Versag klimaatsverandering só – Syngenta

Syngenta bied ‘n aantal oplossings om klimaatsverandering die hoof te bied. (Foto: Du Preez de Villiers)

Klimaatsverandering hou beduidende uitdagings vir landbou wêreldwyd in, met verreikende gevolge vir produsente. Dit veroorsaak wisselvallige reënvalpatrone en waterskaarste wat dit moeilik vir produsente maak om doeltreffend te beplan. In sommige gebiede lei laer reënval tot watertekorte en verswakkende grondtoestande.

Maroela Media het by Christian Giesel, Syngenta Suid-Afrika se hoof van bemarking, gaan uitvind wat kommersiële produsente kan verwag en hoe Syngenta help om die uitwerking van klimaatsverandering op hul boerderye te verlig.

Hy sê ʼn opname wat Ipsos MORI in 2020 namens die Syngenta-groep gedoen het, het bevind dat 72% van grootskaalse produsente in die VSA, Frankryk, China, Brasilië, Indië en Afrika diep bekommerd is oor die skade wat klimaatsverandering oor die volgende vyf jaar aan gewasopbrengste, dieregesondheid en hul vermoë om sake te doen, gaan aanrig.

 

Christian Giesel, hoof van bemarking by Syngenta Suid-Afrika. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

“Drie uit elke vier produsente in Afrika het gesê hul boerderye word reeds tot ʼn groot mate deur klimaatsveranderinge geraak, veral droogtes en watertekorte.

“In Suid-Afrika het Syngenta ʼn aantal opnames gedoen om die gemiddelde reënval en temperatuur oor Suid-Afrika oor die laaste 20 jaar te bepaal. Oor dié tydperk kon ons duidelik sien dat reënval besig is om te daal en temperatuur besig om te styg. Hoewel die laaste twee, drie seisoene buitengewone hoë reënval gehad het, skets die langtermynvooruitsigte ʼn ander prentjie. Die uiterste gevalle wat ons opmerk, is ook meer beduidend.”

Giesel sê klimaatsverandering veroorsaak dat besproeiing noodsaaklik word, maar waterbronne is alreeds onder druk. “Produsente moet dus doeltreffende waterbestuurpraktyke inspan en nuutskeppende oplossings vind om hul plase produktief te hou.”

 

Besproeiing gaan noodsaakliker word soos reënval daal. (Foto: TLU SA/Facebook)

 

In Suid-Afrika bring die El Niño-verskynsel lang periodes van laer reënval mee, wat tot ernstige droogtes lei. Dit ry gewas- en veeboerdery in die wiele en vererger die uitdagings wat klimaatsverandering inhou. El Niño ontwrig plant- en oessiklusse en dit het ʼn negatiewe impak op opbrengs en die stabiliteit van landbou.

Hy sê in Suid-Afrika styg gemiddelde temperature al sedert 1979 gaandeweg. Meteoblue.com, ʼn aanlyn weergids, stel die toename op net meer as een graad oor die afgelope drie dekades. Hoër temperature dra by tot hittestremming, verminderde fotosintese en laer produktiwiteit in gewasse.

Hittegolwe wat meer gereeld en meer intens voorkom, stel gewasgesondheid in gevaar en stimuleer omstandighede vir veldbrande. Dit word noodsaaklik vir produsente om kultivars wat meer veerkragtig is te plant en doeltreffende besproeiingstrategieë toe te pas ten einde die veranderende klimaat beter te hanteer.

Die samevoeging van laer reënval en stygende temperature en die wisselvalligheid van albei, dui onomwonde op klimaatsverandering.

Syngenta se rol in bestuur van klimaatsverandering

“Syngenta is deeglik bewus van die uitdagings wat klimaatsverandering aan landbou stel en is daartoe verbind om oplossings te verskaf wat produsente in staat stel om die gevolge daarvan te versag,” sê Giesel.

Syngenta se navorsing- en ontwikkelingspan in Switserland ondersoek nou nuwe formules vir gewasbeskermingsprodukte om nie net gewasse teen peste en plae te beskerm nie, maar ook teen abiotiese faktore soos droogtes en hoë temperature, om die spanning op gewasse in droë en warm tydperke te verlig.

