Kansa gee kolorektale kankerbewusmaking ʼn hupstoot

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het in vennootskap met die Suid-Afrikaanse kolorektale Vereniging (SACRS) sy kolorektale kankerbewusmaking- en ondersteuningsprogram onlangs bekendgestel. As gevolg van Covid-19 is siftingstoetse en behandeling vertraag, maar Kansa het die publiek nietemin aangemoedig om om te sien na hul gesondheid.

Elize Joubert, Kansa se uitvoerende hoof, sê kolorektale kanker affekteer ʼn beduidende aantal mans en vroue in Suid-Afrika.

“Dit is die tweede mees algemene kanker by mans en die derde mees algemene kanker by vroue volgens die nasionale kankerregister van 2017. Ongelukkig word die simptome van kolorektale kanker nie altyd herken vir wat dit werklik is nie. Dit lei tot verkeerde diagnose en ’n meer gevorderde fase van kanker.”

Kansa se kolorektale kankerbewusmaking- en ondersteuningsprogram wil daarom mense help om die tekens van kolorektale kanker te herken, hul kennis rondom siftingstoets-opsies uit te brei om vroeë opsporing te fasiliteer, met die doelwit om die risiko van kolorektale kanker te verlaag.

“Ons hoop ook om pasiënte met kolorektale kanker te ondersteun sodat hulle die diagnose en behandeling beter kan hanteer, deur ondersteuningshulpbronne reg deur die jaar bekend te stel.”

“Die doel van die hulpbronne is om mense te help om openbare en private gesondheidsondersteuningsdienste beter te verstaan en daartoe toegang te kry, en ook om te help met pynbeheer, stoma-produkte en -sorg,” sê Joubert.

Kansa en SACRS sal ook by beleidsbepalers voorspraak maak vir ’n nasionale kolorektalekankerbeleid. Hierdie beleid moet die regte van pasiënte met kolorektale kanker bevorder; bevolkingsgebaseerde siftingstoetse lei asook openbare gesondheidsdienste wat met risikovermindering, behandeling, sorg, ondersteuning en die beheer van kolorektale kanker verwant hou.

Dr. Adam Boutal, hoof van kolorektale chirurgie by Groote Schuur-hospitaal en president van SACRS, sê bewusmaking en opvoeding oor dié saak is uiters belangrik want vroeë diagnose van kolorektale kanker verbeter die kanse op oorlewing.

Simptome

Dit is belangrik om Kansa te kontak of na ’n plaaslike kliniek of dokter te gaan sodat hulle die simptome kan ondersoek.

Simptome van kolorektale kanker kan soos volg voorkom:

  • ‘n Volgehoue verandering in opelyfgewoontes (insluitend diarree of hardlywigheid of ’n verandering in die vastheid van die ontlasting).
  • Die bloei van die rektum of bloed in die ontlasting.
  • Volgehoue abdominale ongemak (krampe, winde of pyn).
  • Die gevoel dat die ingewande nie heeltemal leeg word nie.
  • Swakheid of moegheid.
  • Gewigsverlies sonder verduideliking.

Siftingstoetse

Kansa se stoma-ondersteuning

In sommige gevalle moet ’n gedeelte van die ingewande en/of kolon by kolorektale kanker-pasiënte verwyder word, wat beteken dat hulle dan ’n permanente stoma het. ’n Stoma is ’n opening op die buik wat aan die spysvertering- of urinestelsel verbind kan wees sodat gifstowwe uit die liggaam verwyder kan word. Dit kan ’n rukkie neem vir ’n pasiënt om aan ’n stoma gewoond te raak, daarom is dit belangrik om ondersteuning by Kansa te kry.

Kansa se stoma-dienste bied stoma-produkte en -bykomstighede asook ondersteuning vir pasiënte. Kansa het onlangs die stoma-tele-ondersteuningsdiens bekend gestel wat aanlyn konsultasies vir stoma-pasiënte en hul gesinne bied om te help met uitdagings of navrae oor stoma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.