekte akkuraat te identifiseer. Onthou dat antibiotika effektief teen bakteriële infeksies is en nie teen virale infeksies nie.
  • Simptoommonitering: In plaas daarvan om oorhaastig antibiotika by die eerste teken van ʼn siekte toe te dien, monitor eers die simptome noukeurig. Isoleer siek diere om die verspreiding van infeksies te voorkom en pas behoorlike higiënepraktyke op die plaas toe. Dit kan die behoefte aan antibiotika verminder en die risiko van siekteoordrag beperk. As die dier se toestand vererger of nie binne ʼn redelike tyd verbeter nie, soek professionele raad.
  • Geteikende behandeling: Dien antibiotika toe wat gerig is op die spesifieke bakterieë wat die infeksie veroorsaak. Die gebruik van breëspektrum antibiotika behoort ʼn laaste uitweg te wees, slegs wanneer die spesifieke patogeen nie geïdentifiseer is nie, of daar ʼn sterk kliniese rede is. Vermy die herhaaldelike gebruik van dieselfde antibiotika vir verskillende gevalle. Raadpleeg ʼn veearts om ʼn rotasieplan vir verskillende antibiotika te skep, of nie-antibiotiese alternatiewe te ondersoek waar van toepassing.
  • Rekordhouding: Hou omvattende rekords van alle antibiotikagebruik, insluitend die soort, dosis, duur en rede vir toediening. Dit help om doeltreffendheid te monitor en om ingeligte besluite in die toekoms te neem.
  • Gereelde opleiding: Leer jouself en jou personeel voortdurend oor veegesondheid, siektevoorkoming en verantwoordelike antibiotikagebruik. Bly op die hoogte van die jongste bedryfspraktyke en -riglyne.

“As die bakteriese bevolkings in ons beeste weerstand ontwikkel weens die oorbenutting van antibiotika, sal ons nie siektes doeltreffend kan behandel nie, want dit neem baie jare om ʼn veilige en doeltreffende antibiotika te ontwikkel en tans is daar geen nuwe middel wat ontwikkel word nie, selfs nie eens in die navorsingsfase vir gebruik in produksiediermedisyne nie. Ons het ʼn meer holistiese benadering tot antibiotikagebruik by diere nodig sodat dit kan help om kuddegesondheid op te bou, nie om dit te vernietig nie,” sê Ramokala.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Die antibiotika is so duur ek kan nie dink produsente spuit dit goedsmoeds in nie. Aangepaste diere op natuurlike veld benodig selde antibiotika….hou maar die mRNA spuite ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.