“Slegs deur nuutskeppende produkte, tegnologie en dienste kan ons water doeltreffender en produktiewer gebruik, opbrengs verhoog, voedselverliese en -vermorsing verminder en help om koolstof in die grond vas te lê,” sê hy.

Saadbehandelingstegnologie

Saadbehandelingsprodukte, soos swamdoders, help vir gesonder wortelmassas sodat koolstofvaslegging in die grond verhoog en gewasopbrengs verbeter.

 

Kyk: So word saad met ‘n beskermende laag bedek:

 

Moderne plaagdoders en eienskappe

Syngenta se gevorderde plaagdoders met nuwe eienskappe beskerm gewasse teen onkruid, insekte en siektes en maak hul sodoende meer bestand teen uiterste weerstoestande. Dit verhoog grondproduktiwiteit en verhoed die vrystelling van kweekhuisgasse sodat meer grond nie vir landbou aangewend hoef te word nie.

Herlewingslandbou

Syngenta moedig klimaatvriendelike bestuurspraktyke soos minimumbewerking, wisselbou en doeltreffende voedingstofbestuur aan. Wanneer hierdie praktyke saam met permanente gewasbedekkingstrategieë gebruik word, word landbougrond reservoirs wat koolstofdioksied uit die atmosfeer verwyder.

Tegnologie

Produsente gebruik reeds vir dekades toerusting en GPS-tegnologie om opbrengs te maksimaliseer. “Deurbrake in kunsmatige intelligensie en masjienleer werk ook hand aan hand met nuutskeppings in die landbou,” verduidelik Giesel. “Sulke vernuwing is besonder toepaslik in presisieboerdery en Syngenta is ʼn voorloper hierin. Voorbeelde van hierdie nuutskeppings is die siekterisikokaart en Spray Assist.”

Die siekterisikokaart, of RiskMap, is Syngenta se gratis aanlyn siekterisikodiens wat aartappelprodusente help om beter besluite aangaande gewasbeskerming te neem en sodoende opbrengs, gewasgehalte en winsgewendheid te verbeter.

Die CropWise Spray Assist-app, wat op jou slimtoestel afgelaai kan word, gebruik korttermynweervoorspellings om aanbevelings te doen oor die beste tyd om te spuit en watter spuitstukke om te gebruik. Aanbevelings word vyf dae vooruit en tot op die naaste uur gedoen om produsente in staat te stel om gewasbeskermingsprodukte op die doeltreffendste manier toe te dien.

Versamel vennote

Vir chemie en toerusting om doeltreffender te werk word hulle meer interafhanklik. Syngenta en John Deere het onlangs ʼn strategiese vennootskap gesluit om hul produkte en stelsels meer vaartbelyn te maak. ʼn Voorbeeld hiervan is in spuittegnologie, waar Syngenta se chemie makliker die teiken kan tref indien John Deere se spuit daarvoor aangepas is. Faktore wat tydens die ontwerp in ag geneem moet word, is wind, humiditeit, turbulensie, swewing, druppelgrootte, toedieningsvolume en mengkonsentrasie tydens toediening. Derhalwe moet die tegnologie in die spuit, soos sy sensors en sproeikoppe, dienooreenkomstig ontwikkel word.

 

Kyk: Syngenta se chemie en John Deere se spuite werk al hoe nouer saam:

 

Syngenta het ook ʼn Italiaanse biostimulantmaatskappy, Valagro, bekom om sy portefeulje in dié afdeling uit te brei. Volgens Giesel wil sy maatskappy met behulp van biostimulante spanning in gewasse wat deur abiotiese faktore veroorsaak word, die hoof bied.

“Syngenta glo in ʼn sinergistiese benadering tot die bestuur van klimaatsverandering. Die enigste manier om ʼn volhoubare en klimaatbestande landbousektor in Suid-Afrika te bou is deur samewerking tussen alle belanghebbendes, insluitend Syngenta, beleidsmakers en produsente,” sê Giesel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Truman Burbank ·

Klimaats verandering is op n pad waar geen u draaie is nie.

Andre ·

Hier verander die klimaat winter en somer, maar ons beplan proppe vir vulkane. Trust the science!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.