Hoor hier, stel sagter daai musiek!

(Foto: iStock)

’n Mens merk dit al meer op, van winkelsentrums tot skole, in verbygaande motors en selfs in ons eie huise: jongmense wat hulle weg van die wêreld se gewoel in ’n gedagtewolk toewikkel, hetsy met reuse-, kleurvolle oorfone of die nuutste piepklein toestelletjies wat byna onsigbaar in hul oorskulp skuil. Vir alles van musiek luister tot die jongste reekse stroom, of om speletjies te speel.

Die frases: “Hoe sê jy nou?” en “Askuus?” is lankal nie meer beperk tot Oupa wat nie meer so lekker kan hoor nie. Trouens, gehoorverlies word as ’n stil pandemie beskou wat ál meer en al jónger mense raak. Meer as 1 miljard jongmense staan die gevaar om hul gehoor as gevolg van langdurige luistertyd of onveilige volume-instellings te verloor, waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Dié syfer sluit nie die sowat 1,5 miljard mense in, wat reeds met ’n mate van gehoorverlies te kampe het nie. Boonop, sê die WGO, gaan dié syfer oor die volgende drie dekades verdubbel met tot 700 miljoen mense wat behandeling vir gehoorprobleme of -verlies gaan benodig.

Wêreldgehoordag, wat tot 2016 bekend was as Internasionale Oorsorgdag, word sedert 2007 jaarliks op 3 Maart gedenk, en is daarop gemik om bewustheid te skep oor oud én jonk se gehoor wat enersyds in gevaar is en andersyds beskerm moet word. Vanjaar se veldtog maak veral voorspraak vir die vroegtydige toetsing vir en behandeling van gehooruitdagings, terwyl ’n pleidooi reg oor die wêreld weerklink dat gehoorsorg deel moet vorm van primêresorgdienste, binne die breër konteks van gesondheidsdienste.

Slegs 10% van die wêreldbevolking (en ’n skamele 1% van mense in Afrika) het toegang tot behoorlike behandeling. Volgens die WGO is ’n belegging van minder as R25 per persoon nodig om oor- en gehoorsorg oor die volgende tien jaar vir almal wêreldwyd te verseker.

Ouderdomsverwante gehoorverlies

ʼn Swakker gehoor is deel van die natuurlike oudwordproses wat in ons veertigerjare begin en langsamerhand verswak tot ernstig in meer as die helfte van mense teen 80-jarige leeftyd. Die vroeë intrede van gehoorverlies, dit wel sê op ’n baie vroeër ouderdom, word al meer opgemerk.

Ouderdomsverwante gehoorverlies raak meestal ons vermoë om klanke met hoë frekwensies te hoor, soos vroulike of babastemme. Wanneer laas het jy soggens die voëls hoor sing, of die mikrogolfoond se piepgeluid, die yskas se sagte dreuning of selfs water wat uit ’n kraan loop? As jy sulke klanke “mis”, is dit tyd om ’n oudioloog te besoek om vir ouderdomsverwante gehoorverlies te toets.

(Grafika: Janice du Plessis/Maroela Media)

Ouderdomsverwante gehoorverlies, oftewel Presbyacusis, kan nie genees word nie, maar kan wel behandel word met moderne, digitale gehoortoestelle en in baie ernstige gevalle, met kogleêre inplantings. ’n Kogleêre inplanting is egter nie ’n gewone gehoortoestel nie. Dit word chirurgies ingeplant en help die gehoorsenuwee om die beskadigde deel van die binneoor te omseil en impulse direk na die brein te gelei.

Oorsake en vroeë tekens by kinders

Luidens ‘n verslag van die Internasionale Tydskrif vir Pediatriese Otorinolaringologie word drie tot ses uit elke duisend baba’s in Suid-Afrika met ’n vorm van gehoorgestremdheid gebore.

Oorsake by kinders kan insluit: otitis media (infeksie van die middeloor), genetiese afwykings, blootstelling aan harde geraas, en sekere siektes soos meningitis (breinvliesontsteking).

