Wat is die doel van probiotika?

Die Covid-19-pandemie het opnuut die kollig laat val op ʼn gesonde leefstyl en immuunstelsel, en baie daarvan het met probiotika in jou liggaam te doen.

Angela Leach, hoof dieetkundige van Futurelife, sê 70% tot 80% van ʼn mens se immuniteitselle kan in jou spysverteringskanaal gevind word, wat beteken dat “goeie gesondheid in jou derms begin”. Dit is juis waarom probiotika so belangrik is.

“Daar is miljarde klein bakterieë wat in jou spysverteringskanaal voorkom, voordelige probiotika sowel as skadelike bakterieë. Die balans van die goeie en slegte bakterieë is van uiterste belang vir optimale gesondheid,” sê Leach.

“Daar is verskeie faktore wat daartoe kan bydra dat dié balans dikwels onderbreek word. Deur probiotika as aanvullers te gebruik kan die balans egter herstel word.”

Leach bied vyf gesondheidsvoordele van probiotika-aanvullers:

  1. Bevorder spysverteringstelsel

As die bakterieë in jou derms ongebalanseerd is, kan dit lei tot maagkrampe, naarheid, diarree en hardlywigheid. Probiotika-aanvullers sal help om opelyf gereeld te laat plaasvind, sal diarree voorkom, die kans op kolonkanker verminder en die algehele ongemak wat saam met die probleem kom, verbeter.

  1. Ondersteun immuunstelsel

Verskeie navorsingsondersoeke toon dat probiotika die aktiwiteit van belangrike selle in die immuunstelsel drasties verbeter. Probiotika help hierdie selle om die liggaam se natuurlike verdedigingsmeganisme te versterk.

  1. Bevorder geestesgesondheid

ʼn Groot deel van die liggaam se serotonien, wat daarvoor verantwoordelik is om mense gelukkig te maak, kan in die spysverteringstelsel gevind word. Onlangse navorsing het getoon dat die gebruik van probiotika die gemoed drasties kan lig, en die simptome van depressie, angs en spanning kan verminder.

  1. Verbeter hartgesondheid

Navorsing toon dat probiotika die hart kan help deur die lae-densiteit lipoproteïen (LDL) te verminder. Ander ondersoeke het getoon dat dit ook kan help om bloeddruk en hoë cholesterol onder beheer te kry.

  1. Help met gewigsbestuur

ʼn Ondersoek het getoon dat 12 weke se gebruik van probiotika gelei het tot ʼn 8,5% vermindering in maagvet. Toe die deelnemers van hierdie ondersoek opgehou het om hul probiotika-aanvullings te drink, het hulle die vet weer binne vier weke opgetel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.