AfriForum ondersteun boere met plaasbeveiliging

plaashek-pexels

(Argieffoto: Pexels)

Suid-Afrikaanse boere word daagliks deur plaasaanvalle bedreig. Hoewel die nuutste syfers – soos elke vorige jaar – skokkend is, weier die regering steeds om plaasaanvalle en -moorde as prioriteitsmisdade te verklaar. Die burgerregteorganisasie AfriForum het onlangs ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde van stapel gestuur, wat bewusmaking-, veiligheid-, voorkoming- en ondersteuningsveldtogte op plaaslike, nasionale en internasionale vlak insluit.

AfriForum sal voortgaan om sowel nasionale as internasionale aandag op plaasmoorde te vestig. Die organisasie sal ook sy posisie as nieregeringsorganisasie met spesiale raadgewende status by die VN gebruik om geskrewe en mondelinge voorleggings by verskeie van dié forums te maak oor die wreedaardige werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika en hoe die Suid-Afrikaanse regering tot die krisis aandadig is.

Aangesien boere nie op die regering kan staatmaak om plase te beveilig nie, het AfriForum drie strategieë in werking gestel om plaasgemeenskappe se weerbaarheid teen plaasaanvalle te versterk.

  1. Beveilig plase

AfriForum se veiligheidstrukture poog om gemeenskappe te bemagtig om plase en plaasbewoners te beveilig sodat dié gemeenskappe vry, veilig en voorspoedig kan wees. AfriForum bied in samewerking met die familieboernetwerk Saai die volgende aan om plase te help beveilig:

  • Plaaswoningveiligheidsoudit

AfriForum se veiligheidsafdeling voer ’n oudit van die plaashuis en ander proaktiewe beskermingsmaatreëls uit om gevalle te voorkom wat mense se lewens en eiendom in gedrang mag bring.

  • Opleiding in basiese noodhulp

AfriForum verskaf praktiese opleiding in noodsaaklike basiese noodhulp, wat insluit toneelassessering, algemene veiligheid, kardiopulmonêre resussitasie (KPR), bloedingbeheer en die spalk van ledemate. Die opleiding fokus op die behandeling van tipiese beserings wat tydens plaasaanvalle opgedoen word.

  • Wapenopleiding

Hoewel baie boere gewapen is, is nie alle plaasbewoners noodwendig opgelei in die veilige hantering van vuurwapens nie. Daar bestaan dus ’n moontlikheid dat ’n kind of werker noodgedwonge ’n wapen tydens of ná ’n aanval sal moet hanteer. Plaasbewoners kry opleiding in basiese wapenbehendigheid en die vereistes van veilige vuurwapengebruik, waarna hulle praktiese vuurwapentegnieke inoefen. Die beginsels van noodweer word ook deur regskundiges verduidelik, met die klem op die beginsels van minimum geweld en noodweer.

  • Analoogradiostelsel en radio-opleiding

AfriForum verskaf tweerigtingradio’s as noodkommunikasiemiddel aan sommige plaasbewoners, asook ook opleiding in die gebruik van dié radio’s, insluitend spraakprosedures wat vir radiogebruik geld.

AfriForum skep ook die geleentheid vir ons lede en die breër publiek om aan hierdie veldtog deel te neem en te help om ons plase te beveilig deur ’n skenking by www.beveilignplaas.co.za te maak.

  1. Slagofferondersteuning

AfriForum se trauma-eenheid bied fisiese en emosionele ondersteuning op plaasmoordtonele, wat berading aan slagoffers insluit.

Die eenheid ondersteun plaasmoordslagoffers deur die skoonmaak van die toneel te koördineer, hulp te verleen met die aankoop van noodsaaklike huishoudelike behoeftes, ondersteuning te bied om byvoorbeeld linne te vervang en akkommodasie vir die slagoffers by familielede of bure te reël (indien nodig).

Die eenheid speel ook ’n belangrike rol deur slagoffers na uitkenningsparades te vergesel, fisiese en emosionele ondersteuning tydens hofverrigtinge te bied, deur toe te sien dat die polisie billik teenoor slagoffers optree en deur te verseker dat hul regte deurentyd beskerm word.

  1. Geregtigheid

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel is gereed om in te tree wanneer ondersteuning met ’n plaasmoordondersoek benodig word. Dit is soms nodig waar daar geen of min vordering met ’n saak is nie, of waar daar wantroue in die polisie se ondersoekvermoë bestaan.

Die eenheid sal waar nodig ’n waaksaamheidsopdrag in ’n plaasmoordsaak namens die klaer aanvaar en die hofverrigtinge bywoon om te verseker dat geregtigheid geskied.

Indien iemand weens politieke redes nie vervolg word nie, sal die eenheid ook privaat vervolging instel aangesien niemand bo die reg verhewe is nie.

Jy kan help om plase te beveilig. Besoek www.beveilignplaas.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.