Dieetkundiges bekyk jongste tendense in 2023

(Foto: Pixabay)

Dieetgiere, waninligting oor voeding en vetvernedering is van die tendense wat in 2023 uitgedaag gaan word deur ʼn groter behoefte om op gesondheidswelstand te fokus.

Die Suid-Afrikaanse vereniging vir dieetkundiges (Adsa) het ʼn paar voedingkundiges genader om te hoor watter neigings ons in 2023 in die koswêreld kan verwag.

Weg met kitsdiëte, vetvernedering (fat shaming)

Gewigsverliesbestuur is die afgelope paar jaar al hoe meer opsy geskuif om plek te maak vir ʼn strewe na gewigswelstand en liggaamspositiwiteit. Daar is toenemend ook ʼn beweging wat vriendelikheid en verdraagsaamheid teenoor mense wat oorgewig en vetsugtig is, aanmoedig, en self ʼn groter wekroep wanneer dit by vetfobie en -vernedering kom.

Retha Harmse, ʼn geregistreerde dieetkundige, hoop dat hierdie tendense vanjaar die voedingswêreld sal oorheers, omdat dit ʼn groter fokus op algehele gesondheid eerder as gewig plaas.

“Wat dieetkundiges van hierdie neiging laat hou, is dat almal met ordentlikheid en respek behandel word, en niemand word gestigmatiseer nie. Gesondheid, insluitend geestesgesondheid, word geprioritiseer en nie net ʼn persoon se gewig nie.

“Vernedering was nog nooit ʼn effektiewe motiveerder vir verandering nie. Navorsing dui daarop dat selfaanvaarding een van die hoekstene van selfversorging is, wat beteken dat mense met ʼn sterk selfbeeld meer geneig is om positiewe gesondheidsgedrag aan te neem.”

Kies voedingskundiges bó beïnvloeders

Dit ly geen twyfel nie dat ʼn magdom goeie voedings- en gesondheidsinligting bykans vir enigiemand toeganklik is, maar die betroubare bronne raak weg in die massa van giere en waninligting.

Leefstyl- en welstandbeïnvloeders is van die grootste sondaars. Hulle is invloedryk en huiwer nie om raad oor kos, diëte, vas, aanvullings, funksionele voedsel en voedingneigings te gee nie. Die gevaar is egter dat nie alle beïnvloeders die nodige opleiding en kwalifikasies het om so diens te lewer nie.

Faaizah Laher, ʼn geregistreerde dieetkundige in Gauteng, sê daar is sewe vrae wat jy as riglyn kan gebruik voordat jy jou in een van die jongste dieetgiere begewe:

  1. Sluit die “dieet” voedselgroepe uit, of lyk dit of die eetplan gebalanseerd is?
  2. Vra jouself: “Sal ek hierdie tendens of dieet vir langer as drie maande kan volg sonder om geïsoleer van my portuur- of vriendegroep te voel?”
  3. Sluit dit kosse uit waarvan jy hou?
  4. Sal jy jou kos apart van die res van die gesin moet berei?
  5. Moet jy duur of spesiale produkte aanskaf?
  6. Watter graad of kwalifikasie het die beïnvloeder?
  7. Sluit dit hutsmerke vir gewigsverlies, “thinspo” of dieet in wat mense in staat te stel om maklik soortgelyke tendense op te spoor?

Afgesien van hierdie vrae doen Adsa ʼn beroep op mense om eerder by ʼn gekwalifiseerde en geregistreerde persoon soos ʼn dieetkundige vir raad aan te klop. Hulle is die betroubare voedingskundiges wat navorsinggebaseerde, gesonde voedingsaanbevelings kan verskaf.

(Foto: Tamas Pap/Unsplash.)

Maak voedsel deel van selfversorgingsraamwerk

ʼn Megatendens wat in 2023 sal voortduur is die fokus op selfversorging en daarmee saam die jonger neiging om intuïtief te eet.

“Intuïtiewe eetgewoontes vorm deel van ʼn selfversorgingsraamwerk en dikwels kan baie van die dieet- en leefstylgiere in die kiem gesmoor word deur te vra of dit as selfversorging gesien sal word.

“Ongelukkig het ons sulke ongesonde verhoudings met kos ontwikkel. Ons neem maklik poeiers en konkoksies in, maar ons vrees normale voedselitems soos brood,” meen Retha.

Intuïtiewe eet is die teenoorgestelde van tradisionele diëte wat riglyne stel oor wat en wanneer jy mag eet, omdat jy jou intuïsie gebruik om gewig en eetgewoontes te reguleer.

Volgens Retha verskuif hierdie benadering ons fokus van wanordelike eetgewoontes en die idealisering van slankheid na liggaamsbewustheid, genieting van kos en gesonder koskeuses.

“Intuïtiewe eetgewoontes help om die dieetmentaliteit te verwerp en sogenaamde ‘reëls’ vir kos uit te daag. In plaas daarvan kan ons vrede met kos maak, die hongergevoel respekteer en ons liggame eerbiedig.”

Plantgebaseerde voedsel al hoe gewilder

Bewustheid oor die invloed wat ons lewenstyl en voedselkeuses op die omgewing het, sal hierdie jaar waarskynlik ʼn groter omvang hê.

