Hondsdolheid, hier is die feite

Foto ter illustrasie. (Foto: Verskaf)

Afrika loop erg deur onder gevalle van hondsdolheid en dit is ongelukkig die armer bevolkings in landelike gebiede van dié vasteland wat die grooste las van die siekte dra.

Hondsdolheid is egter ʼn voorkombare virus wat met ʼn entstof gekeer kan word. As mense en diere egter kliniese simptome van die virus toon, is hondsdolheid feitlik 100% dodelik.

“Hondebyte veroorsaak bykans alle gevalle van hondsdolheid in Suid-Afrika en inentings van honde is die doeltreffendste manier om die risiko van hierdie siekte vir mense en honde te verminder.

Plaaslik is die siekte steeds teenwoordig, veral in landelike gebiede waar honde dikwels nie teen die virus ingeënt word nie. Daarbenewens kom hondsdolheid algemeen voor by rondloper- of wilde honde en katte,” sê dr. Guy Fyvie, ʼn veearts en adviseur by Hill’s-troeteldiervoeding.

Daar was onlangs ʼn uitbreking van hondsdolheid in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, een van die ergste wat nog in die Oos-Kaap gesien is. Dit was ʼn kommerwekkende aanmaning dat hoewel daar beproefde strategieë om die siekte te bestry en te voorkom, dit nie altyd geprioritiseer en daarin belê word nie. Staats- en private veeartse, wat probeer om die uitbreking te bekamp, ​​sê dat die 70 bevestigde gevalle wat tot dusver aangeteken is, slegs ʼn druppel aan die emmer is omdat meeste gevalle nie aangemeld word nie.

Die Oos -Kaapse regering is tans besig met inentings in die Port Elizabeth- (Gqeberha) omgewing en die Buffalo City-munisipaliteit (Oos-Londen). Die regering werk ook saam met private veeartse en dierewelsynsorganisasies om te help met die inentingsprogram.

In Suid-Afrika is dit verpligtend dat troeteldiere teen hondsdolheid ingeënt moet word. Honde en katte moet hul eerste hondsdolheidinentings voor drie maande oud kry. Hulle ontvang hul tweede inenting op drie maande, ʼn derde binne 12 maande en daarna jaarliks.

Hondsdolheid word versprei na mense en ander diere deur kontak met speeksel of weefsel van besmette diere, skrape, bytwonde, die lek van gebreekte vel en slymvliese van die lippe of oë. Dit is veral kinders wat die risiko loop om met diere wat deur hondsdolheid besmet is in kontak te kom omdat hulle meer geneig is om met diere te speel.

“Geaffekteerde diere verloor ook hul vrees en sal mense en plekke nader wat hulle gewoonlik nie doen nie. Ouers moet hul kinders dus fyn dophou en hulle in alle gevalle ontmoedig om interaksie te hê met wilde, verdwaalde of onbekende diere wat abnormaal optree,” verduidelik Fyvie.

Hy gee ʼn paar wenke om jou gesin teen hondsdolheid te beskerm:

  • Moet nooit ʼn kans waag nie. As jy gebyt of gekrap word of in aanraking kom met ʼn dier se speeksel, verwag die ergste en volg die behandelingsprotokol soos voorgeskryf deur die gesondheidswerkers. Daar is eenvoudig niks wat gedoen kan word sodra die simptome verskyn nie.
  • Maak seker dat jou troeteldiere se inenting teen hondsdolheid op datum is en laat jou troeteldier inent as jy in ʼn onmiddellike gebied van ʼn uitbreking is.
  • Moet nooit toelaat dat jou troeteldiere in die strate rondloop nie.
  • Moenie toelaat dat jou troeteldiere met onbekende diere in kontak kom nie. ʼn Dier kan besmet raak deur met ʼn ander dier te veg, selfs oor ʼn heining.
  • Moenie verdwaalde honde of katte nader nie, veral as hulle abnormale gedrag toon, soos om aggressief te wees.
  • Kontak die gesondheidsowerhede onmiddellik as jy vermoed dat ʼn dier besmet is. Moenie probeer om die dier self te beperk nie.
  • Maak ʼn skenking aan ʼn welsynsorganisasie wat in uitreikprogramme teen hondsdolheid inent. Hoe hoër die ingeënte bevolkings van diere, hoe minder is die kans op ʼn uitbreking.

“As troeteldierouers moet ons almal ons deel doen om bewustheid te verhoog en die dood deur hondsdolheid in Suid-Afrika te verminder. As hondsdolheid nie doeltreffend beheer word nie, kan dit weer ʼn ernstige gesondheidsbekommernis word,” voeg Fyvie by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.