TLU SA: Waak teen normalisering van verval

Henry Geldenhuys, president van TLU SA sê ons moet eerlik wees oor die werklikhede in Suid-Afrika. (Foto: Verskaf)

Dit is nie in boere se aard om in moeilike tye in sak en as te verval nie, maar hulle moenie vergeet om altyd eerlik te wees en die werklikheid vierkant in die oë te kyk nie. Dit is die mening van Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

Tydens ʼn mediafunksie in Pretoria het Geldenhuys beklemtoon dat boere standpunt moet inneem teen kwessies wat negatiewe gevolge vir die toekoms kan inhou. “Tans is Suid-Afrika nie op ʼn goeie plek nie en ons bedryf gaan toenemend onder die bestuur van die nasionale regering ly. Enigiemand wat eerlik met hom- of haarself is, besef dit.”

Hy sê Suid-Afrikaners se toekoms moet nie bepaal word deur diegene wat afbreek en vernietig nie, maar deur hulle wat sterk fokus op ekonomiese groei en die bou van die toekoms. Suid-Afrikaners moet teen die aanvaarding van hierdie situasies waak.

“Landbou is ʼn ekonomiese proses waar die laaste woord altyd deur die markkragte gespreek moet word. Dit is uiters kortsigtig om enige ideologiese of politieke uitspraak blindelings te aanvaar sonder om dit teen die markte te toets. Indien dit duidelik is dat die markte dit verwerp, moet ons eerlik en verantwoordelik wees en herbesin.”

Volgens TLU SA is daar eenvoudig te veel steun vir regulasies wat reeds bewys het dat dit misluk. Dit sluit die hele transformasie-agenda in, wat kaderontplooiing, korrupsie, SEB en onwettige wanbesteding en selfverryking insluit.

Geldenhuys sê Suid-Afrika het weer vertroue in die land se stelsels nodig, maar dit moet realistiese vertroue wees, gegrond op waardes wat sinvolle en praktiese uitkomste lewer en ekonomiese groei bevorder. “In daardie gees moet ons die toekoms optimisties, in ooreenstemming met ons kultuuropdrag en talente, volledig benut en benader. Wanneer ons die regte ding doen, is dit ʼn positiewe proses waar ons streef na verbetering, nie net as enkelinge nie, maar ook as organisasies wat ʼn gevoel van trots oor wat ons verteenwoordig, teweegbring. Vandag is daar dankbaarheid teenoor TLU SA, wat voortdurend die stem van redelikheid en eerlikheid was en sal bly.”

Hy het ʼn beroep op die media gedoen om saam met TLU SA altyd eerlik oor die werklikheid in Suid-Afrika te wees. “Dit is ʼn goeie beginpunt om oplossings vir die verskeidenheid onaanvaarbare probleme in Suid-Afrika te vind. TLU SA kies om positiewe uitkomste te bevorder, maar help ons om dit in belang van elke inwoner van die land te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Suid-Afrika is uitgedien en vasgevang êrens in die vorige eeu. Nuwe denke is beslis nodig, maar die regeerders het hul eie agenda. Vind uit wat dit is en beweeg dan vorentoe met nuwe planne. Om sake “om te draai” en ‘n “beroep” te doen is ‘n futiele oefening.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.