“Kosproduksie word deur ons voedselkeuses bepaal en dit beïnvloed die omgewing in die vorm van energiegebruik, besoedelende vrystellings en ander afvalstowwe. Die hoë en ultraverwerking van voedsel is egter nie ʼn volhoubare tendens nie weens die swak gesondheidseffekte en die hoë impak op die omgewing,” verduidelik Kgadi Moabelo, geregistreerde dieetkundige en woordvoerder van Adsa.

Die inkorporering van plantgebaseerde voedsel en pogings om voedselvermorsing te beperk, word deur ʼn kollektiewe bekommernis oor mense se invloed op die planeet gedryf. Dit lei ook tot innovasie in die voedselbedryf soos die ontwikkeling van plantgebaseerde melk, laboratorium-gekweekte vleis en plantgebaseerde vleisalternatiewe.

Kgadi voorspel dat die hoë lewenskoste ook kostendense in 2023 sal beïnvloed, omdat verbruikers maniere sal soek om hul maandelikse begroting te rek.

(Foto: iStock)

Om te vas, of nie?

Daar word steeds wyd verkondig dat die vasdieet voordelig is vir onder meer gewigsverlies, bloedsuikerbeheer, hartgesondheid, breinfunksie en vermindering van inflammasie. Daar is ʼn verstommende toename in vas-apps wat vaspatrone, sakrekenaars en motiveringsgidse aan gebruikers bied, en dit maak dié dieet aanloklik vir mense wat nog nie gevas het nie.

Faaizah sê individue wat die vasdieet vir gewigsverlies of ander voordele oorweeg, moet wel die volgende punte in gedagte hou.

  1. Wat die bron van inligting is. “Is dit ʼn boek of webwerf? Baat die skrywer finansieel daaruit dat jy hulle boek koop, hulle blog lees of hulle video’s kyk? Is hierdie webwerf of sosialemediaplatform ʼn bron van die persoon se inkomste?”
  2. Die vasdieet is nie geskik vir almal nie. “Kinders, swanger vroue of bejaardes wat die risiko loop om spiermassa te verloor, moet die vasdieet vermy.”
  3. Tydsbeperkte eet is nie vir mense wat nie hul eetlus kan beheer nie en geneig is om te ooreet. “As jy meer geneig is om die hele kombuis na ʼn vasperiode te verorber, dan is dit nie vir jou nie.”
  4. Apps kan ʼn manier wees om te begin as jy gretig is om te probeer vas, maar wees bedag op jou leefstyl en gewoontes wat dalk uitdagings kan bied.
  5. Het jy al probeer om enige lewenstylveranderinge aan te bring voordat jy ʼn nuwe manier van eet aanpak of daartoe verbind het?
  6. Sommige van die newe-effekte van vas sluit in dehidrasie, hoofpyn, verhoogde stresvlakke en ontwrigte slaapsiklusse. Moegheid, sooibrand en spysvertering is ook al aangemeld.

Neiging na ‘voedsellose’ toekoms

Die mark vir voedings- en proteïenaanvullings is enorm en dit neem steeds toe. Daar is ʼn minderheidsbeweging wat neig om die belangrikheid van kos te verminder. Dit word gedryf deur die argument dat moderne wetenskap en tegnologie ons moet weglei van ons afhanklikheid van die natuur vir ons kos, en nader aan ʼn “voedsellose” toekoms moet stuur.

Kgadi stem nie saam dat aanvullings voedsel kan vervang nie. “Die rol van aanvullings is om die dieet ʼn hupstoot te gee of aan te vul. Dit is nie bedoel om kos te vervang nie.

“Die gebruik van aanvullings is spesifiek vir siektevoorkoming en -behandeling, veral in gemeenskappe waar voedselinname laer hoeveelhede vitamine en minerale bied.”

Kgadi sê verder dat jy waarskynlik nie aanvullings nodig het wanneer jy ʼn verskeidenheid gesonder kosopsies kies en dit in voldoende hoeveelhede eet nie. Sekere toestande soos gevorderde ouderdom, siekte en herstel, strawwe vlakke van fisieke aktiwiteite sowel as die gehalte van kosse sal heel waarskynlik aanvullings vereis.

“Kos bly steeds die beste opsie, en die verkryging van vitamines en minerale deur gesonde voedselkeuses verskaf ook bykomende voordelige voedingstowwe, soos vesel en vloeistowwe.”

(Foto: iStock)

Navorsers bekyk invloed van kos op jou gemoed

Daar is ʼn groeiende belangstelling in die moontlike invloed wat voedsel op mense se breinfunksie en geestelike welstand het. Onlangse navorsing ondersoek veral watter uitwerking jou dieet op algemene geestestoestande soos depressie en angs het.

Retha is van mening dat navorsing in hierdie veld in die komende jare net verder sal toeneem. “Daar is wêreldwyd ʼn fokus op die verbetering van geestesgesondheid en daar is nog baie om te ontdek en te bestudeer.”

Sy verduidelik dat wanneer iemand nie genoeg kos wat ryk is aan voedingstowwe inneem nie, kan jou liggaam noodsaaklike vitamine en minerale kortkom. Dit het dikwels dan ʼn invloed op jou energie, gemoed en breinfunksie.

“As jy dit oorweeg om veranderinge aan jou eetgewoontes aan te bring om ʼn geestesgesondheidstoestand te bestuur, is dit belangrik om die ondersteuning van ʼn dieetkundige te kry. Dit is gesondheidswerkers met die jongste, wetenskapgegronde voedingkundigheid en wat jou op die beste manier sal kan help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.