Veg of Vlug? Hoe moet ons oor konflik dink?

(Foto: Pixabay)

Deur Tia Gruenenfelder

“Konflik is ʼn normale deel van menslike gedrag. Inteendeel, ʼn verhouding met gereelde konflik kan selfs gesonder wees as een waar daar min of geen konflik is. Die rede daarvoor is dat ons konflik kan gebruik om probleme uit te sorteer en daarom kan dit lei tot groei en ontwikkeling binne ʼn verhouding.”Elizma van der Smith, kliniese sielkundige

Van hierdie aanhaling van Elizma van der Smith kan ons nie wegkom nie. Daar is nie een van ons wat nie op verskeie vlakke van ons lewens – en deur ons kontak met ʼn verskeidenheid mense – van tyd tot tyd konflik ervaar nie.

As hierdie feit jou wil laat weghardloop of as jy vind dat jy te gereeld in plofbare konfliksituasies beland, dan is dit belangrik om die volgende te verstaan:

  • Om konflik te beleef, is normale gedrag en deel van ons daaglikse verhoudings.
  • Konflik gebeur weer en weer.
  • Die temas van konflik is dikwels herhalend.
  • Konflik is oplosbaar as die bal gespeel word en nie die man nie.

Kennis van hoe die mens se brein werk, kan wondere doen in die hantering van konflik.

Wat gebeur in my brein wanneer ek konflik in die spreekwoordelike oog staar?

Alle sensoriese inligting vanaf die oog, oor, mond, hand en die vel gaan na die limbiese sisteem in die brein. Die hippokampus in die brein speel hier ʼn groot rol. Dit is waar alle sintuiglike prosesse ontvang word en vorige emosies en geheue van vorige insidente gestoor word.

Wanneer jy jouself in ʼn konfliksituasie bevind, word die sintuiglike inligting deur die brein in die hippokampus verwerk en daar word oombliklik bepaal watter deel van die brein hierdie inligting volgende gaan ontvang – die frontale korteks, wat rasioneel funksioneer, of die amigdala, wat meer instinkmatig en emosioneel funksioneer, met ander woorde die veg of vlug-reaksie. Hierdie keuse bepaal die tipe planne wat jy gaan maak om ʼn spesifieke konfliksituasie te hanteer.

Dit is daarom van uiterste belang dat ons sal verstaan hoe die frontale korteks, in kontras met die amigdala, boodskappe vanaf ons hippokampus verwerk en watter opdragte hierdie dele van die brein uitstuur waarop jy dan uitwaarts reageer.

Kom ons kyk hoe werk dit as jou brein besluit dat die inligting deur die amigdala hanteer moet word:

Jy dink aan oorlewing.

Die boodskappe maak herinneringe los en jy reageer dus instinktief deur vorige ervaring en emosies te herroep en te gebruik.

Jou amigdala kyk uit vir bedreiging en is gereed om onmiddellik te reageer deur te veg of te vlug.

Kritiese denke in die oomblik ontbreek.

Kom ons kyk hoe lyk dit as jou brein besluit dat die inligting deur die frontale korteks hanteer kan word:

ʼn Proses van differensiasie vind plaas, waar jy probeer om vanuit die konfliksituasie sinvolle alternatiewe tot die veg of vlug te ontdek en te oorweeg. Jy kan aktief luister na ʼn ander se stories om hulle alternatiewe te oorweeg, sonder dat dit beteken dat jy instem of saamstem.

Jy kan in voeling bly met die persoon wat nie jou standpunt deel nie, sonder om emosioneel opgewerk te raak.

Jy raak vertroud met ʼn proses waarin jy leer om jou eie perspektiewe raak te sien en weer te kan gee sonder om bedreig te voel deur ʼn ander.

Hier word jy nie oorweldig deur emosies en vorige ervarings nie, maar alles word gebalanseerd oorweeg.

(Foto: Pixabay)

Die toets

As ons eerlik is sal ons besef dat ons sintuie en die emosies wat tydens konfliksituasies daardeur opgewek word, ons brein maklik lei om te veg of te vlug! Daar is twee karaktertipes wat na vore kom wanneer ons in die konfliksituasies met ons amigdala dink. ʼn Eenvoudige manier om die reaksies te beskryf, is dat jy of soos ʼn “renoster” of soos ʼn “krimpvarkie” reageer.

