Ontmoet ons wynboere: Kom gesels ook rugby op Welbedacht

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Welbedacht beteken goed deurdink in Hoog-Hollands. Dié wynlandgoed is in die Wellington-distrik, teen die hange van die Groenberg geleë en die wingerde kyk op Tafelberg uit. Dit behoort aan die bekende Springbokrugbyspeler, Schalk Burger sr, en sy gesin.

Tydens snoeityd en Welbedacht se wingerde kyk op Tafelberg in die verte uit. (Foto: Twitter)

Die Burgers het die plaas in 1997 bekom, nadat hulle ook die buurplaas gekoop het. “Om jou plaas ʼn wynlandgoed te noem, moet al die druiwe wat jy gebruik op die plaas gekweek word, die wyn slegs daaruit vervaardig en alles op die plaas gebottel word,” sê hy.

Die gesin het baie geld en tyd aan die opknapping van die statige ou Kaaps-Hollandse herehuis bestee sodat die opstal weer in sy vorige volle glorie kan pryk. Die wingerde is herplant en beslaan vandag 110 ha waarop 12 kultivars gekweek word. Dié wingerde lewer elke jaar altesaam ʼn oes van meer as 900 ton.

Vandag is Schalk sr aan die hoof van die bemarkings- en boerderykant van Welbedacht-wynlandgoed.

Sy seun Tiaan is net soos Schalk jr ʼn gerespekteerde provinsiale rugbyspeler. Ná sy landboustudie het hy op die plaas as assistent-wynmaker begin werk en is nou keldermeester en aan die stuur van wingerdbou. Hy help ook met die daaglikse bestuur van die boerdery, asook om na groot kliënte en internasionale agente om te sien.

Rene, sy enigste dogter, doen ook haar deel as Welbedacht se handelsmerkambassadeur in Gauteng. Sy sien om na hul kliënte en agentskappe in die noorde.

Schalk sr se vrou, Myra, help in die proelokaal en met die daaglikse administrasie waar hulle agente en kliënte kom besoek aflê of wanneer besoekers in die pragtige Wellington-vallei kom wyn proe of funksies, soos wedlope, bergfietsry, konserte, etes en krieketwedstryde op die plaas bywoon.

Die Burger-gesin en kleinkinders. (Foto: Twitter)

Een van die geheime van die plaas is ‘n volwaardige krieketveld en klubhuis waar gereeld groot wedstryde gespeel word. Sosiale wedstryde kan ook bespreek word en tydens verjaarsdae, maatskappyfunksies, jaareindfunksies asook familiebyeenkomste word die veld graag benut.

Welbedacht se wingerde word afgewissel met ‘n volwaardige krieketveld. (Foto Twitter)

Die Groenberg-wyk waarin Welbedacht geleë is, se grond word gekenmerk deur verweerde graniet wat ʼn onderliggende kleilaag bedek. Hierdie grondsamestelling se pH is baie geskik vir wingerdboerdery. “Die gemiddelde pH van ons vrugte wissel tussen 4,5 en 6,0 wat ʼn baie goeie en langlewende wyn lewer met sterk minerale geure.

“Altesaam 90% van die stokkiekwekers in Suid-Afrika is in Wellington geleë. Ons is redelik hoog, 1000 voet bo seespieël. Dit bring mee dat die verskille in nag- en dagtemperature die druiwe snags laat afkoel en bedags voldoende laat fotosinteer,” sê Schalk sr. Slegs aanvullende besproeiing word toegedien.

Schalk het ʼn diep studie van wingerdbou gemaak en hy was die eerste boer in die streek wat sy wingerdrye noord na suid in plaas van oos na wes geplant het. “Hierdie praktyk bring mee dat al die blare son kry, sodat almal gelyk in die oggend kan begin fotosinteer en aan die einde van die dag saam kan afsluit.”

Welbedacht voldoen aan die Biodiversity Wine Initiative (BWI) wat uit boere bestaan wat volgens sekere vereistes die indringerplante beheer, chemiese stowwe en water toedien en volhoubare boerdery verseker.

