Kanker eis nou meeste lewens in ryker lande

kanker-pdpics-pixabay

Foto: PDPics/Pixabay.com

Kanker eis nou meer lewens van middeljariges in welvarende lande as kardiovaskulêre siektes, blyk uit omvattende navorsing wat pas in The Lancet gepubliseer is.

Die studie is ook in Suid-Afrika gedoen wat as ʼn middelinkomsteland beskou word, maar in Suid-Afrika is kanker reeds die hoofoorsaak van sterftes – dit eis jaarliks meer lewens as MIV/vigs, tuberkulose en malaria gesamentlik, blyk uit ʼn ander studie. Hierdie studie is deur Discovery Health gedoen en die syfers is verlede jaar bekend gemaak.

Volgens die wêreldwye studie wat deur die Population Health Research Institute by die McMaster‑universiteit in Kanada gedoen is, is kanker nou ’n groter doodsoorsaak as hart- en hartvatsiektes onder mense tussen 35 en 70 jaar oud in sekere welvarende en middelinkomstelande.

In die welvarende lande is kanker se sterftesyfer ongeveer dubbel so hoog as dié van hart- en hartvatsiektes, terwyl daar in armer lande tot drie keer soveel hart- en hartvatsiektelyers as kankerpasiënte sterf.

Op ʼn globale skaal, dit wil sê van ryk tot arm lande saam, is hart- en hartvatsiektes wel die dodelikste siekte.

Die studie deur Discovery Health het egter reeds getoon dat kanker die vernaamste doodsoorsaak in Suid-Afrika is. Tog tel Suid-Afrika nie onder die lande met die hoogste kankervoorkoms nie. Australië met 468 mense per 100 000 is die hoogste, gevolg deur Nieu-Seeland, Ierland, Hongarye en die VSA.

In Suid-Afrika is borskanker die algemeenste soort kanker onder vroue, met 128 vroue uit elke 100 000 wat dit ontwikkel. By mans is prostaatkanker die algemeenste en een uit elke 19 mans sal dit in sy leeftyd opdoen.

In 2018 is voorspel dat kankergevalle wêreldwyd met 18,1 miljoen in daardie jaar sou toeneem, en dat 9,6 miljoen mense wêreldwyd daaraan sou sterf.

Die siekte neem wêreldwyd toe, hoewel daar beraam word dat bykans 800 000 sterftes weens kanker tussen 1975 en 2000 in die VSA weens die afname in rokery voorkom is. In nog ʼn studie is bevind dat die 25%‑afname in rook in die VSA tot 2,7 miljoen minder kankersterftes tussen 1991 en 2016 gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jacques ·

Interressante feite Herman. Veral die “kanker in welvarende lande”. Sou hulle more ‘n geneesmiddel vir kanker vind, sal helfte van die wereld se ekonomie net eenvoudig weg wees. Bankrot. Geen verdere behoefte aan al die dokters, verpleegsters, terapeute, medisyne fabrieke en duur mediese versekering nie.
Ek glo definitief nie in samesweringsteorie nie, maar dit kan ‘n moontlikheid wees.

PieterJohannes ·

Dit is skokkend. Om te dink dat eenvoudige veranderings aan dieet en leefstyl sommige kankers kan voorkom. Suiker is die grootste kanker voedsel. Ons kos is vol stowwe wat kanker veroorsaak soos msg en groei hormone in vleis. Voerkrale in SA gebruik dit vrylik terwyl dit in Europa verbode is. Ek sal nie verbaas wees as dit ook in Australië en Nieu-Seeland gebruik word nie. Ons skakel oor van suiker na aspertame, wat nog groter gif is. Lae vet produkte en suikervrye koeldrank is nog slegter vir ons gesondheid. Kanker behandeling in SA is nog steeds vêr agter met nuwer behandelings in Eerstewêreldlande. Herman, dit sal baie insiggewend wees as mens inligting kan kry oor die hoeveelheid kanker veroorsakende stowwe in ons land wat wettig toegelaat word, hoewel daar reeds bewys is dat dit kanker veroorsaak of aanhelp.

Rene ·

Is dit moontlik ‘n fout? – een uit 19 mans wat prostaatkanker kry. So ‘n hoë syfer?

PieterJohannes ·

Dan praat ‘n mens nie eers van gifstowwe wat op graan, groente en diere gebruik word. Soms is daar ‘n verpligte wag tydperk na stowwe toegedien is. Wie respekteer dit of toets daarvoor?

Debbie ·

En die ergste van alles is dat daar klaar ‘n kuur vir kanker iewers in ‘n laboratorium lê. Klaar getoets en reg vir gebruik, maar daar is te veel geld in kanker vir al die rolspelers betrokke. Kanker hoort nie in hierdie wêreld nie. Dit het nie ‘n plek nie. As die medici maar net wil luister….

Charles ·

TOG is daar geen kuur vir kanker nie, maar vir die bevegting van *vigs* word daar halsoorkop geld en hulpbronne beskikbaar gemaak, O, die ironie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.