Fietsryers bevorder bewusmaking oor orgaan- en weefselskenking

Die Tell span. (Foto: Tell)

Om bewusmaking rondom orgaan- en weefselskenking te bevorder en die gesprek daaroor tussen families aan die gang te kry, het 13 fietsryers onlangs vir die eerste keer aan die Discovery 947 Ride Joburg-wedren deelgeneem.

Die 13 fietsryers, wat van Pretoria en Johannesburg kom, en so ver as in Vrede en Volksrust woon, het sowat R6 000 vir die Tell-organisasie ingesamel en hoop om volgende jaar meer mense vir die span te werf, asook meer skenkings te lok. “Ons gebruik tans die skenkings vir bemarkingsmateriaal, sodat ons pamflette en dies meer by hospitale en spreekkamers kan uitdeel om só nog mense as orgaanskenkers te betrek,” sê Stella de Kock, die organisasie se projekbestuurder.

“Ons hoop om volgende jaar met so tussen 50 en 100 ryers in ons span te spog. Ons ryers hierdie jaar is alles deur kletsbemarking gewerf,” sê sy.

De Kock vertel verder aan Maroela Media dat daar “heeltemal te veel” mense onnodig sterf omdat hulle nie betyds organe ontvang nie. Een persoon se organe kan agt mense se lewens red, terwyl hul weefsel, wat vel, been, senings en korneas insluit, 50 mense se lewens kan vergemaklik.

Organe wat geskenk kan word sluit longe, ʼn hart, niere, jou pankreas en lewer in. De Kock verduidelik dat niere en lewers aan twee verskillende mense geskenk kan word.

“Vir ons is dit belangrik dat mense met hul families gesels oor hul besluit om orgaanskenkers te wees. In Suid-Afrika is dit wet dat familielede die laaste sê het rondom hierdie besluit. Organe gaan dikwels verlore omdat mense nie bewus was van hul familielid se besluit om hul organe te skenk nie of die besluit teenstaan vir verskeie redes.”

Dié reël geld selfs al is die skenker geregistreer op die orgaanskenkingsdatabasis. “Daar is verskeie wanpersepsies oor orgaanskenking, wat die proses behels en wie kwalifiseer. Tell se doel is om die korrekte inligting aan die publiek asook mediese personeel te gee.”

Dié nie-winsgewende organisasie, die Transplant Education for Living Legacies (Tell), is deur Alice Vogt en Fawn Rogers gestig. Beide die vrouens ly aan sistiese fibrose en het al longoorplantings ondergaan.

#MakeItKnown

Die Tell tattoe. (Foto: Tell)

In April vanjaar het Tell hul #MakeItKnown-veldtog van stapel gestuur, wat deur middel van vennootskappe met tatoewinkels gratis ʼn aanhalingsteken op skenkers laat tatoeëer.

Sedert April het sowat 1 000 mense dié tatoeëermerk gekry. De Kock sê dat die volgende groot tatoeëringsdag op 30 November by die Soweto Ink-konvensie plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jax ·

Wonderlik! Dit is fantasties om te sien hoe mense soos julle help om orgaanskenking te bevorder!
Sterkte met jul projek!

Jax ·

Wou nog bysê dat orgaanskenking my kind se lewe gered het. My Dankbaarheid aan sy skenker se familie is onmeetbaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.