Wanneer renosters konflik hanteer, kan hulle vrees en arrogansie inboesem, maar renosters is net gevaarlik wanneer hulle bedreig word. In ʼn goeie nugter toestand – soos wanneer die persoon met sy frontale brein dink  – is hy of sy vriendelik en saggeaard. Dit is kenmerkend van die renoster dat hy nie bang is vir konflik nie. Die renoster vat vlam en konflik word vinnig aangespreek. Hy of sy dink nie altyd aan die gevolge nie, maar wil die saak onmiddellik afhandel. Hulle kan maklik oorreageer en indien hulle bedreig voel, aanval. In sulke situasies sê die renoster-persoon dikwels dinge wat hulle later wens hulle kan terugtrek. Hulle kan ʼn persoon in ʼn gesprek in boelie – dikwels met slegte gevolge.

Kenmerkend van die krimpvarkie-persoon is dat, as hy moet kies tussen veg of vlug, hy of sy altyd eerder vlug. In enige konfliksituasie sal die persoon die ander in stilte aankyk en dan toeklap en in ʼn bondeltjie rol dat jy net stekels sien. Die krimpvarkie wil nie toetree tot die gesprek nie en sal alles doen om dit te vermy. Hy of sy kry stilstuipe. In Engels word dit goed beskryf as “the silent treatment”. Die Krimpvarkie sal dikwels – wanneer druk uitgeoefen word – dinge ontken wat hy of sy eintlik weet waar is, net sodat die gesprek beëindig kan word en hulle kan ontvlug uit die situasie. Hulle sal byvoorbeeld ontken dat hulle kwaad of ongelukkig is, terwyl dit inderdaad die geval is. Die krimpvarkie onttrek emosioneel van die situasie en voel baie blootgestel as hy of sy gedwing word om emosie te wys. Wanneer die Krimpvarkie veilig voel, is hy of sy innemend en vriendelik en wys graag toegeneentheid teenoor ander.

Herken jy jouself in een van hierdie twee diere? Dit is duidelik dat nie een van die twee reaksies ideaal is vir die oplos van konflik nie.

Die oplossing

Wat kan ons doen om weg te beweeg van ons veg- of vlug-keuses en gebruik te maak van die deel van ons brein wat logiese denke toepas en waar sinvolle alternatiewe tot veg of vlug ontdek en uitgevoer kan word?

Die volgende voorstelle kan handig te pas kom:

  • Leer jouself en jou maniere van konflikbestuur ken. Vorige gedrag en vorige maniere van doen, is die maklike paadjie (die maniere wat jy ken), maar is nie noodwendig die beste paadjie nie.
  • Ou gewoontes vat tyd en daadwerklike aandag om te verander.
  • Wees eerlik met jouself aangaande dit wat werk en dit wat nie werk nie.
  • Dink na oor hoe jy reageer en hoekom jy so reageer. Vra iemand wat jou goed ken om jou hiermee te help. Soms is jy te naby aan die probleem om die waarheid te sien. Onthou jou sintuie het baie dinge beleef en ervaar.
  • Vra altyd wat jy graag sou wou bereik in die situasie en hoe reaksies in die verlede gelei het tot suksesvolle konflikhantering.
  • Plaas “remskoene” in plek vir wanneer jy wil oor- of onderreageer.
  • As jy sukkel om toe te tree tot ʼn gesprek, gee jouself die vryheid en toestemming om te reageer op jou eie tyd, maar kommunikeer duidelik met die ander persoon, sodat hy of sy ook verseker is dat die saak aangespreek sal word.
  • Leer om aandagtig te luister sonder om aannames te maak. Onthou, aktiewe luister beteken nie dat jy saamstem met alles wat gesê word nie.
  • Die beste is om in voeling te bly met die persoon wat nie jou standpunt deel nie, sonder om emosioneel te oorreageer.

Die goeie nuus is dat ons nie vasgevang hoef te bly in ons renoster- of krimvarkie-maniere nie, maar dat met selfkennis en begrip van hoe ons brein funksioneer, ons beter konflikhanteerders kan wees.

  • Tia Gruenenfelder werk as opvoedkundige sielkundige by Laerskool Swartkop en ook as familieberader by Kerk sonder mure. Verder is sy betrokke as terapeut by Moeggesukkel Rehabilitasiesentrum vir volwasse verslaafdes en dien op die direksie van Mon Care, ʼn tehuis vir kinders in nood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.