‘La Vie Extraordinaire’ vir demensie-bewusmaking

ʼn Bewusmakingsveldtog vir demensie word Saterdag van stapel gestuur en die inisiatief is ʼn nuwigheid in Suid-Afrika.

Residentia, ʼn niewinsgewende organisasie wat hom beywer vir die versorging en ondersteuning van bejaarde- en demensiesorg, beplan om minstens R250 000 ter ondersteuning van die bewusmakingsveldtog in te samel, wat konsultasie, inligting, verwysings, asook opleiding- en ondersteuningsprogramme in die gemeenskap en vir versorgers sal kan finansier.

Die inisiatief skop Saterdag met ʼn bekendstellingsgeleentheid in Centurion af. La Vie Extraordinaire vind by die Sorex Landgoed in Clubview plaas.

Volgens Ilse Haasbroek, nasionale bestuurder van versorging by Residentia, is hulle al meer as 60 jaar toegewyd tot bejaarde sorg en kritiek bewus van die uitdagings rakende spesifiek die versorging van mense wat leef met Alzheimer se siekte en demensie.

“Die wêreld daarbuite moet meer bewus gemaak word van die werklikheid en die uitdagings om met demensie te leef en dit te hanteer. Versorgers moet opgelei en fasiliteite omskep word om ʼn omgewing daar te stel waar demensiepasiënte met waardigheid kan leef. Ondersteuningsgroepe vir families moet tot stand gebring word.

“Ons groot doel is om hiervan ʼn jaarlikse geleentheid te maak, waar ons bewustheid, opleiding, kennis en geborgde ondersteuning en fondse kan motiveer om ons bedryf in staat te stel om ʼn hoër vlak van sorg te kan lewer wat baie nodig is.”

Volgens Haasbroek is daar meer as 44 miljoen mense wêreldwyd wat met Alzheimer se siekte leef  en reeds meer as 2,2 miljoen Suid-Afrikaners wat met demensie leef.

“Al is daar niks wat gedoen kan word om die verwoesting van hierdie siekte stop te sit nie, kan ons die lewe so ʼn klein bietjie beter maak vir diegene wat leef met Alzheimer se siekte of demensie.”

Besonderhede oor die bekendstellingsgeleentheid:

  • Die bekendstelling van die Residentia-bewusmakingsveldtog sal op 11 Mei by die Sorex Landgoed in Clubview, Centurion, plaasvind.
  • By aankoms sal die gaste ingetrek word in ʼn “antieke karnaval” in die buite-arena – vanaf 15:30 tot 17:45.
  • Die vertoning begin om 18:00 in die binne-arena.
  • Die naam van die geleentheid is La Vie Extraordinaire (wat beteken: buitengewone lewe; die lewe van iemand wat lewe met demensie).
  • Dit gaan ʼn geleentheid propvol verrassings wees en gebeure uit vervloë jare, musiek, sang, kleur en dans gaan elke persoon in die gehoor wegvoer na ʼn “ander wêreld”.
  • Kunstenaars: The Croons, Nadine, Annie Curtin, Joshua Bouwer en nog menige ander verrassings.
  • Dragkode: “Extraordinary”!

Kaartjies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.