Natuur se noodhulpkissie

Heuning is ’n natuurlike antibakteriese ontsmettingsmiddel. (Foto: iStock)

Die (kort) skoolvakansie is uiteindelik hier. Ma en pa se nerwe is papierdun en die kinders kan nie wag om van maskers en mure te ontvlug nie. By die kampplek of seebestemming aangekom, besef jy dat jy alles behalwe die noodhulpkissie onthou het.

Hoe gemaak as ’n bloublasie toeslaan, ’n lastige by jou steek, jou hoofpyn nie wil wyk nie of iemand sy vingers letterlik verbrand? Ontspan, want die koskas óf die natuur het waarskynlik net die regte medisyne vir minder ernstige noodgevalle.

Tien troefkaarte

  • Heling met heuning – Heuning is ’n natuurlike antibakteriese ontsmettingsmiddel. Smeer dit aan ’n brandwond en bedek met ’n skoon lappie. Dit kan ook gebruik word om ander wonde mee te ontsmet.
  • Troos met tee – Teeblare bevat anti-inflammatoriese eienskappe. ’n Klam teesakkie kan gebruik word vir velirritasies of om op bysteke en swere te sit. Selfs ’n swelsel sak sonder sukkel danksy die tannien wat in tee aangetref word.
  • Haal die byt uit – ’n Bloublasie wat sy tentakels om jou been span of ’n bysteek is genoeg om ’n dag op die strand behoorlik te bederf. Maak ’n pasta van koeksoda of vleisversagmiddel (meat tenderiser) en water om die allergiese reaksie te beperk.
  • Koue kuur – ’n Pakkie gevriesde groente is nie net ’n vinnige manier om ’n vakansiemaal aan te vul nie, maar dié kitskompressie kan wondere verrig om die swelling van ’n verstuite ledemaat of selfs ’n kneusplek te verminder.
  • Houdbaar met hawermout – Sonbrand, ekseem of ’n uitslag? Hawermout maak velirritasies en jeukerigheid houdbaar. Gooi rou hawermout in ’n sykous en laat dit in ’n bad warm water week terwyl die persoon in die water sit.
  • Allemintige aalwyn – Hierdie genesende plant is ryk aan fitochemikalieë, wat help om die vel af te koel en inflammasie te verminder deur die voginhoud van die vel te verhoog. Dit is ’n wonderlike, natuurlike manier om skaafplekke, sonbrand, ligte brandwonde, snyplekke, ’n droë vel, velirritasie en insekbyte te behandel.
  • Muskietbyte se moses – Basielkruid is nie net ’n uitstekende muskietweerder nie, maar die olie in die blare help ook om jeukerigheid te verlig. Boonop help basielkruid om korte mette van hoofpyn te maak.
  • Genesende gemmer – Of dit nou vars gesny of in poeiervorm is, of jy dit by jou badwater of tee gooi, gemmer stimuleer goeie spysvertering, verminder naarheid, verlig hoofpyn en keelseer, en verminder verkouesimptome.
  • A+ vir asyn ­– Vanweë van sy antimikrobiese eienskappe is asyn nuttig vir die behandeling van velinfeksies, sonbrand en brandwonde, naelswamme, vratte en oorinfeksies. Boonop hou dit jou bloedsuiker en cholesterol in toom, en help met gewigsverlies.
  • Maklik met melk – Die vet- en proteïeninhoud in melk verlig die pyn van brandwonde en bevorder genesing. Week die brandwond 15 minute lank in melk vir vinnige verligting. Volroomjogurt sal ook help om jou uitgedroogde vel af te koel en te hidreer.

Maak ’n pasta van koeksoda of vleisversagmiddel (meat tenderiser) en water om die allergiese reaksie te beperk. (Foto: iStock)

Hierdie artikel is nie bedoel en moet nie beskou word as mediese advies nie. Raadpleeg altyd jou geneesheer en/of apteker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.