Blus die hittegolf-vuur só

Foto ter illustrasie. (Markus Trier/Pixabay)

Talle dorpe en stede in die noorde van Suid-Afrika word tans deur ’n hittegolf in die gesig gestaar en word genoodsaak om van allerhande kreatiewe maniere gebruik te maak om hulself en diegene rondom hulle teen die hitte te beskerm.

Hier is raad om die uitwerking van die versengende hitte te bekamp.

Moenie die water vergeet nie

Die inname van sowat agt glase water ʼn dag is belangrik, maar word noodsaaklik in die tyd van ʼn hittegolf. Maak seker dat jy ten alle tye water by jou het om gehidreer en koel te bly, of om dit vir iemand te gee wat dit nodig mag hê.

Wagter se waterbak

Wanneer jy na water gryp om te voorkom dat jy dehidreer, dink aan jou troeteldier wat nie in woorde vir jou kan sê dat hulle water nodig het nie. Maak seker dat hul waterbakke ten alle tye vol en vars is.

Alhoewel jou liefdevolle hond dalk met oë van verlange na sy of haar leiband staar en jou elke nou en dan kom pla om te gaan stap, staan sterk en bly liefs binne. So beskerm jy nie net jouself nie, maar ook jou hond teen die hitte.

Indien jy eksotiese troeteldiere het, maak seker dat hul temperatuurreguleerders deurlopend reg is en hou hul waterbakke vol.

Hou gordyne toe

Alhoewel dit alte heerlik is om soms net in die hitte van die middagson te sit en ontspan, noodsaak die hittegolf jou om maar eerder die gordyne toe te trek. Dit sal voorkom dat die huis deur die loop van die dag té warm word.

Hou jou tjor dop

Indien jy ’n motor ry wat maklik oorverhit, maak seker dat jy alle noodnommers op jou foon of selfs op papier in die paneelkissie het. Wanneer die kar dan tot stilstand gedwing word, het jy darem toegang tot kontakbesonderhede van mense en organisasies wat jou sal kan help.

Dink aan ander diere

Indien jy iemand is wat graag die voëllewe rondom jou huis geniet, kan jy gerus ’n bietjie water op jou voëlvoerder sit of sorg dat jou voëlbadjie vol is. Dan kan jou geveerde vriende heerlike lafenis op jou agterstoep geniet, dit is immers nie net mense wat die hitte ervaar nie.

Vermy die stoof

Ma kan gerus bietjie haar skoene uitskop en op die bank gaan lê – in hierdie hitte kook mens beslis nie!

Beplan etes wat nie gekook of gebak hoef te word nie, sodat jy die hitteverspreiding in jou huis kan verminder. Totdat die temperature weer bietjie laer word, kan almal gerus ʼn slaai geniet.

Kies jou klere en kleure reg

Wanneer jy in die oggend regmaak vir skool, kerk of werk, hou in gedagte dat sekere klere en kleure die impak van die hitte bloot sal vererger.

Trek klere aan wat van dun en ligte materiaal gemaak is, en maak ook seker dat die kleur van jou uitrusting nie te donker is nie, aangesien dit ook die hitte kan aantrek.

Bly binne

Vermy dit om in die son te staan, sit of baljaar waar jy kan. Wanneer jy wel nie ’n ander keuse het as om buitentoe te gaan nie, maak gebruik van ’n sambreel, hoed en genoegsame sonroom. Maak ook seker dat dié sonroom altyd by jou is om deurlopend te verseker dat die son nie skade aan jou vel aanrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.