(Foto: iStock)

Gehoorverlies kan kinders op verskeie maniere benadeel:

  • Woordeskat, grammatika, woordorde en algemene aspekte van verbale kommunikasie is moeiliker om aan te leer.
  • Vertraagde of belemmerde spraakontwikkeling, aangesien stil klanke soos “s”, “f” en “t” nie uitgespreek of gehoor kan word nie.
  • Onbewus daarvan dat hulle hardop iets mompel, want hulle hoor nie die klank van hul eie spraak nie.
  • Isolering weens die verlies aan geleenthede om sosiale en emosionele vaardighede te ontwikkel.

As jy enige tekens van gehoorverlies by jou kind waarneem, moenie huiwer om hulp in te roep nie, want vroeë ingryping is die enigste uitweg na normale ontwikkeling vir dowe of gehoorgestremde kinders. As jy “nee” op enige van die volgende vrae antwoord, word ’n dringende oorondersoek aanbeveel:

OuderdomGedrag
GeboorteLaat harde geluide jou kind skrik?

Maak jou kind koer- of gorrelgeluide?

3 maandeGlimlag jou kind as iemand met hom/haar praat?
Maak jou kind babbelgeluide?
6 maandeDraai jou kind na die kant waar klanke vandaan kom?

Eksperimenteer jou kind met klanke?

9 – 12 maandeKyk jou kind op as jy roep?

Maak jou kind spraakagtige klanke?

1 – 2 jaarVerstaan jou kind enkelvoudige frases?
Het jou kind ’n woordeskat van 20 tot 50 woorde?Gebruik jou kind kort frases/sinsnedes?
2 – 4 jaarKan jou kind maklik ’n gesprek volg?

Gebruik jou kind sinne met twee tot drie woorde?

4 – 6 jaarVind enigiemand anders fout met jou kind se gehoor?
Het jou kind die vermoë om inligting oor te dra en vrae te rig?

(Foto: iStock)

Dit is raadsaam om jou kind se gehoor verskeie keer te laat toets, veral op die ouderdomme van ses, agt en tien jaar, of minstens een keer op laerskool, en een keer op hoërskool. Daar is verskeie maniere hoe jou kind vir gehoorverlies getoets kan word:

  • Otoakoestiese emissietoetsing (OAE) – ’n Klein sensor in die oorkanaal registreer die reaksie van die koglea (in die oor) op ’n fyn impuls wat na die oor gestuur word. Die afwesigheid van ’n eggo dui op ’n probleem met die binne-oor.
  • Ouditiewe breinstamrespons (ABR) – Elektrodes wat die brein se reaksie op klank meet, bepaal die sagste klank wat ’n reaksie verkry. Enige beweging tydens die toets kan die resultate beïnvloed, daarom word ouer kinders soms onder verdowing getoets.
  • Oudiometriese gedragswaarneming (BOA) – Gehoor word gemeet na gelang van die kind se gedrag, of gebrek daaraan, in reaksie op klanke en geluide.

’n Baba kan om genetiese redes, of as gevolg van breinvliesontsteking of ’n oorinfeksie doof gebore word. Om dít te verstaan, is dit belangrik om te onthou dat die oor uit drie dele bestaan:

  • Die buitenste deel is die oorskulp en oorkanaal.
  • Die middeloor bevat die oortrom, middeloorbene en oorbuis.
  • Die binneoor bestaan uit die koglea (gehoororgaan), halfsirkelvormige kanale (wat help met balans) en ‘n deel van die gehoorsenuwee.

Oorsake van gehoorverlies word bepaal deur vas te stel in watter deel van die oor ’n probleem voorkom.

  • Geleidende (konduktiewe) gehoorverlies word veroorsaak deur probleme wat die oordrag van klank deur die buite- en middeloor belemmer, maar steeds die koglea bereik. Dit kan dikwels chirurgies behandel word.
  • Sensorineurale gehoorverlies word veroorsaak deur probleme in die binneoor, insluitend die koglea en ouditiewe gehoorsenuwee wat keer dat seine na die brein gestuur word. Dit is ’n permanente toestand en kan nie medies behandel word nie.
  • Sentrale gehoorverlies is wanneer klank na die gehoorsenuwee oorgedra word, maar nie normaalweg na die brein gelei, of deur die brein verwerk word nie.