Verder word die plaas ook deur die Integrated Production of Wine (IPW) beoordeel wat na die volhoubaarheid van die boerdery, arbeidspraktyke, boerderypraktyke, chemikalieë wat in die wingerde en in die wyn gebruik word, kyk. In hul jongste oudit het Welbedacht met 87% geslaag.

Welbedacht se wingerde en boerderypraktyke voldoen aan verskeie organisasies se vereistes. (Foto: Twitter)

Op Welbedacht word daar op baie organiese beginsels geboer. “Ons maak kompos van die druiwedoppe, plantmateriaal en hoendermis en werk dit in die grond in. Ons wil nie te veel groei aanwakker nie en sit dus nie te veel stikstof in die grond nie,” sê Schalk.

In 2004 het hy self die wynkelder ontwerp en gebou, nadat hy vier en ʼn half jaar vir die hersonering se goedkeuring gewag het. Die kelder is toenemend vergroot van 150 ton af, tot waar dit vandag 900 ton kan verwerk.

Die geoeste druiwe, rooi én wit kultivars, word in ʼn groot verkoelingskamer afgekoel, sodat die begin van die fermentasieproses in ʼn koue atmosfeer kan geskied. Dit help om die kleur- en geurontwikkeling te verbeter.

Daarna word die rooi druiwe in eiesoortige, oop sementverteerders, amper soos in vervloë jare, gesit wat 1,8 m van die grond gelig is. Schalk het ʼn spesiale houtmandjiepers uit Spanje ingevoer wat onder die tenks geplaas word. “Die tenks is basies vier sementmure waarin die druiwe geplaas word. Dié tenks hou die temperatuur konstant sodat die gistingsproses stadig kan verloop. Die mandjiepers onder die tenks word slegs deur middel van swaartekrag gevul, sodat die geparste druiwe so sag moontlik deur die proses gaan, om besondere geure voort te bring.

Die wyn word in eiesoortige sementfermenteerders gemaak. (Foto: Twitter)

“Wynmaak is nou maar net ʼn natuurlike proses en die oop fermenteerders en mandjieperse verleen onteenseglike egtheid aan die wynmaakproses, wat uiteindelik wyne van ʼn unieke karakter en indrukwekkende, lang lewe lewer.”

‘n Spesiale houtmandjiepers word met swaartekrag uit die sementtenks gevul. (Foto: Welbedacht.co.za)

Drie dinge weeg baie swaar vir Schalk sr, naamlik die estetika, die praktiese en die ekonomiese, en dit word in sy wynkelder weerspieël. Welbedacht se wyne en veral die kelder met sy spesiale ontvangslokaal, besoekersgerief en pragtige uitsig het oor die jare baie plaaslike en internasionale toekennings ontvang.

Welbedacht het drie verskilende kategorieë waarin hulle hul wyn bemark:

In die Meerkat-reeks bied hulle die Pinotage, Burrow Blend, Sauvignon Blanc en die Chenin Blanc aan.

Die Estate-reeks bestaan uit die Cricket Pitch, Hat Trick, Pinotage, Cabernet Sauvignon, Patriot, Barrel Fermented Chardonnay en die Merlot.

In die Proprietor’s-reeks het hulle die Mon Rene, Myra en No. 6.

Schalk sê: “Ek glo dat die mense wat ons wyn drink, bewus is van die feit dat Welbedacht ʼn tradisionele boerdery met bepaalde waardes is. Daar is emosie agter ons wyn. Almal wat dit drink, moet ʼn onvergeetlike smaakervaring beleef. Ons wyn is nie pretensieus nie. Dit is solied en eerlik!”

Wynboere het ernstige verliese gely weens die regering se drankregulasies tydens die grendelstaat. Hulle sit met oorskotwyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, https://www.thewinefarmer.co.za/ www.thewinefarmer.co.za, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

Welbedacht se wyne wat op diewynboer.co.za beskikbaar is

Kyk na ʼn onderhoud met Tiaan Burger, keldermeester op Welbedacht:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.