Jou immuniteit: 10 helde

Hawermout (Foto: iStock)

Hier is tien kossoorte wat jou immuniteit ’n hupstoot kan gee:

  1. Hawermout-hupstoot

Daar’s ’n dapper stryder in elkeen: ’n witbloedsel (makrofaag) wat in jou beenmurg geproduseer word. Dit fynkam die liggaam en knoop gevegte met bakterieë, virusse en enige ander indringers aan. Hierdie helde word geaktiveer deur beta-glukane, ’n bestanddeel van veselryke voedsel. Die beste bron hiervan? Hawermout, meen die Block Center for Integrative Cancer Care in Illinois in die VSA. Eet dus gerus daardie bord hawermoutpap in die oggend, maar verkieslik nie kitshawermout nie.

  1. Wyn vir dié pyn

(Foto: pixabay)

’n Glas wyn saam met jou maaltyd is nie net goed vir hartgesondheid nie, maar kan help om voedselvergiftiging te keer. Wetenskaplikes aan die Oregon State University het bevind dat wyn drie algemene kospatogene kan afweer, naamlik E. coli, listeria en salmonella. Laboratoriumtoetse het gewys dat wyn se kombinasie van etanol, organiese sure en lae pH die kieme se genetiese materiaal deurmekaar krap. Volgens die navorsers geld dit vir enige wyn, maar veral rooiwyn.

  1. Sensasionele sitrus

Sitrus (Foto: iStock)

Veral gedurende die wintermaande en as verkoue ons beetpak, trek ons die vitamien C-aanvullings nader. Omdat ons liggaam nie vitamien C produseer nie, moet ons dit daagliks inneem (75 mg vir vroue en 90 mg vir mans) om ons immuunstelsel op te bou. Vitamien C verhoog die produksie van witbloedselle, wat die sleutel is tot die bestryding van infeksies. Byna alle sitrusvrugte bevat vitamien C. Smul gerus aan pomelo’s, lemoene, suurlemoene, kiwivrug, koejawels en selfs lemmetjies.

  1. Soetrissie-stukrag

Argieffoto (Foto: uroburos, Pixabay)

Rooi soetrissies is die koning van alle groente en vrugte as dit by vitamien C-inhoud kom. Een soetrissie bevat drie keer soveel vitamien C as byvoorbeeld ’n lemoen. Behalwe dat dit jou immuunstelsel versterk, help die vitamien C ook om jou vel gesond te hou. Beta-karotien (die pigment wat aan plante hul helder kleur gee), en wat deur die liggaam in vitamien A omgeskakel word, help boonop om jou oë en vel gesond te hou.

  1. Briljante Brusselse spruitjies

Brusselse spruitjies (Foto: iStock)

Dis nie net ’n uitstekende bron van vitamien C, K en B, foliensuur, vesel, kalium en yster nie, daar is ook bewyse dat Brusselse spruitjies jou teen kanker kan beskerm. Danksy die hoë veselinhoud kan rou of gestoomde Brusselse spruitjies jou cholesterolvlakke verlaag. Dit behoort tot dieselfde plantfamilie as kool, blomkool en broccoli. Dit is ’n goeie idee om ten minste twee tot drie keer per week dié kruisblommige groente op die spyskaart te sit.

  1. Ja vir jogurt!

Jogurt (Foto: iStock)

Koop jogurt met lewendige en aktiewe kulture soos Griekse jogurt. Die waarde van jogurt lê in die goeie bakterieë (probiotika) wat daarin voorkom. Dié bakterieë hou die groei van skadelike bakterieë in jou ingewande in toom. Geur self jou jogurt deur gesonde vrugte en heuning by te voeg. Jogurt is ’n uitstekende bron van vitamien B12 en die kalsium hou jou bene en tande gesond. Een koppie voorsien in 49% van jou daaglikse kalsiumbehoefte.

  1. Allemintige amandels

Amandels (Foto: iStock)

Wat die voorkoming en bestryding van verkoues betref, is ons geneig om van vitamien E te vergeet. Hierdie kragtige antioksidant is ’n vetoplosbare vitamien, wat beteken dat dit die teenwoordigheid van vet nodig het om behoorlik op te neem. Neute, soos amandels, bevat dié vitamien en bevat ook gesonde vette. Volwassenes benodig slegs ongeveer 15 mg vitamien E per dag. ’n Halwe koppie amandels (ongeveer 46 amandels) is 100% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid.

  1. Probeer papaja

Papaja. (Foto: iStock)

Papaja is nog ’n vrug wat met ’n stewige dosis vitamien C asook vitamien A en E spog. Dié antioksidante, asook die vesel in papajas, verlaag die risiko vir hartsiektes en hou cholesterol in toom. Papajas bevat ’n spysverteringsensiem genaamd “papain” wat anti-inflammatoriese eienskappe het en die foliensuur in papajas skakel die aminosuur homosisteïen om in minder skadelike aminosure. Hoë vlakke van homosisteïen, wat hoofsaaklik in vleisprodukte voorkom, is ’n risikofaktor vir hartsiektes.

  1. Bloubessies is bobaas

Bloubessies (Foto: Pixabay)

Bloubessies is ryk aan vesel en antioksidante. Die antioksidantpigment wat aan bloubessies hul blou kleur gee, help om hartsiektes te beveg, ouderdomsverwante blindheid teen te werk en geheueverlies hok te slaan. Dit help ook met die genesing van urienweginfeksies. Studies het voorts bevind dat bloubessies help om ’n afname in kognitiewe vermoë teen te werk en obesiteit beveg.

  1. A+ vir avokado’s

(Argieffoto: Pixabay)

Een avokado bevat die helfte van die vesel en 40% van die folaat wat jy daagliks nodig het om jou teen hartsiektes te beskerm. Hoewel sowat 75% van die kalorieë in avokado’s van die vette daarin kom, is dit meestal mono-onversadigde vette wat help om bloedcholesterolvlakke te verlaag. Boonop bevat avokado’s baie vitamien B, E en K, en navorsing het bewys dat dit die groei van orale kankerselle kan vertraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.