’n Eiesoortige kultuur

Horende persone is soms verbaas om uit te vind dat dowe of gehoorgestremde mense na hulself as lede van die dowekultuur verwys. Dit is ’n eiesoortige kultuur wat gebaretaal as primêre medium vir kommunikasie gebruik en hulself as ’n hegte en verweefde groep beskou wat mekaar se geselskap opsoek.

As hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet, is die eerste prioriteit om uit te vind waar hulle vandaan kom en of hulle enige dowe of gehoorgestremde vriende met mekaar gemeen het. Wanneer ’n persoon ’n byeenkoms van dowes of gehoorgestremdes verlaat, kan die proses nogal lank en uitgerek wees. Openlike kommunikasie is uiters belangrik in dié kultuur, en die weerhouding van inligting en bewaring van geheime word as verdag en teenproduktief beskou.

(Foto: iStock)

Moets en moenies

  • Wanneer jy met ’n dowe of gehoorgestremde persoon kommunikeer, bly positief en ontspan. Bou eers vertroue met ’n positiewe houding wat wys dat jy omgee.
  • Raak die persoon liggies op die skouer aan, waai jou hande of skakel ligte aan en af om die persoon se aandag te trek.
  • Maak eers oogkontak voordat jy begin kommunikeer. Gebaretaal is visueel en die oë word gebruik om boodskappe te interpreteer. Oogkontak dui ook spreekbeurte aan, veral in groepe waar almal na die volgende spreker kyk. Wag jou beurt af om te begin, net soos ’n gesprek in enige ander taal.
  • Hou jou gesig oop, vry van enige obstruksie soos lang hare of ’n serp. Wys dat jy oplet deur byvoorbeeld jou kop te knik (’n uitdrukkinglose gesig impliseer onoplettendheid).
  • Moenie voorwerpe gebruik om aandag te trek of met voorwerpe in jou hande beduie nie.
  • Waak daarteen om te naby aan die persoon te staan of te oorheers.
  • Moenie in ’n donker plek, in die skaduwee, of teen skerp lig soos voor ’n venster staan nie.
  • Vermy dit om tussen twee mense, wat in ’n gebaretaalgesprek gewikkel is, deur te loop.
  • As jy wegkyk, dui dit op die beëindiging van die gesprek.

Mites en wanopvattings

Daar bestaan talle wanopvattings en mites oor dowe en gehoorgestremende mense, wat doodgewoon onwaar is:

  • Dowe of gehoorgestremde persone mag nie voertuie bestuur nie.

Hoewel die meeste lande bestuurslisensies met voorwaardes aan dowe of gehoorgestremde persone uitreik, is daar slegs 26 lande wat dit geheel en al verbied.

  • Alle gehoorverlies kan met gehoortoestelle of kogleêre inplantings herstel word.

Dit is slegs die geval met been-geankerde gehoortoestelle wat klank deur die skedel herlei.

  • Alle dowe of gehoorgestremde persone begeer om heeltemal genees te word.

Terwyl sommige individue wel só voel, beskou ander hulself as ’n unieke minderheidsgroep in die breër samelewing, eerder as ’n gestremde.

  • Dowe of gehoorgestremde persone kan nie ’n telefoon gebruik nie.

Danksy moderne selfoontegnologie soos video-oproepe en teksboodskappe is dit vir dié groepering moontlik om moeiteloos met mekaar, asook met horende mense te kommunikeer.

  • Ouers van die meeste dowe of gehoorgestremde persone is ook doof.

In Suid-Afrika kom dit in minder as 4% van gevalle voor.

  • Alle dowe of gehoorgestremde persone gebruik en verstaan dieselfde gebaretaal.

Variasies (of dialekte) is nouliks verwant aan die gesproke tale wat in spesifieke gemeenskappe voorkom; daar is dus geen enkele, formele gebaretaal nie.

Bykomende bronne: National Today, The Lancet, Speech, Language & Audiology Canada, WHO, Hear-it.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.